Leerders glo bedwelm, ontvoer by Kaapse skole

skool-skoolskoene-onderwys

Argieffoto.

Die Wes-Kaapse departement van onderwys sê hy het verneem van twee beweerde voorvalle waar leerders bedwelm en glo ontvoer is.

Albei voorvalle het glo die afgelope twee weke in Zonnebloem in Kaapstad plaasgevind. Volgens Debbie Schäfer, Wes-Kaapse LUR vir onderwys, word die leerders glo geteiken wanneer hulle van en na die skool reis.

Sers. Noloyiso Rwexana, woordvoerder van die polisie, het gesê hulle is ook bewus van die bewerings. “As deel van ons inisiatiewe word patrollies rondom skole in Kaapstad gehou, waaronder Zonnebloem.

“In die wintermaande is ons reeds van 04:00 af by skole aangesien talle leerders dan al in die donker afgelaai word. Ons beskou ontvoerings in ʼn baie ernstige lig en doen ʼn beroep op enigiemand met inligting oor die beweerde voorvalle om na vore te kom.”

Volgens Schäfer is daar in een van die gevalle glo ʼn wit bussie gebruik. “Ons het die beweerde voorvalle onder die polisie se aandag gebring en ons maatskaplike werkers is ook in verbinding met die skole.”

Die maatskaplike werker het die twee skole in die Zonnebloem-omgewing besoek om ondersoek in te stel na die beweerde voorvalle en ondersteuning te verskaf. “Dit is ʼn ernstige bron van kommer. Ons het nog nie berigte ontvang dat dit ook in ander gebiede gebeur het nie, maar wil ʼn beroep op ouers doen om versigtig te wees en hul kinders in te lig oor die gevare.”

Schäfer het gesê die departement het die polisie gevra om hul sigbaarheid in die Zonnebloem-gebied te verskerp. “Die skuldiges moet gevang en aangekla word. Die veiligheid van ons leerders is van sleutelbelang.”

Schäfer het ʼn beroep gedoen op die publiek om enige voorvalle by die polisie aan te meld sowel as die Safe Schools-inbelsentrum by 0800 454 647. Leerders, ouers en onderwysers kan ook laasgenoemde nommer skakel vir ondersteuning, berading en raad.

 

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

nannie ·

My vriendin, Mirriam, se dogtertjie van 11 jaar het n mengsel van kensley koeldrank, disprin, grandpa, PSD vir griep en n hoesstroop, by die skool gedrink wat 1 kind vir haar gegee het. Sy het hoe lank met n hoofpyn geloop en toe hul haar by die kliniek kry het die suster vir haar 2 inspuitings gegee en gese sy kon dood gegaan het van die mengsel wat sy gedrink het.

@nannie ·

Meld dit asb aan by die polisie of nr genoem in die berig. Met aanmeld bedoel ek oortuig jou vriendin om dit aan te meld.

Nettie ·

Liewe land, wat soek kinders om 04:00 in die wintermaande, al by hul skole. as die skole eers om 07:30 of 07:45 begin??? Geen wonder verkragtings, ontvoerings en moorde van kinders is vandag alledaagse nuus nie! Toe ek op skool was, het ons nog heerlik gelê en slaap om 04:00.

Toegegee, daar is ook seker ouers wat baie vroeg moet gaan werk en eerder hul kinders by die skole sal gaan aflaai as om hulle alleen tuis te los, maar is dit nie ‘n bron van kommer dat jong kinders só vroeg by die skole is, waar daar dan sekerlik geen toesig is nie en pedofiele/misdadigers op die loer kan lê vir kinders nie?

Stuiwer ·

Wat gaan aan met mense! Jy kan mos nie 04:00 in die oggend ‘n kind by die skool aflaai nie! Daai tyd is kinders nog verorderstel om veilig in hul beddens te wees! Ek kry die kinders die jammerste, maar het al lankal nie meer simpatie met onverantwoordelike ouers nie.

Daan Erasmus ·

Die mense dink nie. Dit is die Kaap. Die treine loop nie. En as hul loop is dit net die helfte wat beskikbaar is. Die busse staak. Die Taxi’s is oorvol. Die bevoorregtes wat uit die hoogte kommentaar lewer weet nie van arm mense se stryd nie. Jou Ma.

Francois le Cochon ·

As jy 5 km moet stap, 2 taxis en ‘n bus vat, en dan nog 2 km moet stap om 8 uur by die werk te wees, dan moet jy ongelukkig jou kind al 4 uur die oggend by die skool aflaai. Vanaand 9 uur gaan haal jy weer jou kind, en begin dan eers koskook vir jou gesin . Herhaal.

Karolis ·

Dink mooi voordat jy uit jou glashuis uit klippe gooi.
Daar is minderbevoorregte mense wat verplig is om van saamrygeleenthede gebruik te maak, soms ongereelde geleenthede.
Ander bly ver van die skool af en moet te voet skool toe gaan.

LouE ·

Daar is bitter min feite. Vind eers uit wat gebeur het. Dit sal nie die eerste keer wees wat skoolkinders stories opmaak nie. Dit klink vir my ook bietjie rof om ‘n kind vier uur by die skool af te laai. Ek is dankbaar dis nie ek nie, want daai kind moes al drie uur opstaan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.