Leerder skiet homself ná ongeluk met vuurwapen

Foto ter illustrasie. (Foto: Equal Education/Twitter)

Twee families is in rou gedompel ná ʼn skietongeluk wat uiteindelik die lewe van twee leerders in Benoni geëis het.

Volgens ʼn verklaring wat deur die slagoffers se families uitgestuur is, het Njabulo Ndhlebe, Zukiso Majola en nog ʼn vriend tydens pouse by Lesiba Secondary School weggeglip om by Zukiso se huis in Daveyton te gaan speel. By die huis wou Zukiso met sy oorlede oupa se vuurwapen spog. Hy het dit tydens die Desembervakansie uit sy oupa se huis verwyder sonder sy ouers se medewete.

“Om sy vriende te beïndruk het Zukiso die vuurwapen gelaai en daarmee begin speel. Dit het per ongeluk afgegaan en Njabulo agter die oor getref,” lui die verklaring. Die derde kind het groot geskrik en huis toe gehardloop.  Zukiso is agterna om by hom te pleit om hom te help. Die geweerskoot en die hardlopende seuns het die bure se aandag getrek en lede van die gemeenskap het uit hul huise gekom om te hoor wat aangaan.

Vreesbevange het Zukiso huis toe gehardloop en uit pure angs die garagedeur toegemaak en die wapen gebruik om homself in die kop te skiet.

“As ouers van die twee treurende families is ons in diep hartseer en rou gedompel oor die verlies van ons twee seuns. Die drie seuns was die afgelope paar jaar beste vriende. Daar was op die dag geen onderonsie tussen die seuns nie en hulle was al drie goeie tienerseuns,” lui die verklaring.

“Die eerste dood was ʼn tragiese ongeluk en die tweede is veroorsaak deur vrees en paniek. Albei families het reeds verskeie vergaderings gehad en saam gebid en sal aanhou om dit te doen tot die begrafnis.”

ʼn Roudiens vir die twee seuns sal eerskomende Dinsdagoggend by die skool gehou word

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.