Leerders presteer, maar pandemie pla wel

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Leerders by Afrikaanse skole se punte het nie merkbaar verswak tydens die Covid-19-pandemie nie, maar skole merk wel dat leerders en onderwysers se moraal ʼn effense knou weg het.

Die skole kyk nietemin nou vorentoe ná die grootskaalse ontwrigting wat die Covid-19-pandemie meegebring het.

Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) het as deel van ’n landwye opname onder sy ledeskole vasgestel 67% van dié skole is gereed vir die opkomende skooljaar.

Die betrokke skole het reeds hul beplanning en voorbereidings gereed vir wanneer hul leerders in Januarie in die skoolbanke inskuif.

Die meerderheid van dié skole het ook aangedui dat die getal druipelinge nie tydens die pandemie toegeneem het nie. Hul leerders se punte lyk oor die algemeen goed en toppresteerders doen selfs beter, veral waar selfgerigte leer en ouerbetrokkenheid teenwoordig is.

“Dit blyk egter tog dat leerders en opvoeders se moraal die grootste uitdaging vir die nuwe skooljaar inhou,” sê Melanie Buys, hoof van ontwikkeling by die SOS.

Volgens Buys is dit moeilik om leerders wat min ouerondersteuning geniet, se leeragterstande in te haal. Die departement van onderwys se kondoneringsbeleid help boonop ook nie aangesien laer standaarde en verpligte bevorderings die wanpersepsie by leerders kweek dat hulle nie kán druip nie.

(Argieffoto: Leonie Bezuidenhout/Maroela Media)

“Baie leerders verloor hulle motivering om te werk,” verduidelik Buys.

Die verhoogde druk op onderwysers eis ook sy tol, met verlore beheerliggaamposte, afwesigheid van onderwysers en ʼn verhoogde administratiewe las. Buys sê voorts verlies aan skoolinkomste het beheerliggame genoop om poste te sny en ʼn selfs groter las op die oorblywende onderwysers geplaas.

“Onderwysers is veral bekommerd oor die gr. 1- en 4-groepe se woordeskat en vaslegging van kernkonsepte. ʼn Gebrek aan roetine en kinders wat minder beweeg het ʼn groot impak gehad op dissipline.”

Volgens die SOS is lees- en syferbegrip en fyn motoriese ontwikkeling in die grondslagfase ook ʼn probleem in baie skole weens die alewige klasonderbrekings, roeterende roosters en onderwysers wat afwesig was weens die virus.

Buys sê daar sal nou baie moeite gedoen moet word om die agterstande te oorkom. Dít kan gedoen word deur die leerders meer te laat lees en aan hulle voor te lees. Die verantwoordelikheid lê egter nie net by die onderwysers nie, maar ook by die ouers om vir hul kinders te lees en toe te laat dat kinders vir hulle voorlees.

“’n Ouer wat betrokke is, maak ’n groot verskil,” sê Buys aan Maroela Media. “Die leemtes mag nie onderskat word nie en ons sal nou meer as voor Covid-19 moet doen om op te vang.

Buys sê voorts Afrikaanse skole beplan bykomende geleenthede om hul personeel te motiveer en te help om aandag te gee aan leemtes in onderrig. Dit sluit in spanbou-aktiwiteite, ekstra leesperiodes en assessering van werk wat in 2021 behandel is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Marius ·

Dan is daar ook nog die verpligte inentings vir Onderwysers en Leerders wat die stuasie verseker gaan vererger.

Natasha ·

Verwyder die maskers op die kinders se gesigte dat hulle net weer normaal kan sosialiseer en drukkies gee.. Kinders is liefde.. Hulle wil liefde gee.. Dan sal daar nie probleme wees nie…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.