Leerders sukkel met meting, wys SOS-verslag

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Unsplash)

ʼn Tekort aan speel, ʼn oorvol kurrikulum en onderrig wat nié in leerders se moedertaal aangebied word nie, is die moontlike oorsake dat kinders swak presteer in wiskunde.

Dít luidens die Skoleondersteuningsentrum (SOS) se verslag oor die gestandaardiseerde wiskunde-eksamen vir gr. 4 tot gr. 9. Die verslag is Donderdag in Centurion uitgereik.

Dié verslag is saamgestel op grond van die prestasie van sowat 16 000 leerders in 89 skole reg oor die land asook Namibië wat verlede jaar dié eksamen afgelê het. Die verslag toon dat leerders veral met meting sukkel, wat onderafdelings van meetkunde en die meet van voorwerpe insluit. Die slaagsyfer vir die toetse het ook aansienlik afgeneem van gr. 4 tot gr. 9.

Johan Koekemoer, hoof van die SOS se Vakvereniging vir Afrikaanse Wiskunde-onderwysers (VAW), sê daar moet aan die einde van die skooljaar in ʼn eksamen getoets word of leerders werklik geléér het. Dit kan net gedoen word as daar ʼn spesifieke standaard is aan die hand waarvan leerders getoets word. Dit is wat die SOS graag met die gestandaardiseerde wiskunde-eksamen wou bereik.

Luidens die verslag bied dié eksamenvakadviseurs skoolhoofde, departementshoofde en vakhoofde die geleentheid om hul skool te meet aan hand van ʼn uitnemende standaard, aangesien die eksamen al vier vlakke van Wiskunde se moeilikheidsgraad insluit.

“Dit was ʼn taai toffie om te kou,” sê Koekemoer oor verlede jaar se vraestelle vir die onderskeie grade. Ten spyte hiervan was daar ʼn sowat 10% groei in punte vergeleke met die vorige jaar. Die skole wat die eksamens afgelê het, het dus beter in 2019 as in 2018 gevaar. Dit beteken egter nie dat onderwysers op hul louere kan rus nie, aangesien leerders se wiskundevaardighede steeds te kort skiet, meen die VAW.

Argieffoto

Van die gr. 4’s wat die eksamen afgelê het, het 91% die eksamen geslaag. Volgens die VAW het die leerders egter met die afdeling oor meting gesukkel.

Van die gr. 5’s het 87% die eksamen geslaag, maar ook met die meting-afdeling gestoei.

Die probleem raak al duideliker in die hoër grade. Van die gr. 6’ se het 82% die eksamen geslaag. 41% van dié groep het egter die meting-afdeling geslaag met ʼn gemiddeld van 41,4%.

Van die gr. 7’s het 80% die eksamen geslaag. Leerders moet van dié vlak twee eksamens skryf op versoek van die departement van onderwys. Slegs 54% van die groep het die meting–afdeling met ʼn gemiddeld van 45% geslaag.

Volgens Koekemoer is gr. 8 die uitdagendste jaar aangesien dit die jaar is wat leerders die sprong van laer- na hoërskool maak. Die verslag toon dat 66% van dié groep die eksamen geslaag het met slegs 43% van die graad wat die meting-afdeling geslaag het. Leerders het ʼn gemiddeld van 38% hiervoor behaal.

Van die gr. 9-groep het slegs 53% vraestel 1 en 59% vraestel 2 geslaag. Koekemoer meen dié slaagsyfer is kommerwekkend. Hy wys ook daarop dat die deurvloei al slegter word, aangesien die slaagsyfer van gr. 4 tot gr. 8 met 30% geval het.

Dit is duidelik dat die leerders in verlede jaar se eksamen die swakste in meetkunde gevaar het.

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Unsplash)

Speel

Die VAW verduidelik dat die gebrek aan meetkundige insig en ruimtelike oriëntasie onder leerders waarskynlik die oorsaak is van konkrete spel met tweedimensionele en driedimensionele aspekte tydens hul vroeë kinderontwikkeling.

Marnelda de Beer, grondslagfase-spesialis by die SOS, verduidelik dat syfervaardighede, insluitend die begrip van getalle, meting en die opmerking van patrone aangehelp word deur speel. “Ons kan kinders help om hierdie vaardighede te ontwikkel deur alledaagse aktiwiteite soos om hul maatjies in die ry te tel of ewe lang toutjies vir ʼn kunsprojek te sny,” verduidelik sy.

Kurrikulum

ʼn Oorvol kurrikulum is ook ʼn groot sondebok wanneer dit kom by kinders wat sukkel met wiskunde. Koekemoer verduidelik dat hoewel die CAPS-kurrikulum baie goed is, dit oppervlakkig behandel word. “Ek kry soms die indruk dat onderwysers so streng onderrig gee volgens die kurrikulum, dat hulle vasgevang raak en hul intuïtiewe onderrig en spontaniteit verloor.”

Koekemoer verduidelik dat dit beter is om die helfte van die skoolwerk 100% onder die knie te kry as 100% van die werk slegs gedeeltelik baas te raak. “Doen dus minder, maar probeer om dit in diepte te behandel.”

wiskunde-skool-klas.jpg

Argieffoto

Moedertaalonderrig

Die VAW is ook ʼn groot voorstander van moedertaalonderrig. “Dit is ʼn bewese feit dat leerders wat in hul moedertaal onderrig word, beter presteer as leerders wat in ʼn tweede of derde taal onderrig word. Konsepte wat in ʼn kind se moedertaal vasgelê is, kan makliker in enige ander taal baasgeraak word,” lui die verslag.

Volgens Koekemoer bevestig die uitslae van die Gestandaardiseerde Wiskunde-eksamen presies dit, aangesien leerders van parallelmedium skole swakker gevaar het as leerders van ʼn enkelmediumskool.

Die VAW het die eerste Gestandaardiseerde Wiskunde-eksamens vir gr. 4, 5 en 7 in November 2018 aangebied. Die eksamen is in 2019 na gr. 8 en 9 uitgebrei. Die VAW wil dat sowat 30 000 leerders aan die einde van vanjaar dié eksamen aflê.

Registrasies vir toegang tot die VAW se gestandaardiseerde eksamens open in Mei 2020.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Yolandie

Hierdie syder skok my glad nie, veral as jy inagneem dat daar vandag in skole op Graad 4 of selfs vroeer vlakke kinders sit wat nie behoorlik eers kan lees nie. Ons Minister van Onderwys moet wakker skrik die CAPS leerplan is NIE die regte leerplan vir ons kinders nie. Gaan terug na die leerplan wat vroeer gewerk het. Moenie iets verander wat werk nie!!!!! Maar ja lesse in die land word nie deur politisie geleer nie. Hulle is mos te SLIM.

Ronel

Dis omdat hulle meer geworried is oor pengreep as om die kind te leer lees. O ja en woord herkenning? WAT DE HEL? Klank en spel. Dan sal kinders dalk weer kan lees.

Michael 1

En intussen moet ons kinders ly omrede ons nie in beheer is van hoe en wat ons kinders leer nie ,weereens gee ons n onafhanklike tuisland sodat die minderhede hulle kinders kan opvoed soos dit behoort te wees.