Lede van publiek help ‘kapers’ vastrek

Argieffoto

Lede van die publiek in King William’s Town in die Oos-Kaap het Donderdag gehelp om twee vermeende vragmotorkapers vas te trek.

Volgens kol. Priscilla Naidu, woordvoerder van die polisie, het twee polisiesersante die kaping voor hul sien afspeel toe hul motor ’n paar meter agter ’n afleweringsvragmotor by ’n verkeerslig in die Sidwell-omgewing van die dorp tot stilstand gekom het.

Die beamptes het onraad vermoed toe hulle twee verdagte persone na die vragmotor sien hardloop het. Die verdagtes het by die verkeerslig aan die passasierskant van die vragmotor ingeklim en ’n vuurwapen op die bestuurder van die vragmotor gerig.

Die kapers het die bestuurder uit die vragmotor geboender, waarna die beamptes uit hul motor gespring het om te help.

Die twee verdagtes het uit die vragmotor gespring toe hul die beamptes sien naderkom en een van hulle het ʼn vuurwapen op die beamptes gerig. Die beamptes het in reaksie ’n skoot afgevuur en die twee kapers het in verskillende rigtings laat spaander.

Lede van die publiek wat in die omtrek was, het die skoot gehoor en kon sien dat die beamptes die verdagtes agternagesit het.

Een van die verdagtes (24) is tydens die konfrontasie raakgeskiet en het in die weghardloop gestruikel. ’n Lid van die publiek het die verdagte teen die grond vasgepen terwyl ander sy makker agternagesit het.

Die ander verdagte (28) is later ongedeerd gevind waar hy in Wilsonstraat weggekruip het.

Daar is beslag gelê op ’n 9mm-vuurwapen en albei verdagtes is op die plek in hegtenis geneem.

Genl.maj. Thembisile Patekile, bevelvoerder van die Mount Road-polisiegroepering, het die publiek asook die beamptes vir hul spanwerk geloof. “Dit is ongelooflik hoe almal gehelp het om die verdagtes agterna te sit. Hoewel een van die verdagtes gewapen was, het dit die lede van die gemeenskap nie gekeer om seker te maak dat die verdagtes nie wegkom nie.

“Die stryd teen misdaad is nie net die polisie se verantwoordelikheid nie en ons moedig die gemeenskap aan om ʼn aktiewe rol in die voorkoming van misdaad te speel en verdagte en kriminele aktiwiteite aan te meld.”

Die verdagtes sal op 30 Julie in die hof verskyn op aanklagte van poging tot vragmotorkaping, die onwettige besit van ʼn vuurwapen en die onwettige besit van ammunisie.

Die vragmotorbestuurder het tydens die onderonsie weggery en nog nie intussen by ’n polisiestasie aangemeld nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Linda ·

Dis altyd goeie nuus wanneer kriminele gevang word. Ek hoop iemand het die besonderhede van die vragmotor geneem want wat is ‘n aangeklaagde sonder ‘n bewysstuk?

Santjie ·

Dis baie braaf van die publiek – maar ek kan nie help om te wonder nie… is dit die generaal wat sê dat dit nie net die polisie se verantwoordelikheid nie….. excuse me sir, maar wat IS die polisie se verantwoordelik dan?

LB S ·

Net weggery en dit ook nie rapporteer nie? Klink eerder of hy ‘n aandeel hierin gehad het. Kamtig gekaap!

John ·

… en hy ry toe weg… dalk is daar nog ‘n stukkie van die verhaal uitstaande. Die publiek kan nie nou die polisie se werk doen nie. Veral nie wanneer hulle ongewapen is nie. Sodra ‘n buitestaander beseer word, gaan die gereg sy hande in onskuld was.

Bernard ·

Die berig is baie deurmekaar; praat van King Williamstown maar praat dan weer van Sidwell in Port Elizabeth and Mount weg polisie……

Andre ·

Santjie, die polisie is nie Sieners, Waarseers en Super wesens nie hulle is afhanklik van die publiek se hulp. Watter manier ookal.

Anoniem ·

Baie vinnige optrede, verdien ‘n medalje ! Die Goeie sal altyd OORWIN oor die bose – gooi weg die sleutels – ver weg !!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.