Leerder sterf tragies tydens raakrugby

Jayden Lee Daniels was ‘n gr.11-leerder aan Hoërskool Waveren (Foto: Hoërskool Waveren, Facebook(

Hoërskool Waveren in Tulbagh, Wes-Kaap, is geruk ná die dood van ’n gr. 11-leerder wat Dinsdag tydens ’n raakrugby-wedstryd inmekaargesak het.

Jayden Lee Daniels (19) en sy vriende het tydens pouse raakrugby gespeel toe die voorval plaasgevind het.

Volgens sers. Wesley Twigg, polisiewoordvoerder, is die omstandighede van Daniels se dood in hierdie stadium nog nie bekend nie en ’n geregtelike doodsondersoek is geopen.

“’n Nadoodse ondersoek sal die oorsaak van Daniels se dood bevestig,” het Twigg gesê.

Hoërskool Waveren het op Facebook hulde aan Daniels gebring.

“Ons sal jou altyd onthou as ’n vriendelike, respekvolle en ’n baie netjies jong seun. Iemand met ’n voorliefde vir sport. ’n Rolmodel vir jou medemaats en vele ander,” het die skool geskryf.

Boodskappe van skok en medelye het van Dinsdag af vir Daniels op sosiale media ingestroom.

“Hoërskool Waveren was nooit so geruk met so u tragedie nie. Ek glo nie dat hierdie pyn ooit sal weggaan nie, maar God sal op sy tyd genesing laat geskied. Jayden-Lee Daniëls, jy sal tot in ewigheid in ons hartjies bly,” skryf Elzenay Shadé Schippers.

’n Gedenkdiens is Woensdag vir Daniels by die skool gehou [Foto: Hoërskool Waveren, Facebook]

“God kom pluk altyd sy mooiste blommetjie. Ons as jongelinge voel eintlik die seerste, om iemand te verloor wat in baie mense se harte kom inkruip het, met daai mooi glimlag van hom,” skryf Lee Eurlin Paulse.

Franita Daniels skryf hoe Daniels haar nog Dinsdagoggend met ʼn glimlag gegroet het en toe nie lank daarna heengegaan het nie.

Bronagh Hammond, woordvoerder van die Wes-Kaapse departement van onderwys, het namens die departement medelye aan Daniels se familie, vriende en skoolgemeenskap betuig.

“Beradingsdienste sal aan personeel en leerders beskikbaar gestel word,” het Hammond bevestig.

’n Gedenkdiens vir Daniels is Woensdag by die skool gehou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Skappie ·

Jammer om te hoor van Jayden. Mag onse Liewe Heer sy gesin en vriende styf in Sy arms vashou deur hierdie moeilike tyd.

Swerwer ·

Sò tragies. Innige meegevoel en simpatie met sy familie en vriende.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.