Leeu-aanval: Vrou se naam bekend

Katherine Chappell. Foto: Instagram

Katherine Chappell. Foto: Instagram

Die Amerikaanse toeris wat Maandagmiddag by die Leeupark in Honeydew, Johannesburg, deur ʼn leeuwyfie doodgebyt is, se naam is bekend.

Die Daily Mail het die oorledene as Katherine Chappell (29) geïdentifiseer. Chappell was ʼn produksie-assistent van New York wat aan verskeie bekroonde televisiereekse en films gewerk het, soos Game of Thrones, The Secret Life of Walter Mitty en Noah.

Scott Simpson, woordvoerder van die Leeupark, het vroeër aan Maroela Media gesê Chappell was glo saam met ʼn onafhanklike toergids in ʼn motor toe hulle deur een van die leeukampe gery het. Volgens Simpson het ooggetuies getuig dat albei die motor se vensters deurentyd oop was.

'n Strokie van die Six Cocktail-kroeg in Melville, Johannesburg wat Katherine Chappell op sosiale media geplaas het. Foto: Instagram

‘n Strokie van die Six Cocktail-kroeg in Melville, Johannesburg wat Katherine Chappell op sosiale media geplaas het. Foto: Instagram

ʼn Leeuwyfie het by die venster aan die passasierskant ingespring en Chappell gebyt. ʼn Ambulans is dadelik na die toneel uitgeroep, maar sy is dood terwyl paramedici besig was om haar te behandel. Die toeroperateur het ook beserings opgedoen in ʼn poging om die leeu van Chappell af te weer en is in die hospitaal opgeneem.

Intussen het Daily Mail berig die toeroperateur is Pierre Potgieter (66) van Kalabash Tours. Ten spyte van verskeie pogings deur Maroela Media, kon die maatskappy nie vir kommentaar bereik word nie.

Volgens Chappell se aanlyn-profiel het sy haar besoek aan Suid Afrika geniet. Ongeveer ‘n week gelede het sy ‘n foto op Instagram geplaas van haarself met ‘n drankie in die hand en die woorde, “Me likey Joburg”. Sondag het sy nog ʼn foto gedeel van ʼn strokie wat sy by die Six Cocktail-kroeg in Melville, Johannesburg gekry het. By die foto het sy geskryf dit is opvallend hoe goedkoop die drankies is en bevestig die pryse word in rand aangedui.

Volgens Simpson was verteenwoordigers van die Amerikaanse konsulaat Maandagaand by die Leeupark en sou hulle Chappell se familie van die voorval in kennis stel. Die leeu sal waarskynlik binnekort na ʼn ander perseel geskuif word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Carin ·

Dis vreeslik hartseer dat haar jong lewe kortgeknip is en ek voel baie jammer vir haar familie en vriende.
Die feit is dat sy en die “gids” die reels gebreek het deur met oop vensters te ry. Dit is soek vir moelikheid.

Cum Laude ·

Ja nee! Leeus het besige naweek gehad. Ook die Warathas opgevreet.

SNEL ·

Ek het met eers gedink sy en haar man het n kar gehuur en was in hul onkunde op hul eie daar en het net die kennisgewings geignoreer, maar n gids behoort mos van beter te weet, hy moes nie toegelaat het dat die vensters oop was nie. Dis baie hartseer dat haar jong en suksesvolle lewe deur iets wat verhoed kon word tot n einde moes kom.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.