Leerder hoor dán van borgtog ná medeleerder se mesdood

Die Forest High School in Forest Hill, Johannesburg. (Foto: Google Maps)

Die leerder wat daarvan beskuldig word dat hy ’n medeleerder vroeër vandeesweek buite die Forest High School in Forest Hill in die suide van Johannesburg doodgesteek het, se aansoek om borgtog is Donderdag in die Johannesburg-landdroshof uitgestel.

Die 19-jarige Muhammad Mowela sal tot eerskomende Maandag in aanhouding bly wanneer die landdros sy besluit oor die borgtogaansoek bekend sal maak.

Mowela is Maandag in hegtenis geneem nadat die 16-jarige Daniel Bakwela buite die skool aan sy wonde beswyk het. Twee ander leerders het ook steekwonde in die voorval opgedoen en is na ʼn hospitaal gehaas. Die leerders is onderskeidelik 15 en 16 jaar oud.

Maroela Media het vroeër berig daar word in dié stadium beweer dat die betrokke leerders Vrydag baklei het en die bakleiery Maandag buite die skool voortgesit het.

Mowela is enkele ure ná die voorval in Dobsonville in Soweto in hegtenis geneem.

Die staatsaanklaer het aan die hof gesê die oortreding waarvan Mowela beskuldig word, is dié van ʼn skedule vyf oortreding en dat die staat nie borgtog teenstaan ​​nie. Beëdigde verklarings deur Mowela en die ondersoekbeampte is sedertdien saamgestel en by die hof ingedien.

Mowela het in sy beëdigde verklaring, wat deur sy regsverteenwoordiger, Mudi Mavhengani, in die hof voorgelees is, gesê hy is afhanklik van sy familie en dat tronkstraf sy studies sal beïnvloed aangesien hy tans ʼn gr. 11 leerder aan die skool is.

Mowela het gesê hy beplan om onskuldig te pleit.

Mowela het getuig dat hy vooraf geweet het dat Bakwela en die ander twee leerders lede van die Stouter Kinders-bende is. Hy het aan die hof gesê dat hy nie met die mes skool toe gegaan het nie, maar die mes opgetel het nadat Bakwela dit per ongeluk laat val en toe Mowela aangeval het. Hy het gesê hy het toe die mes opgetel en Bakwela gesteek terwyl hy homself probeer beskerm het. Hy hou vol sy optrede was uit selfverdediging.

Die ondersoekbeampte het op sy beurt in sy beëdigde verklaring gesê dat Bakwela al voorheen deur Mowela aangerand is. Hy het gesê Mowela het Bakwela gesteek en ook twee ander seuns beseer. Hy het gesê Mowela is later in Soweto by sy tannie se huis in hegtenis geneem.

Die ondersoekbeampte het gedurende vandag se hofverrigtinge gesê hy glo nie dat Mowela ʼn vlugrisiko is nie, ondanks die feit dat hy familie in Tanzanië het. Hy het ook gesê dat Mowela nie kan terugkeer na die gemeenskap waar Bakwela vandaan kom óf die skool nie aangesien dit moontlik sy veiligheid in gedrang kan plaas.

Die ondersoekbeampte het gesê hy het met Steve Mabona van die Gautengse departement van onderwys gepraat en hulle het ooreengestem dat ʼn reëling getref sal moet word om Mowela vir sy eie veiligheid na ʼn ander skool oor te plaas.

“Ons het die distrik geraadpleeg en volgens wetgewing moet die beskuldigde ʼn regverdige verhoor gegee word. In hierdie geval sal die skool die leerder skors, maar hy sal die geleentheid kry om sy eksamens te skryf,” het Mabona in sy getuienis gesê.

Die saak is tot Maandag uitgestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

James ·

Maar hy sal gelentheid kry om eksamen te skryf. Hy vermoor iemand en gaan borgtog kry en sy eksamentjie skryf…. lekker land die.

Colleen ·

Hy gaan serker nog deurgesit word ook. Met moord gedagtes en die beplanning van onheilighede is daar seker nie tyd om te leer nie. Sluit dit toe of bring terug die doodstraf. Daar is nie plek in die samelewing vir hom nie. Hy sal dit weer doen en sy motief probeer regverdig.

Hanlie ·

Hoe op dees aarde kry jy dit reg. N kind van 19 wat ander doodsteek en hulle wil om na ander skool oorplaas. Hy het sy regte op onderwys verbeur duer moord te pleeg. Hy het dit al voorheen gedoen. Stuur hom na ander skool en dan doen hy dit maar weer, want hy sien hy kan wegkom daarmee. Nee aarde

Alex ·

Ai! Lees julle mense dan nie die berig reg nie? Hy het niks voorheen gedoen nie. Dit is die vermoorde wat hom voorheen al aangeval het en in ‘n bende is.

Sarie ·

Die kind wat vermoor is het nie die geleentheid gekry om sy eksamens te skryf nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.