Leerder geopereer ná taxi-ongeluk

Alexis Timmerman. (Foto: Verskaf)

Alexis Timmerman (12) het Woensdag ʼn geslaagde operasie aan haar arm ondergaan nadat sy verlede Vrydag deur ʼn minibustaxi voor die Laerskool Wierdapark in Centurion raakgery is. Die operasie is moontlik gemaak deur talle barmhartige samaritane wat hul harte én beursies oor die afgelope week vir dié laerskoolleerder oopgemaak het.

Alexis is dieselfde dag uit die Cure Care-hospitaal in Erasmuskloof ontslaan en sterk tans by die huis aan waar haar ouma, Marinda Merryweather, haar versorg.

Maroela Media het vroeër berig dat derduisende rande ingesamel is sodat Alexis by ʼn private hospitaal geopereer en behandel kan word. Dít volg nadat sy ʼn erge traumatiese ervaring by die Kalafong-hospitaal in Pretoria, waar sy aanvanklik opgeneem is, moes deurmaak.

Alexis het haar boarm tydens die ongeluk op twee plekke gebreek en ook ʼn besering aan die weefsel in haar knie opgedoen.

Merryweather sê hulle het nie besef hoe seer haar knie werklik gekry het nie, en dat baie bloed vandeesweek gedreineer moes word. Sy loop met behulp van ʼn kruk aangesien haar been in ʼn stut is.

Merryweather sê hulle skerts lekker en verwys na die kruk as Alexis se “derde been”.

Sy sê hoewel dit baie goed gaan met haar kleindogter, besef sy dat sy steeds deur die voorval getraumatiseer is.

Alexis Timmerman ná die operasie. (Foto: Verskaf)

“Sy droom van die ongeluk en skrik dan uit haar slaap wakker. Sy sal waarskynlik volgende week met berading begin. Sy het ook maar nog pyn en moet haar arm en been oefen sodat dit nie styf raak nie.”

Alexis sien Maandag weer haar dokter en sal ook met fisioterapie aan haar been en arm begin.

“Ons weet daar lê nog ʼn lang herstelpad voor, maar glo dat dit van hier af net beter sal gaan.”

Harte van dankbaarheid

Merryweather sê hulle sal nooit genoeg kan dankie sê aan die mense wat Alexis gehelp het en steeds bystaan nie.

Benewens die duisende rande wat vir haar mediese onkoste en behandeling ingesamel is, het haar dokter die operasie gratis behartig. Hy verkies egter om anoniem te bly.

“Ek was stomgeslaan deur almal se bereidwilligheid om geld te skenk of op ander maniere te help.   Ek het nie woorde om te beskryf hoe dankbaar ons is nie.”

Volgens Merryweather is Alexis net so oorstelp en sê dat sy nie besef het hoe baie mense haar liefhet nie.

“Al die eer kom God toe wat sy engele oor ons pad gestuur het.

“ʼn Mens besef nie hoeveel mense vir mekaar omgee en hoe hulle bymekaar kan staan tot jy in só ʼn situasie beland nie. Dit laat jou ook opnuut besef dat God altyd ʼn plan het – dat jy nooit hoef te vrees nie, want God is altyd daar en sal jou nie in die steek laat nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Smirre ·

Wonderlik om te hoor, alle sterkte vir jou Alexis. Om aan ‘n mediese fonds te behoort is krities deesdae, maar ai dit is so duur! vraag is hoe duur is iemand se lewe, kiesers skrik wakker asb!

Sterkte met jou herstel pad vorentoe!

Heinrich ·

Is baie dankbaar alles het goed uitgedraai. Indien die ANC hulle nasionale gesondsheidsplan sal ons almal berading en buitelandse kenners nodig hê; hulle stel mos nou die standaard van wat hulle beplan.

SlinkseKoljander ·

Goed om te sien dit ons saam staan teen die klomp patetiese ANC mense.

Sterkte meisiekind!

JohanR ·

Wat het of gaan met die taxibestuurder gebeur? Hulle dink moes nie pad reels is vir hulle bedoel nie!

JOHAN ·

Niks, die ouma het reeds vertel die kind was verkeerd deur oor die pad te hardloop.

Nommer 7 ·

Die taxi bestuurder was die eerste persoon om hulp aan Alexis te verleen. Hy dra geen skuld nie.

Nommer 7 ·

Ek verneem die betrokke ortopeet doen gereeld gratis operasies op veral kinders. Dankie dokter. Mag God u seen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.