Leeu-aanval: Sy dood het mense op hul knieë gebring

Foto: Phillip Bruwer.

Kristian Prinsloo, wat die dag ná sy 12de verjaardag dood is nadat ʼn driejarige leeumannetjie hom aangeval het, se verhaal “het duisende mense aangeraak en op hul knieë gebring”.

Honderde mense het Woensdag by die Lewende Woord Centurion-gemeente bymekaar gekom om eer aan Kristian te bring, kort nadat hy vroeër die dag in die Pretoria-Oos-begraafplaas te ruste gelê is.

“Alhoewel ons baie hartseer is, is die gebeure hier om Kristian se lewe en vreugde vir die lewe te vier,” het Kristian se pa, Herman Prinsloo (47), aan familie, vriende, skoolmaats en besorgdes gesê wat meer as die helfte van die kerk vol gesit het.

Voor in die kerk, langs pastoor Wouter van der Merwe wat die herdenkingsdiens gelei het, het ʼn groot foto van Kristian tussen blommeruikers en kerse gestaan.

Herman het na dié foto van ʼn glimlaggende Kristian gewys en gesê: “As jy daai smile sien, kan jy nie hartseer wees nie. Ons vier sy lewe; dit is wat hy sou wou gehad het.”

Kristian se skoolmaats, geklee in die kenmerkende grys-en-vlootblou skoolklere van Laerskool Louis Leipoldt waar hy in graad 6 was, het die voorste ry van een van die blokke vol gesit, met Kristian se familie, waaronder sy ma, Adri (47), en ouma, Marie Strydom, in die voorste ry van een van die ander blokke.

Cor en Alet Vos, Strydom se boesemvriende op wie se landgoed die ongeluk op 8 April plaasgevind het, het agter die Prinsloo-egpaar gesit en al die verrigtinge bygewoon om eer te betoon. Die Vos-egpaar en Prinsloo-egpaar het mekaar getroos toe hulle erg emosioneel geraak het terwyl aanbiddingsmusiek gespeel het en foto’s van Kristian op groot skerms vertoon is.

In die foto’s wat gewys is sien ʼn mens die heeltyd hoe Kristian met rooi wangetjies glimlag. Sy liefde vir die buitelewe, natuur, diere, motorfietse en robotte is duidelik sigbaar, soos wat Herman vroeër aan Maroela Media gesê het.

“Kristian Josef Armand Prinsloo is op 25 April 2005 gebore en is op 26 April 2017 oorlede. Hierdie besonderse seun was ons kind, kleinkind en maatjie,” lui die inleiding van sy begrafnisbrief.

“Kristian se roeping op aarde was groot en die volle omgang daarvan sal ons nooit kan bereken nie. Hierdie merkwaardige jong man het duisende mense se hartsnare geroer om weer opreg na God te soek. Van sy skool tot op Facebook het mense van reg oor die wêreld die troonkamer van God binnegegaan om vir hom en sy familie te bid.

“Deur sy verhaal het hy Christene van mense gemaak. Hy was ʼn Josef wat in ʼn put moes beland om ʼn volk te voed. Jesus het ʼn seun se vyf broodjies en twee visse geneem en daarmee duisende mense gevoed en het ook die bietjie wat Kristian gehad het gebruik om duisende mense geestelik te voed.

“Deur sy lewe en selfs deur sy dood, het Kristian bewys dat ons hoop buite onsself lê. Ons weet die trane wat ons vandag moet stort, sal eendag weggevee word. Ons sal bly staan in ons geloof, al verstaan ons nie alles nie. Ons kies Abba Vader se wil bo ons eie.

“Kristian – ons gaan jou mis. Jy was meer as kosbaar. Ons sal sorg dat die goeie dinge wat jy in ons geplant het, vrug sal dra en dat jy eendag trots sal wees op hoe ons dit gebruik het. Jy sal vir altyd omring word deur liefde in ons harte totdat ons jou weer sien.”

Herman het ná die diens aan Maroela Media gesê hulle koester steeds geen kwade gevoelens teen die leeu se eienaars nie en versoek steeds dat die leeu nie van kant gemaak word nie.

Volgens Carel Bothma, Herman se vriend, is dit net so ’n moeilike tyd vir die Vos-gesin en hy het hulle seën toegewens. “Kristian het voor hulle oë grootgeword. Hy was soos ʼn kleinseun vir hulle,” het hy gesê.

Die verrigtinge is afgesluit deur honderde blou ballonne met briefies in die lug te laat opgaan, “waar Kristian nou veilig in Jesus se arms is,” volgens Adri se afskeidsboodskap.

Lees alle vorige berigte oor Kristian Prinsloo op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Arend ·

Sterkte aan sy familie in hierdie moeilike tyd, ek dink aan julle.

lettie ·

Dis n bittersoet gebeurtenis. Ek is bly sy ouers het berusting en vrede in die Here se wil gevind. Dit is groots!

Jaco ·

Wonderlik dat mense van sulke tragiese en hartseer gebeure iets so positief kan maak. ‘n Voorbeeld vir my.

Susanna Eckard ·

Dankie vir die replekvolle berriggewing v Kristiaan se gedenkdiens. Ek begin weer hoop kry dat daar wel eerbare media-woordvoerders is wat nie sensasie-bloedhonde is nie. Dankie Maroela Media

Mel ·

Dis so ‘n roerende maar pragtige storie, baie sterkte aan Kristian se ouers, ouma en naasbestaandes!!! RIV Engel Kind, jy het baie mense se harte aangeraak

Chris Fourie ·

Dit is seker die moeilikste ding wat mens kan doen om jou kind te begrawe, ek kan myself nie eers in dink om in julle skoene te wees nie, mag julle pyn net beter word elke dag, julle is steeds in ons gebede.

w ·

?lyk vi my hy was enigste kind. Sterkte vi sy geliefdes. God Troos u

Griki ·

‘n Merkwaardige seun met merkwaardige ouers. My innige simpatie met Kristian se familie, vriende en skoolmaats.

Herman Prinsloo ·

Baie dankie Phillip en Maroela Media op die wyse waarop julle Kristian se ongeluk, hospitalisasie en begrafnis hanteer het. Ons waardeer dit opreg. Herman & Adri Prinsloo.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.