Lêers vol bewyse teen vermeende Rwandese volksmoordenaar

Fulgence Kayishema tydens sy eerste verskyning in die landdroshof in Kaapstad (Foto: Rodger Bosch/AFP)

Fulgence Kayishema, vermeende Rwandese volksmoordenaar, het Vrydag vir die tweede keer in die Kaapstadse landdroshof verskyn. Die saak teen hom is uitgestel nadat die staat Donderdag twee lêers met nuwe bewyse ontvang het.

Adv. Nathan Adriaanse, staatsaanklaer, het aan die hof gesê hy kon deur slegs ʼn gedeelte van die lêers werk en het tot dusver 17 aanklagte teen Kayishema opgestel. Hy sal die naweek ʼn volledige klagstaat opstel en dit Maandag aan die verdediging oorhandig.

Kayishema verskyn weer volgende Vrydag in die hof om te hoor wat die staat se saak teen hom behels. Hy staan in dié stadium tereg op aanklag van bedrog en die oortreding van immigrasiewetgewing.

Kayishema se regspan het aangedui dat hy wil aansoek doen om borgtog, ʼn aansoek wat die staat sal teenstaan.

Kayishema word daarvan verdink dat hy aandadig was in die moord op sowat 2 000 Tutsi-vlugtelinge, onder wie mans, vroue, kinders en bejaardes, by ʼn Rwandese kerk.

Hy was sedert 2001 voortvlugtig voordat hy verlede maand op ʼn druiweplaas in die Paarl vasgetrek is. Kayishema het die afgelope ruk op dié plaas onder ʼn skuilnaam, Donatien Nibashumba, gewoon en gewerk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.