Leefstyloudits amper klaar, sê Ramaphosa

Pres. Cyril Ramaphosa (Foto: Siyabulela Duda/GCIS)

Leefstyloudits op pres. Cyril Ramaphosa se kabinet is aan die gang en sal binnekort afhandeling bereik.

Ramaphosa het Dinsdag tydens ʼn vraag-en-antwoordsessie in die Nasionale Vergadering (NV) in antwoord op ʼn vraag van John Steenhuisen, DA-leier, gesê ná verskeie vertragings is leefstyloudits wel aan die gang en die proses word deur die direkteur-generaal in die presidensie gelei.

Hy, sy adjunk, ministers en adjunkministers dien tans bykomende inligting in wat vir hierdie oudits vereis word, het Ramaphosa gesê.

“Soos ek voorheen aangedui het, is die doel van ʼn leefstyloudit om soveel moontlik inligting oor ʼn individu se leefstyl in te samel om te kan identifiseer wanneer iemand se uitgawes sy of haar inkomste oorskry. Op sigself is ʼn leefstyloudit nie voldoende nie, maar dit kan daarop dui dat verdere ondersoek nodig is om vas te stel of daar enige oortreding is.”

Steenhuisen het in reaksie op Ramaphosa se antwoord gesê leefstyloudits word reeds sedert 2018 beloof en is net nog ʼn leë belofte. Hy het gesê indien die oudits vroeër uitgevoer is, sou die bewerings van korrupsie teen adj.pres. Paul Mashatile vroeër aan die lig gekom het. Steenhuisen het ook bygevoeg die versuim om die oudits uit te voer het die beweerde korrupsie van Nosiviwe Mapisa-Nqakula, speaker van die NV, “gefasiliteer”.

Ramaphosa het bloot hierop geantwoord dat die kwessie van leefstyloudits lank gevat het, maar dat dit aangepak word en afhandeling bereik.

Volgens Ramaphosa is daar weens kostebeperkingsmaatreëls in die regering besluit om kapasiteit binne die kantoor van die direkteur-generaal uit te brei om die leefstyloudits uit te voer.

Die kantoor van die direkteur-generaal moes aldus Ramaphosa bekwame en vaardige personeel kry met ondervinding in die uitvoer van leefstyloudits. Dit het langer geneem as wat verwag is, wat ʼn negatiewe uitwerking op die tydlyn vir die oudits gehad het.

“Dit is die eerste keer dat die nasionale regering leefstyloudits van lede van die uitvoerende gesag doen, wat vereis dat nuwe stelsels, prosesse en metodologieë ontwikkel moet word.”

Die direkteur-generaal sal besluit op die mees geskikte manier om die uitkomste van die oudits bekend te maak sodra dit voltooi is, het Ramaphosa gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Hannes ·

“Leefstyloudits“ beteken net mooi niks, niemand gaan tronk toe nie wat hulle is almal “innocent”

Republikein in die Wes Kaap ·

Wat het gebeur met die DA se verslag aan Ramaphosa rakende Paul Mashatile se sake? Niks.

Jack ·

Ja en ons moet jou glo ? Jou geloofwaardigheid het jare terug al in die grond geduik.Dink maar weer.

Wondermaarnet ·

Hierdie vraag en antwoord sessies help net mooi niks as CR nie vrae eerlik beantwoord nie. Systap vrae wanneer dit hom pas. Hy pas so sy kadertjies op.

Marthinus Johannes ·

Al die nuwe wetsontwerpe wat die afgelope maand of wat deur due NV goedgekeur is gaan kort voor die verkiesing geteken word deur CR (sodra Hy sy pen gevind het) Max invloed op kiesers en te laat om dit te keer. Enige ander party wat aan bewind mag kom gaan probleem of grootskaalse rebellie op hand hê as hulle dit Wil verander.

tweeling ·

Laat die oudits ekstern gedoen word dan sien ons die ware feite.

Papsak ·

Ja lieg altyd en hierdie is net verkiesings prasitjies wil hom last goed lyk en voorkom !!!!?

Etienne ·

Die “vertragings” is sodat die hele kabinet hulle finansies en ander “nice to haves” kan gaan wegsteek… niks ander nie. Op enig vorm van lifestyle oudit sal hulle almal faal want hulle is almal skelm.

Ria ·

Hoe deursigtig was hierdie kamtige oudits en deur wie is dit gedoen

Andre ·

…ek wonder of CR se rusbank op Phaala-Phaala ook ge- oudit is?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.