Leerders verloor driekwart van skooljaar weens pandemie – navorsing

(Argieffoto: Morné van Rooyen)

Die meeste Suid-Afrikaanse leerders het weens die Covid-19-pandemie die afgelope twee jaar minstens ʼn driekwart jaar minder skoolgegaan as gewoonlik – en talle van hulle het self meer skooldae misgeloop.

Luidens ʼn navorsingsverslag van die Navorsingsgroep oor Sosio-ekonomiese Beleid (Resep) aan die Universiteit Stellenbosch (US) het die meeste kinders in staatskole nou omtrent ʼn jaar se agterstand teenoor vorige jare. Die leerverliese is boonop nie beperk tot armer skole nie en selfs gegoede skole het groot leerverliese in taal en wiskunde ondervind.

Die navorsers het ondersoek hoe leerlinge in grade 3, 6 en 9 verlede jaar in die Wes-Kaap se sistemiese toetse gevaar het in taal en wiskunde in vergelyking met die vertoning op dieselfde vrae in 2019.

Die navorsers sê die steekproef van omtrent 80 000 leerlinge in elke graad in arm en ryk skole maak dit moontlik om uit hierdie navorsing te kan veralgemeen vir alle Suid-Afrikaanse skole en grade. Geen ander provinsie toets leerlinge op hierdie omvattende skaal nie, dus bied hierdie die enigste grootskaalse navorsing om leerverlies te meet.

Groot leerverliese in wiskunde

Die leerverliese wat leerlinge ondervind het, het ook leergeleenthede verminder en beteken heelwat van die werk wat hulle geleer het, het kinders weer vergeet.

Leerverliese was groter in wiskunde as taal, wat volgens die navorsers ooreenstem met internasionale bevindinge.

In taal was die grootste verlies in gr. 6.

Die meeste Suid-Afrikaanse leerlinge word in die grondslagfase (tot in gr. 3) in hul huistaal onderrig, voordat hulle oorslaan na onderrig in Engels vir alle vakke behalwe hulle huistaal. Alles dui daarop dat die pandemie hierdie moeilike taaloorgang nog verder bemoeilik het, het die navorsers bevind.

Suid-Afrika het al aan heelwat internasionale toetse van leerprestasie in wiskunde en lees deelgeneem en in die algemeen swak gevaar. Groot persentasies leerders kon nie eens die lae internasionale maatstawwe bereik nie. Die navorsers sê as die leerverliese in die Wes-Kaapse sistemiese toetse veralgemeen word en op die hele land toegepas word, sal die persentasie leerlinge onder die lae internasionale maatstawwe nou selfs verder toeneem.

Die navorsers sê die twee vakke wat getoets is – wiskunde en taal – vorm die grondslag vir die aanleer van die meeste ander vakke, nie net op skool nie maar ook daarna.

“Twee beleidskwessies verg spesiale aandag. Die eerste is om meer tyd te vind vir wiskunde, om die agterstande wat tydens die Covid-19-jare opgebou is, te oorkom. Gr. 9-leerders het byvoorbeeld in 2021 ʼn jaar leeragterstand gehad op leerlinge van 2019, en hulle moet dus ʼn hele jaar inhaal voordat hulle matriek skryf.

“Dit vereis dat hulle vinnig genoeg vorder om in drie jaar te leer wat ander in vier jaar geleer het.

“In taal is die groot uitdaging om te verseker dat kinders reeds in die grondslagfase goed leer lees. Swak leesvaardighede en woordeskat in die onderrigtaal, hetsy Afrikaans of Engels, belemmer vordering in ander vakke. Dis veral ʼn gevaar vir die meerderheid kinders wat die taaloorgang na Engels moet maak,” het die navorsers bevind.

Leerverliese vir wiskunde was veral groot en die navorsers waarsku dat daar weinig beweegruimte is vir gr. 9-wiskunde om verder te verswak. Wiskunde vereis ook ʼn spesialiskennisbasis wat nie maklik toeganklik is wanneer skole gesluit is nie.

Konserwatief beraam het leerders tussen 40% en 70% van ʼn skooljaar agter vroeër jare se groepe in taal geraak, terwyl hulle wat wiskunde betref, tussen 95% en 106% van ʼn skooljaar agter vorige groepe is.

Maak tyd om in te haal

Die navorsing dui daarop dat Afrikaanse skole van leer en onderrig swak gevaar en groot leerverliese ondervind het, behalwe dié in kwintiel 5 – oftewel gegoede skole. Kwintiel 5-skole het oor die algemeen veel kleiner leerverliese as ander kwintiele in alle toetse ondervind.

Meisies het ook in die meeste toetse heelwat beter as seuns gevaar. In gr. 9 het seuns groter leerverliese ondervind en die sogenaamde pro-seun-voordeel in wiskunde is uitgewis.

“Wiskunde en taal is poortvakke en vorm die grondslag van leer in alle ander vakke. Bykomende tyd om in hierdie vakke in te haal, moet gevind word.

“Waar moontlik moet tydstoewysings vir ander vakke verminder of nie-sleutelvakke opgeskort of by ander vakke geïntegreer word om tyd vir taal en wiskunde beskikbaar te stel,” het die navorsers bevind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Marius ·

As ek dit nie mis het nie is dit veroorsaak deur die regering wat besluit het om almal soos tronkvoëls onder huisares te plaas omdat hul mense wil manipuleer. Nou word daar gekla oor die resultaat. Ai tog…..

Eiervrug ·

Die regering hou daarvan. Hulle soek stupid mense sodat hulle kan aanhou stemme werf (omdat die arme mense nie van beter weet nie)

Thys ·

Ons moet onthou dat gedurende die afsondering tyd het onderwysers hard gewerk om die lesplan daagliks aan die leerders deur te gee maar hierdie stelsel het net gewerk waar die lektronika beskikbaar was en by gesê die of diedisipline iook daar was om gebruik te maak an hierdie voorreg. My voorstel is hou die swak presteerder een jaar terug sodat hy rusting kan in haal sonder om druk op die leerders of die voorganger te plaas daar is geen ander manier hoe n kind leer agterstand inhaal nie.

Nommer 7 ·

Ondanks opvoeders se harde werk, het Gr 1 en 2 kinders nou ‘n merkbare agterstand. Terughou gaan ook nie werk nie, want dit gaan ‘n bottelnek veroorsaak.

lodewyk ·

Maak sin as hulle se staatskole!!My kinders deur 2020 en 2021 in matriek met elk 6 onderskydings ,hulle het hard gewerk toe hulle by die huis was,en nie rond geloop of hele dag speletjies gespeel nie,disipline en doelgerigtigheid is wat saakmaak ,altyd maklik om iets anders die skuld te gee,en ja ons het ook nog steeds ons allies afbetaal aan skoolfonds al was hulle nie vir maande by die skool nie,maar die onderwysers het nog steeds gehelp en huiswerk gestuur,miskien moet die staat dalk meer aandag gee aan hulle onderwys??

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.