Leeu-aanval: Kristian verjaar in hospitaal

Kristian Prinsloo. Foto: Facebook

Kristian Prinsloo, die skoolseun wat vroeër vandeesmaand deur ʼn leeumannetjie aangeval is, het Dinsdag sy verjaardag gevier waar hy steeds in ‘n Pretoriase hospitaal behandel word.

Kristian het Dinsdag 12 jaar oud geword. “Hemelse Vader. Ons dank U dat U 12 jaar gelede, deur U ongekende genade, vir ons ‘n wonderwerk gegee het, met ‘n humor en ‘n laggie wat aansteek soos ‘n verkoue. ‘n Opregte liefde vir sy medemens – bekend en onbekend,” het Herman Prinsloo (47), Kristian se pa, in ʼn Facebook-groep gesê, wat gestig is ter ondersteuning van sy seun.

“Here mag hierdie dag gevul wees met U ongekende genade, bomenslike genesing, seën vir almal wat hy aangeraak het en dat ons U liefde sal ervaar soos U wil hê ons moet mekaar liefhê.”

Kristian word in die waakeenheid van die Mediclinic Muelmed in Arcadia, Pretoria, behandel. Prinsloo het Maandag gesê Kristian het oor die naweek ʼn paar terugslae en benoude oomblikke met sy polsslag, bloeddruk en temperatuur gehad. Kristian is steeds in ‘n koma en het intussen ook bronchitis opgedoen.

Die Facebook-groep is Dinsdag oorstroom met gelukwensings vir Kristian. “12 jaar oud en alreeds ʼn dissipel vir Jesus hier op aarde. Jy het so baie mense laat saamstaan in gebed en om Bybel te vat en lees. Jy het soveel duisende siele al na die Here toe gelei deur hierdie gebeurtenis,” het een Facebook-gebruiker laat hoor.

Prinsloo, ʼn sakeman van Centurion, en sy vrou, Adri (47), waak by hul enigste kind se bed nadat hy op 8 April op ʼn landgoed naby Lephalale (Ellisras) in Limpopo aangeval is. Marie Strydom (75), Adri se ma wat die leeu van Kristian afgestoei het, staan die egpaar by.

Kristian, ʼn gr. 6-leerder aan die Laerskool Louis Leipoldt, het oudergewoonte dié skoolvakansie by Strydom in Lephalale gaan kuier waar die tragedie hom afgespeel het.

Lees alle vorige berigte oor Kristian Prinsloo op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

DPJ ·

Mag die Here Kristian Prinsloo ryklik seën in die Hospitaal tot Sy beswil. Laat Sy wil geskied.

Elsa ·

Mag genesing en volkome herstel jou grootste geskenk wees, ons waak oor jou met gebedes

Maya Roon Joubert ·

Graag wens ek Kristiaan ‘n gelukkige verjaarsdag! En mag God sy lewe en sy familie seën met vrome herstel!

RC ·

Geluk met jou verjaarsdag Kristiaan, mag God jou seën. Ons bid vir jou en mag God se wil geskied.

Marie Visser ·

Geluk Kristiaan. Drs moet hom uit die geïnduseerde koma haal sodat hy self kan weerstand bied!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.