Leerders vas vir kaping, moord

Argieffoto

Argieffoto

Twee leerders, onderskeidelik 16 en 18 jaar oud, van Steynsrus in die Vrystaat is in hegtenis geneem in verband met die kaping en moord op ʼn motoris wat vir hulle ʼn rygeleentheid gegee het.

Sers. Ian Gaobepe, polisiewoordvoerder, het Dinsdag aan Maroela Media gesê die twee het na bewering Vrydagaand 29 Julie saam uitgegaan.

“Een van die seuns het sy stiefpa se vuurwapen gesteel, waarna hulle na ʼn gewilde oplaaipunt vir rylopers buite Steynsrus is. ʼn Man in ʼn rooi Toyota Tazz het vir hulle ʼn rygeleentheid aangebied.”

Hulle is van Steynsrus deur Kroonstad, waarna die tieners die motoris gevra het om stil te hou. Die bestuurder is doodgeskiet en sy liggaam is in die veld langs die pad gelos.

“Die seuns het vir ʼn aand uit in Kroonstad gegaan en later die vuurwapen teruggeneem en gaan bêre sonder dat hul stiefpa enige onraad gemerk het. Sowat ʼn week later het hulle met die gekaapte motor na Khuma buite Stilfontein in Noordwes gery waar hulle dit vir kontant probeer verkoop het.”

Daar het die potensiële koper onraad gemerk en die polisie in kennis gestel wat dadelik reageer het. Die twee is op 10 Augustus deur die Khuma-polisie in hegtenis geneem op aanklag van die besit van ʼn vermeende gesteelde voertuig.

“By nadere ondersoek is daar vasgestel dat die voertuig ʼn paar dae tevore gekaap is. Die seuns het aan die polisie gaan uitwys waar hulle na bewering die motor gekaap en die eienaar se liggaam gestort het.”

Met die Khuma-polisie se aankoms op die toneel, was polisiebeamptes van Kroonstad reeds daar nadat ʼn verbyganger op die erg ontbinde liggaam van die bestuurder afgekom en hulle ontbied het.

Die seuns, wie se name nie genoem mag word nie, het op 12 Augustus in die Kroonstad-landdroshof verskyn op aanklagte van kaping en moord. Die 16-jarige is in die sorg van sy ouers vrygelaat. Die 18-jarige bly in aanhouding. Albei moet weer op 19 Augustus in die hof verskyn.

Meer inligting oor die slagoffer was nie dadelik bekend nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Verstaan nie ·

Ek verstaan nie hoekom wil jy jou lewe weggooi vir een aand uit die huis nie

Rapes ·

Dit was vooraf beplande moord. Hulle verdien die maksimum straf.

Willie ·

Nee wat dis erger as erg! Wat word van die Jeug? Dis beplande koelbloedige moord!

Joann ·

Ek voel al is die een net 16jr.moet hy ook tronk toe. As jy weet om te moor en steel is jy reg vir tronk ook

Theresa ·

Vir wat mag die 16-jarige moordenaar se naam nie genoem word nie? As hy so sleg was om so iets aan te vang en/of deel te wees van so iets afskuweliks, mag en moet sy naam wyd verkondig word. Dit sal ‘n voorbeeld wees vir ander kinders wat sulke onaanvaarbare gedrag wil beoefen.

Karma ·

@Theresa, die ‘arme onskuldige bloedjie’ se naampie mag nie genoem word nie, want hy is nog minderjarig. Die 18-jarige se naampie sal eers genoem word as hy aangekla is en gepleit het. Foeitoggies, die arme kindertjies het so swaar vandag, die kinderwet moet hulle beskerm …. SELFS AL PLEEG HULLE MOORD, MOORD MET VOORBEDAGTE RADE!

Theresa B ·

Goeie genugtig…………… Ek is met stomheid geslaan!! Identifiseer hulle – as hulle sulke erge goed aanjaag, hoekom hul beskerm. Wat geld vir een wat moor – geld dit vir almal!! Hulle is nie te jonk om te doen wat hul gedoen het nie.

Jakes ·

Op 16 was ek st.8, wiskunde probeer verstaan…
Maroela dalk meer inligting navors en berig oor skool, dorp, kleur..

Karma ·

@Jakes, ja, op 16 het ons – in die jare toe daar nie ‘kinderregte’ was nie (die enigste kinderreg wat daar was was Boeresielkunde met die plathand op die gat en ‘kinders-word-gesien-maar-nie-gehoor-nie) op skool geleer en daarna lekker rof buite gespeel. Ons het nie geweet van stiefpa se ‘gun’ nie en ons het ook nie daaraan gedink om ‘n iemand dood te skiet, die kar te steel en dit dan te verkoop nie. Ons het lekker kattekwaad aangevang, maar dit was onskuldige pret. Die ergste wat ons gedoen het, was rook en vry agter by die hoenderhokke.

