Leerder se gidshond pronk met erebalkie

Leila en Sakura is onafskeidbaar [Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media]

In die gange van die Afrikaanse Hoër Meisieskool in Pretoria word Leila Dürr (18) in ʼn rolstoel deur een van haar klasmaats gestoot en langs haar loop haar geliefde gidshond, Sakura. Leila ly aan ʼn seldsame siekte wat progressiewe senuweestelselskade en bewegingsprobleme veroorsaak en Sakura is dié matrikulant se regterhand om haar met alledaagse takies te help.

Ná twee jaar ken leerders al dié swart Labrador met haar rooi gidshondjassie. Hulle sal nie skroom om in die gange te vertoef en haar ʼn vryfie op die kop te gee nie. Sy is gaande daaroor omdat sy ʼn aandagvraat van nature is, vertel Leila.

Sakura se naam is vanjaar veral op almal se lippe omdat sy einde verlede jaar erekleure ontvang het vir twee jaar lange goeie dienslewering by die skool. Sy is die heel eerste hond om erekleure by dié toonaangewende Pretoriase skool te ontvang.

Sakura pronk met haar erebalkie op haar jassie [Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media]

“Almal by die skool het gevoel Sakura kort ʼn balkie, want sy is ʼn Affie en het al twee jaar lank goeie diens gelewer. Sy is deel van die Affie-familie,” vertel Leila trots terwyl sy Sakura glimlaggend aankyk. Sakura neem ook nie vir ʼn oomblik haar oë van Leila af nie, nie eens wanneer iemand anders haar roep nie.

“Sy het net oë vir my.”

Leila het Sakura twee jaar gelede by die Gidshondvereniging gekry. Sy was sowat drie jaar lank op die vereniging se waglys vir ʼn gidshond.

“Dit was ʼn proses voordat ek vir Sakura kon kry. Die vereniging moes eers ʼn onderhoud voer om vas te stel wat my behoeftes is en watter hond by my sal pas.”

Met die eerste oogopslag is dit duidelik dat Leila en Sakura ʼn hegte band het. “Sy is as’t ware familie, ek kan nie sonder haar nie en sy kan nie sonder my nie.”

Sakura is ʼn Japanse naam en beteken cherry blossom.

Seldsame siekte

Leila en haar beste vriendin, Elsje de Beer [Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media]

Leila is op die ouderdom van 12 jaar met Friedreich se ataksie gediagnoseer. Dit is ʼn genetiese, progressiewe, neurodegeneratiewe bewegingsversteuring wat tot verswakte spierkoördinasie (ataksie) lei. Die toestand kan pasiënte se spraak, koördinasie en beweging beïnvloed.

Leila se broer wat in graad 8 aan die Afrikaanse Hoër Seunskool is, is ook met dieselfde toestand gediagnoseer.

Volgens die Nasionale Instituut van Neurologiese Versteurings en Beroertes ontwikkel die toestand in jou kinderjare en een uit elke 50 000 mense ter wêreld word met dié toestand gediagnoseer.

Toe Leila op laerskool was, het sy begin agterkom dat haar balans en koördinasie nie na wense is nie.

“Wanneer ons die oggende in die saal gestaan en bid het, kon ek nie my oë toemaak nie omdat ek dan my balans sou verloor. Ek het ook graag gedans en moes dit later laat vaar omdat ek só erg met my balans gesukkel het.”

Ná verskeie toetse het dokters haar toe met Friedreich se ataksie gediagnoseer.

Namate die spiere in haar bene verswak het, het sy al hoe moeiliker begin loop. Sy het eers met ʼn loopstok geloop en in graad 8 met ʼn bromponie tussen haar klasse gery. In graad 9 het sy ʼn rolstoel gekry.

“Ek was aanvanklik bang vir die skuif van laerskool na hoërskool, maar die skool en leerders was baie ondersteunend.”

Leila sê sy leef haar lewe so normaal moontlik ondanks haar toestand. Sy sê die lang uitputtende skoolure is die uitdagendste vir haar omdat sy erge moegheid met haar toestand ervaar.

‘My regterhand’

Sakura is Leila se regterhand [Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media]

Volgens Leila help Sakura haar om voorwerpe op te tel en deure oop te maak. Sy hou haar dagin en daguit ook geselskap. “Dis lekker om heeltyd geselskap by my te hê.”

Sakura het as klein hondjie die basiese gidshondopleiding ondergaan. Sy is onder meer opgelei om te blaf wanneer Leila haar vra om te “praat”. Op só ʼn manier roep sy iemand indien Leila hulp nodig het of geval het.

Leila vertel Sakura se persoonlikheid verander handomkeer wanneer sy haar dienshondjassie uittrek. “Dan is sy net ʼn hond. Sy is energiek en spelerig. Wanneer sy haar jassie aanhet, is sy aan diens en help my waar sy kan.”

Sakura sal gedurende klastyd slaap en is volgens Leila baie rustig in die skoolomgewing. “Almal is mal oor haar. Sy is so rustig en liefdevol.”

Sy hanteer ook die volgepakte gange goed wanneer Leila klasse ruil. “Sy is opgelei om situasies met baie mense te kan hanteer.”

Leila wil ná skool kursusse in sosiale bemarking doen. Sy wil ook vrywillige werk by die Wollies-diereskuiling in Pretoria-Noord doen.

Verder beoog sy en haar ma om oorbelle te maak en volgende jaar by die boeremark te verkoop. Van die geld wil hulle dan aan die Gidshondvereniging skenk. Leila is lief vir ontwerp.

“Ek sal nie toelaat dat my toestand my terughou nie. Ek probeer positief bly, my kop hoog hou en vasbyt. Sakura maak dinge ook aansienlik draagliker.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Anel ·

Dis nou Affiegees en omgee. Baie stetkte, van ‘n oud Affie. Nou die blou!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.