Lede van bende-eenheid deur hul kollegas aangekeer

Beamptes van die teenbende-eenheid (AGU) van die SAPD (Foto: GCIS)

Speurders van die nuutgestigte anti-bende-eenheid in Kaapstad het Dinsdag twee polisiebeamptes van dieselfde eenheid in hegtenis geneem op aanklag van diefstal.

Kapt. FC van Wyk, woordvoerder van die polisie, het gesê die inhegtenisnemings volg ná ʼn ondersoek oor ʼn klag van diefstal toe die eenheid onlangs ʼn klopjag uitgevoer het in Mitchell’s Plain.

Die twee konstabels, ʼn 35-jarige man en ʼn 38-jarige vrou, wat betrokke is by die Wes-Kaapse anti-bende-eenheid se sigbare polisiëringsafdeling, word daarvan beskuldig dat hulle geld uit ʼn huis in Peugeotstraat, Beacon Valley, gesteel het toe hulle op 29 November ʼn soektog uitgevoer het.

Die klaer het ontdek dat geld uit ʼn kluis in sy huis verdwyn het ná die beamptes die huis verlaat het, en het die saak by die polisie aangemeld. Daar word ook beweer dat die twee konstabels weer die klaer op 2 Desember genader het en hom versoek het om die saak teen hulle terug te trek, as hulle dit sou terugbetaal.

Die twee verdagtes bly in aanhouding totdat hulle Donderdag in die hof in Mitchell’s Plain sal verskyn op aanklag van diefstal.

Lt.genl. KE Jula, provinsiale polisiekommissaris, het gesê die polisie sal nie enige vorm van korrupsie in die eenheid toelaat nie. “Geen polisiebeampte is bo die wet verhewe nie en ons sal nie ons lede toelaat om ʼn misdaad te pleeg en daarmee wegkom nie. Ons is vol vertroue dat dié inhegtenisnemings ʼn sterkwaarskuwing sal stuur.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Koos de Meyer. ·

Nou ja, hoe kan ons ons mede landsburgers wat polisie is vertrou. Wat ‘n skande. Dit kom al meer en meer voor.

Stripes ·

Het nou nie die nodige inligting nie maar ek wonder maar net hoekom die kluis dan nie gesluit was nie?

leser ·

sterk waarskuwing om ander te ontmoedig, hulle steur hul nie daaraan nie, hulle sal nogsteeds aangaan met hulle duiwelsplanne

Stripes ·

Dit wil vir my voorkom asof ‘n klomp van die AGU lede net die huis ingegaan het en elkeen het gekrap waar dit wou want hulle is mos die AGU. Dui vir my op ‘n duidelike gebrek aan kennis en ondervinding. Hierdie keer is geld vermis, volgende keer word “bewyse” geplant en hulle gaan baie moeilik die teendeel bewys. Hul optrede en metodes moet ten alle tye “hof-georiënteerd ” wees. In die geval was dit duidelik nie en ek plaas die blaam vir die insident op die offisier in bevel van die deursoekingsoperasie.

Poot ·

SIES MAN!!!!
Ek skaam my vir julle. Julle plaas ‘n klad op ons hard werkende en eerlike polisie beamptes!!!!!!!

SIES!!!!!!! Skuim

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.