Leer by myn om veldbrande te beheer

Foto ter illustrasie. (Foto: Maroela Media)

In hierdie droë tyd voor die lentereën aanbreek (as dit wel gaan reën) is verwoestende brande deurlopend besig om gedeeltes van die Noord-Kaap te verswelg.

Volgens Juan Hohne, uitvoerende hoof van Ekapa-myn in Kimberley, kan die boerderygemeenskap egter heelwat meer doen om hierdie katastrofes te verhoed voor dit soveel skade aanrig.

“Ons is al 150 jaar besig om in die gebied te myn en ons beplan om nog 20 jaar of wat met ons operasie aan te gaan. Ons is derhalwe verbind tot die gemeenskap om ons, om deurlopend ʼn gesonde omgewing te verseker en veral die natuur te beskerm wat baie na ons harte is,” sê hy.

Hy het dit tydens ʼn webinaar oor veldbrande gesê, wat deur Just One Drop in samewerking met Agri Noord-Kaap, GWK, Ekapa-myn en Landbouweekblad aangebied is.

Hy sê die myn het ook jagplase en hy kan sien hoe sleg dit daar gaan. Volgens sy kennis het daar 110 000 ha net rondom Kimberley afgebrand en ʼn verdere vier brande waarin 400 000 ha afgebrand het.

Hohne het self ses brandspanne, twee watertenkers en ‘n padskraper gestuur om die plaaslike brandvereniging te help.

“Tydens ons betrokkenheid het ons met baie boere in die omgewing gesels en dit het uitgekom dat daar nie voldoende koördinering was, asook ʼn bewustheid van die strukturele omvang van die brande nie, of hoe om die brande te hanteer nie.

“Ek wil nie op boere se tone trap nie, maar daar is nog heelwat meer wat boere kan doen om sulke katastrofiese brande vroegtydig te bekamp.”

“Daar was wel honderde voertuie met vuurvegters en spuite en dit was ongelooflik om te sien hoe hard daar baklei is en alles moontlik gedoen is om die vure te blus. Al wat ontbreek het was voldoende beplanning en koördinasie.”

Wat hom veral opgeval het is dat die mense wat voorbrande gemaak het se vuurhoutjies op ʼn stadium opgeraak het en daar was ook nie voldoende vuurmaaktoerusting om die voorbrande vinniger en meer doeltreffend te maak nie.

Hy sê daar moes ook verkenningsvliegtuie op bystand, of in die lug gewees het wat die brande vroegtydig kon opspoor en derhalwe die brandspanne vinniger daarheen kon lei.

“Daar is so baie meer wat gedoen kan word om voorbereid te wees.”

Hy sê boere kan nie op die brandweer, weermag of lugmag steun nie. Hulle reageer net as menselewens in gevaar is, maar wat van die vee en ander diere wat in die veld doodbrand? As jy ʼn vinnige som maak deur een meduimvee-eenheid vir elke drie ha bymekaar te tel, kom jy op 100 000 dierelewens uit. Dit is ʼn absolute katastrofe.

Working on Fire is ‘n professionele organisasie wat toegerus is on veldbrande te beheer. (Foto: Verskaf)

“Wat oorbly is dat ons almal bymekaarkom en as ʼn holistiese eenheid saamwerk.

“Ek glo daar is baie brandverenigings wat volgens die Nasionale veld en bosbrandwet van 1998 gestig is. Die vraag is of hulle almal saam en doeltreffend kan werk.

Hy sê die suksesvolle Working on Fire-brandbestrydingsorganisasie wat in die Wes-Kaap gestig is en deur die staat gefinansier word, het bewys dat omvangryke en professionele dienste moontlik en dat dit oral ingestel moet word. “My maatskappy was betrokke by die blus van die groot brande in Knysna en het saam met Working on Fire gewerk wat ook water uit die lug uit gegooi het. Hulle was baie suksesvol en daar sou baie meer drastiese gevolge gewees het as hulle nie betrokke was nie.

Op ʼn vraag wat hy sou doen, het hy gesê by die myn het hulle geleer dat voorsorg beter is as nasorg en dat hulle ʼn branddepartement het wat saam met die omgewingspanne werk. “Ons het gebeurlikheidsplanne en stelsels in plek wat enige risiko’s vir die bedryf en infrastruktuur, soos brande, betyds kan identifiseer, koördineer en mitigeer.

“Ons spandeer en implementeer meer as wat normaal is, sodat ons voorkomend kan optree. Ek besef wel dat baie van die vure moedswillig gestig word en dat goeie sekerheid en intelligensie broodnodig is en dat opvolgwerk noodsaaklik is.”

Nicol Jansen, president van Agri-Noord-Kaap het gesê hy stem saam dat boere meer kan doen om brande suksesvol te bekamp. “Dit wys ons dat dit waarmee jy nie elke dag besig is nie ook in plek moet wees sodat dit gereed is wanneer die onvoorsiene gebeur, wanneer jy dit nodig het.”

Daar word ‘n beroep op boere gedoen om hulle brandbestrydingstoerusting slaggereed te hou. (Foto: Maroela Media)

Hy het bygevoeg dat boere graag wil boer en nie belangstel om brandweerman te speel nie. “Ons wil eerder belasting betaal sodat ‘n doeltreffende regering daarvoor kan sorg.”

Jy kan help om die verwoestende brande in die Noord-Kaap te help blus, deur Agri Noord-Kaap se webwerf te besoek.

*Die berig is gewysig sedert dit aanvanklik gepubliseer is. -Red

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Di ·

In hierdie land is elkeen op sy eie mishoop. Die korrupte regering het geen belangstelling om boere by te staan, te beskerm of ENIGE hulp te verleen nie. Te besig om te kyk waar hulle volgende geld kan verduister, glo my dis wat hulle die beste doen!

JohanCzu ·

Dis nogal lagwekkend as ‘n myn brandbestrydingsopleiding moet gee, wat eintlik die brandweer se werk is. Om te beweer die brandweer tree net op as menselewens in gevaar is mag dalk nou waar wees, maar in die ou Suid Afrika was dit verseker nie die geval nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.