Scalla ·

Nog nat agter die ore en klaar kriminele, lyk my ook nie veel tussen die ore nie, barbarse optrede , hoop hul word swaar gestraf

waarheid ·

Sê weer hul moet dadelik getoets word vir dwelmgebruik. Indien moet dit op rekord kom sodat statistieke kan wys %MOORDE gepleeg deur DWELM-VERSLAAGDES.

Leon ·

Jammer “waarheid”, maar ek stem nie saam nie. Sodat hulle dit dan gebruik as verskoning?
Hulle moet sit, albei van hulle…………maar dit is mos wat ons agbare groot leiers wil hê, jonge kriminele, wat hulle by die leiers van die land leer!

snoefie ·

hoekom is die stiefpa nie aangekla van nslatige vuurwapen-besit nie? hy het dit vie die twee helsims maklik gemaak.

Kobus ·

Ai Jakes, wat maak dit nou regtig saak watter vakke hulle op skool het en in watter skool of dorp , en of hulle sukkel of nie ens. Die heel eerste sin se hulle is leerders. Of hulle pienk of groen of wit of swart of wat ook al is, dit is nie ter sake. Die “punch line” is hulle het gemoor, maak oof nie saak vir wie nie. Moord op swart of wit of bruin ens bly moord. Hulle moet daarvolgens gestraf word.

Retha ·

Ek stem saam. Kleur het niks hiermee te doen. ‘n Oomblik se totale onbesonnenheid en klomp mense se lewens “gekaap”, ook hul eie!

Johan ·

Ai tog dis ‘n saak van bitterheid dat mens ongeag wat jou ouderdom, kleur ,ras, is , jou lewe so laat verwoes om ‘n ander geliefde van gesinne se lewe te neem. Weer gaan ons terug na di Bybel wat elkeen van ons leer hoe ons eie lewe moet lewe om ‘n goeie gesonde lewe te lewe. Spreuke 1 tot 9 is so mooi boodskap om vir ons te gee oor opvoeding, dissipline, respek, liefde. Dan is di vraag hoe is di saad in di grond geplaas die eerste dag toe di kinders gebore is met opvoeding tot hede waarvan ons nou lees van hulle. Wel hul moet die straf verdien en boet vir hul dade. Ek hoop di dag as hul daar uitkom uit die tronk en hulle lewe nog moet hul die grootste evangeliste word wat weer ander na Jesus toe sal ly. (Ledigheid is die duiwel se oorkussing)

Karma ·

Hene, Johan, party kinders het nie eens elke dag kos of warm klere of ordentlike slaapplek nie, wat nog te sê van ‘n Bybel! Hulle doen wat hulle sien gedoen word. Ma & Pa wat suip, dronk lê, dwelms in hul huis en woonbuurt, om diefstal te pleeg net om liggaam en siel aanmekaar te hou. Kinders ‘run riot’ want hulle het dikwels onbevoegde ouers of “kan-nie-worry”-ouers. Die Bybel en godsdiens is nie die oplossing nie. Goeie morele waardes en ‘n voorbeeld vir kinders, asook dissipline is wel. Hierdie tweetjies het hul lewens liederlik opgefrommel voor dit nog eens regtig begin het, maar nie een van ons oueres, kan werklik weet wat dit is om in vandag se SA groot te word nie. Ja, in die 70’s, 80’s en 90’s was daar die Grensoorlog en politieke onrus, maar ten spyte hiervan – dink ek – het baie ander jonges van ons era nie te sleg uitgedraai nie. Maar die kinders vandag …. hemel alleen weet!

broos ·

op 16 jaar behoort jy te worry oor al jou puisies en of ‘n sekere meisie jou miskien raaksien en of jy ‘n klastoets gaan deurkom…..jy hoort nie in die kuier plekke nie! jy hoort nie met ‘n geweer in jou hand nie! en as jy vir ‘n week kan rondry met ‘n gesteelde kar wetende dat julle die eienaar geskiet en gedump het hoort jy nie in die samelewing nie!!! dis verskriklik sad om te sien dat die misdadigers al hoe jonger word :-(

Illa ·

Ek kan nie help om te wonder waar hul die gekaapte voertuig gestoor het in die tyd tussen die moord en die dag wat hul dit probeer verkoop het? Hoop dit word ook ondersoek, want indien hul die voertuig by een van hul ouerhuise gestoor het, behoort die ouers as medepligtiges aangekla te word, want hoe verduidellik ‘n tiener aan sy ouer waar hy uit die bloute aan ‘n voertuig kom?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.