Lede van vermeende diefstalsindikaat vas

polisie-huisroof-crime

(Argieffoto: SA Polisie)

Sewe lede van ʼn vermeende diefstalsindikaat wat op winkels in Swartruggens in Noordwes toegeslaan en dit glo besteel het, het Donderdag in die dorp se landdroshof verskyn.

Kol. Adéle Myburgh, polisiewoordvoerder, sê die verdagtes, tussen die ouderdom van 23 en 38 jaar, is Maandag by hul wegkruipplek in Borolelo buite Swartruggens, vasgetrek.

“Polisielede het inligting ontvang oor die sindikaat wat oënskynlik saamgesweer het om by ʼn klerewinkel en ʼn nabygeleë supermark op die dorp in te breek. Hulle het later die aand op hierdie winkels toegeslaan en daarna na hul wegkruipplek gevlug,” sê Myburgh.

“Die polisie het intussen egter die [ligging van die] verdagtes se wegkruipplek bepaal en hulle daar gaan vastrek.”

Die polisie het die huis dopgehou, die huis binnegegaan en die sewe verdagtes in hegtenis geneem. Hulle klere was nat en modderig.

Die gesteelde klere en kruideniersware is ook in die huis gekry.

Die verdagtes het Donderdag in die hof verskyn op aanklag van die besit van vermoedelik gesteelde goedere en inbraak.

Hulle sal na verwagting weer volgende Vrydag in die hof verskyn. Hulle bly tot dan in aanhouding.

Lt.genl. Sello Kwena, provinsiale polisiekommissaris in Noordwes, het die polisie geloof vir hul harde werk om die verdagtes so vinnig vas te trek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.