Leerder verdrink tydens seminaar

Argieffoto: Unsplash

’n Leerder aan ’n hoërskool in Noordwes het Saterdag tydens ’n lewensvaardigheidseminaar vir seuns verdrink toe hy oor middagete glo ongesiens in ’n swembad gespring het terwyl die ander seuns sokker gespeel het.

Die jong man (21) was ’n gr. 11-leerling aan Michael Modisakeng Secondary School in Majakaneng naby Brits.

Elias Malindi, woordvoerder van die provinsiale departement van onderwys, sê 92 seuns het die naweek ’n seminaar by die Sparkling Waters-hotel naby Rustenburg bygewoon. Aktuele kwessies soos geslagsgebaseerde geweld, voorkoming van tienerswangerskappe en afknouery op skool is tydens dié seminaar bespreek.

“Die leerders was soggens besig met verskillende binnenshuise aktiwiteite en is oor middagete tyd gegun om sokker te speel. Daar word beweer dat die oorledene ongesiens verdwyn en in die swembad gespring het.”

Hotelgaste het die jong man in die water gewaar en die betrokke amptenare van die departement in kennis gestel. Die amptenare het hulle na die swembad gehaas en die jong man uit die water gebring. Noodhulp is op hom toegepas terwyl die amptenare vir ’n ambulans en die jong man se gesin gewag het.

Die jong man is egter by paramedici se aankoms op die toneel dood verklaar.

Mmaphefo Matsemela, LUR vir onderwys in Noordwes, het intussen haar medelye met die jong man se naasbestaandes betuig.

“Hierdie ongelukkige voorval het onverwags gekom.

“Die departement probeer sy bes om seuns op te voed oor alle onderwerpe wat die algemene samelewing negatief raak. Die doel is om seuns te bemagtig om verantwoordelike volwassenes te wees wanneer hulle die skool verlaat.

“Soortgelyke beraad is die vorige week in die Moses Kotane subdistrik aangebied en die plan is om die hele provinsie te dek. Om nou te sien hoe die seminaar so eindig, is werklik tragies.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Kobus ·

Innige simpatie aan die ouers. Wat my pla: Is dit nodig om ‘n konferensie/seminaar oor GBV te hou. Watter insette kan die kinders lewer. Wat is die kostes van die seminaar vir die naweek? Die onderwerp is seer seker ‘n deel van lewensorientering. Klink meer na ‘n uitstappie.

Ann ·

Ek kon nie help om op te let dat die oorledende 21 is nie. Hy moet mos weet hy spring nie sommer in ‘n swembad as hy nie kan swem nie. Ek is jammer vir sy naasbestaandes, niemand wil jou naastes sò verloor nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.