Leerdersterftes: Skole ervaar erge trauma

Lesufi en Omar as deel van die paneel kundiges (Foto: Skermgreep)

Gautengse skoolgemeenskappe wat onlangs leerders in tragiese voorvalle aan die dood afgestaan het, is onder geweldige druk om die trauma te hanteer. Só het Paul Colditz, uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame vir Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) gesê. Hy was deel van ʼn paneel kundiges wat Woensdag by ʼn inligtingsessie van die Nasionale Persklub in Pretoria oor leerdersterftes gesels het.

“Van die skole wat geraak is, kan nie die nodige berading bekostig om onderwysers en leerders by te staan om die deurlopende trauma te verwerk nie,” sê Colditz.

Altesaam 15 leerders en vier onderwysers is reeds sedert die begin van die jaar in Gauteng oorlede. Dit volg nadat twee leerders van Madibatlou Middle School naby Olifantsfontein in Gauteng Maandag tragies in ’n taxi-ongeluk omgekom het. Volgens dr. Shaheda Omar van die Teddy Bear Clinic, kan dié sterftes trauma veroorsaak en ’n verskeidenheid van emosies ontketen. “Leerders kan emosies van verlies tot woede ervaar. Party voel selfs skuldig dat hul lewens gespaar is, maar nie hul maatjies s’n nie,” sê Omar.

Omar sê dié trauma kan moontlik op lang termyn gevolge inhou waar leerders se akademiese prestasie of betrokkenheid by die skool beïnvloed kan word. “Leerders en onderwysers kan selfs depressief raak of heeltemal belangstelling in skoolaktiwiteite verloor.”

Die akademiese jaar het op ’n slegte noot afgeskop toe die liggaam van die 13-jarige Enock Mpianzi van Parktown Boys’ High School in Johannesburg, in die Krokodilrivier gevind is nadat hy op ʼn oriënteringkamp vir graad 8-leerders verdwyn het.

Colditz sê die geweldadigheid en nalatigheid wat tot sterftes gelei het, is onaanvaarbaar. “Ouers is nie veronderstel om hul kinders te begrawe nie.”

Hy het bygevoeg die Grondwet moet weer geraadpleeg word en aandag aan leerders se basiese reg tot veiligheid gegee word. “Leerders is onder geweldige druk omdat hul lewens op ’n daaglikse basis bedreig word.”

Omar sê dit is belangrik dat die groter gemeenskap na skole begin uitreik vir ondersteuning en om te verhoed dat nog sulke tragiese voorvalle plaasvind. “Lede van die gemeenskap moet hande vat en saamwerk om ons kinders te beskerm en te ondersteun,” sê Omar.

Omar het beklemtoon dat ook vroegtydig aandag gegee moet word aan uitdagings wat leerders in die gesig staar, soos geweld by ouerhuise of boeliegedrag.

Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys, sê die wetstoepassing en veiligheid by skole moet opgeskerp word. Hy het ook sy kommer uitgespreek oor leerders se veiligheid wanneer hulle openbare vervoer soos taxi’s gebruik. “Taxi’s wat oorlaai is, is ’n groot probleem.” Lesufi het gesê die bestuurvermoëns van taxi-bestuurders moet ook onder die vergrootglas geplaas word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Dries ·

Ek onthou ‘n tyd wat dinge nie so erg was by/in skole nie. Of was dit dalk net minder in die nuus toe? Wonder wat verander het…?

SomeOne ·

wat help dit om ‘n taxi bestuurder te vertel wat die wet is, hy ignoreer alle wette wat daar is, geld in sy sak is die enigste wet wat hy ken

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.