Leerlinge met blikoopmaker gesteek

Argieffoto.

Argieffoto.

Die Gautengse departement van onderwys het gesê hy is bewus van ʼn voorval by ʼn skool in Johannesburg waar skoolseuns Dinsdag met ʼn skerp voorwerp gesteek is.

“Twee afsonderlike voorvalle het vandag by die Highlands North Boys’ High School plaas gevind,” het Oupa Bodibe, die waarnemende woordvoerder van die departement, aan Maroela Media gesê. “Vier gr. 12-leerders was daarby betrokke.” Hy het gesê net twee leerders is beseer en nie vier soos aanvanklik berig is nie.

“Paramedici is dadelik ontbied om die twee seuns te behandel. Hulle het slegs geringe beserings opgedoen en het ná hul behandeling met normale skooltake voortgegaan.”

Bodibe het gesê voorlopige ondersoek dui daarop dat die leerders nie beseer is in ʼn geveg nie, maar in ʼn “speletjie wat verkeerd geloop het”.

“Die beweringe moet egter volledig ondersoek word. Die ouers van die leerders is van die voorvalle ingelig.”

Volgens Bodibe is die leerders voorlopig geskors en moet hulle op 2 Maart ʼn tugverhoor bywoon.

Hy het gesê die skoolhoof het al die leerlinge toegespreek en ingelig oor die gevare om met skerp voorwerpe te speel. Die leerders het glo met ʼn skerp blikoopmaker gespeel.

Maroela Media het vroeër berig die seuns is glo tydens ʼn geveg by die skool met ʼn skerp voorwerp gesteek.

Athlenda Mathe, woordvoerder van Netcare 911, het gesê die ambulansdienste is na die skool in Highlands North ontbied nadat die drie leerders “oppervlakkige steekwonde” opgedoen het. Mathe het gesê die seuns is by die skool behandel en dit was nie nodig dat hulle gehospitaliseer hoef te word nie.

Konst. Thabo Malatjie, polisiewoordvoerder, het aan Maroela Media gesê die voorval is nie by die polisie aangemeld nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Elizabeth ·

Tipiese oorreaksie. Ons praat hier van KINDERS wat, luidens die berig, GESPEEL het, Goeie genugtig, as ek dink hoeveel kinders my op skool met allerhande voorwerpe gesteek het … ek dink nie eers een van hulle het ‘n pak gekry nie en ek kan nie onthou dat ek daaroor gekla het nie. Geen wonder kinders is vandag van stres aanmekaargesit nie – hulle word soos volwassenes aan tugaksies en skorsing onderwerp terwyl hulle eintlik nog wil speel. Hulle is eenvoudig nog nie emosioneel gereed vir hierdie soort behandeling nie en dis hoekom hulle op elke denkbare manier vou.

Veritas ·

Moet asb nie so naief wees nie. Watter regdenkende kind gaan met ‘n skerp blikoopmaker skool toe om ‘n ‘speletjie’ te speel? Of dink jy hy het die slagoffers as blikke gesien?

Avanni ·

Dit is graad 12 leerders. Nie meer “kinders” nie. Hulle weet wat hulle doen en ek laat my nie vertel dit was n onskuldige speletjie nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.