Leeu-aanval: Seun steeds kritiek ná ‘benoude oomblikke’

Kristian Prinsloo. Foto: Verskaf

Kristian Prinsloo (11), die Pretoriase skoolseun wat vroeër vandeesmaand deur ʼn leeumannetjie aangeval is, se toestand is steeds kritiek.

Kristian word in die waakeenheid van die Mediclinic Muelmed in Arcadia, Pretoria, behandel. “Sy toestand is nog baie dieselfde. Daar was ʼn paar terugslae en benoude oomblikke die naweek met sy polsslag, bloeddruk en temperatuur. Genadiglik het dit gister weer na redelik stabiele vlakke teruggekeer,” het Herman Prinsloo (47), Kristian se pa, gesê.

“Een van die groot kwelpunte is die infeksies en Kristian het ook bronchitis opgedoen. Ons het môre [Dinsdag] weer ʼn samespreking met die dokter om vas te stel waar ons nou staan, medies gesproke. Ons wil net weereens almal bedank dat julle so vir ons instaan in gebed en ons Skepper dank vir sy genade, hoop, liefde, vrede en krag. Here, ons glo en weet dat U in beheer is.”

Herman, ʼn sakeman van Centurion, en sy vrou, Adri (47), waak by hul enigste kind se bed nadat hy op 8 April op ʼn landgoed naby Lephalale (Ellisras) in Limpopo aangeval is. Marie Strydom (75), Adri se ma wat die leeu van Kristian afgestoei het, staan die egpaar by.

Kristian, ʼn gr. 6-leerder aan die Laerskool Louis Leipoldt, het oudergewoonte dié skoolvakansie by Strydom in Lephalale gaan kuier waar die tragedie hom afgespeel het.

Lees alle vorige berigte oor Kristian Prinsloo op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Hannelie ·

Here ek dra hierdie seuntjie en sy ouers op aan U. Wees hul genadig, raak hom aan staan hul by in hierdie onsekerheid. Aan die ouers, ek kan my nie indink waardeur jul gaan nie, maar weet verseker ons bid elke dat vir hom en julle. By God is niks onmoontlik nie.

MissDemeanor ·

Shame. Ek onthou daar is vroer berig dat hy geen breinaktiwiteit gehad het nie. Het dit al verander?

Jes ·

Dis bitter vir ‘n ouer. Ek kan myself nie indink hoe hierdie twee mense voel nie, maar mag die Vader se wil geskied.! Amen

Harrie ·

Is daar al brein aktiwiteit, kan iemand vir ons sê seblief.

ELSA ·

VADER HOU U HAND OOR KLEIN KRISTIAN – BY U IS NIKS ONMOONTLIK – JUL BLY IN ONS GEBEDE

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.