Leeu dalk geskuif ná vrou sterf

leeuwyfieDie leeuwyfie wat Maandagmiddag ʼn vrou by die Leeupark in Honeydew, Johannesburg, doodgebyt het, sal waarskynlik na ʼn ander perseel geskuif word.

Scott Simpson, woordvoerder van die Leeupark, het aan Maroela Media gesê ʼn finale besluit is nog nie geneem nie, maar die leeu sal na alle waarskynlikheid na ʼn ander perseel wat ook deur die Leeupark besit word, geskuif word. ʼn Aantal leeus word by hierdie perseel aangehou, maar dit is nie oop vir die publiek nie.

Die vrou, ʼn Amerikaner vermoedelik in haar twintigs, het Maandag saam met ʼn onafhanklike toeroperateur in ʼn motor deur die Leeupark gery. Die motor se vensters was oop en ʼn leeuwyfie het by die venster aan die passasierskant ingespring en die vrou gebyt. ʼn Ambulans is dadelik na die toneel geroep, maar die vrou is dood terwyl paramedici besig was om haar te behandel.

Die man wat saam met haar in die motor was, het ook beserings opgedoen in sy poging om die leeu van die vrou af te kry en is in die hospitaal opgeneem. “Sy beserings is beslis nie gering nie, maar ek sou dit nie as lewensbedreigend beskryf nie,” het Simpson gesê. Hy het gesê die toeroperateur is nie aan die Leeupark verbonde nie, maar aan ʼn ander instansie wat toeriste na die Leeupark bring.

“Ons sal beslis nie die leeu laat uitsit nie, aangesien die leeu nie vir die voorval geblameer kan word nie. Beide vensters van die motor was heeltemal oop en die leeu het munt geslaan uit die situasie. Dit is te vroeg om te sê wie se skuld dit was, maar as ʼn voorkomingsmaatreël sal die leeu waarskynlik geskuif word.”

Volgens Simpson was verteenwoordigers van die Amerikaanse konsulaat Maandagaand by die Leeupark en sal hulle die vrou se familie van haar dood in kennis stel. Dit is egter nie duidelik of die konsulaat haar naam sal bekendmaak nie. Die leeu is vir tyd en wyl saam met ander leeus in ʼn kleiner kamp toegemaak terwyl die ondersoek aan die gang is.

Simpson het vroeër gesê besoekers aan die park word gewaarsku om hul vensters toe te hou wanneer hulle deur die leeukamp ry en waarskuwingskennisgewings is ook oral te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Theresa ·

Julle beter haar net skuif en NIE doodmaak nie…………………!!!!!!!!!!!!!!!!!

Corne ·

Weet jy, ek stem 100% saam. Dis baie sad dat sy dood is, maar ons was ook al daar en bly net om die draai van die leeupark. Daar die horde borde wat se maak jou vensters toe en moenie die diere voer nie, so wat hulle besiel het om die vensters oop te maak, sal net hulle weet. NIE rEGVERDIG om die leeu dood te maak nie, dis natuurlike instink. Menige simpatie met die familie. Corne Hough.

Anita ·

Ek was ook al by hierdie leeupark en onthou beslis die waarskuwings borde.

Hopenlik sal ‘n geval soos hierdie mense se oë oopmaak en besef dit bly ‘n wilde dier! Hulle jag en val aan indien hulle bedreig word.

Maar my hart gaan ook uit na almal betrokke, dit bly nog steeds ‘n tragiese en skrikwekkende voorval.

scalla ·

Hoekom skuif, los die leeu in vrede uit, ek glo nie n toekomstige besoeker sal met n oop ruit na al die waarskuwing tekens en gevolge daar ingaan nie.

Gideon ·

Ek kan nou nie dink waaroor die bohaai nie- los die leeu uit! Sy het niks verkeerd gedoen nie- Amerikaners altyd slim- as jy by die Grand Canyon gaan afspring gaan hulle beslis nie hom probeer toegooi nie!

Eliza-beth ·

Wag ‘n bietjie dit is ‘n TOEROPERATEUR wat hulle rondgeneem het – sy lisensie of di evan die firma vir wie hy werk, behoort weggeneem te word! Hy het sy kliënte se lewens in gevaar stel deur nie reëls na te kom en op waarskuwings ag slaan nie! Hy moes sorg dat vesnters toe is!Die Amerikaners is lief daarvoor om mense links en regs aan te kla, so as ek hy of sy firma is sal my broek bietjie begin bewe! Verder hoop ek nie hierdie “plek” waarheen die arme leeu geskuif is is ‘n slagpale nie!

agnes ·

Waaroor al die bohaai? Laat die leeu bly waar sy is en waarsku weereens die eiewyse en onnosel toeriste wat met oop vensters die leeus aandurf

Saartjie ·

Ek dink mens moet maar foto’s plaas SAAM met die waarskuwingsborde. AS jy jou venster nie toemaak nie, GAAN die volgende gebeur.. Dit sal vreeslik wees as die leeu die prys vir die mens se eie arrogansie moet betaal.

Debbie ·

hoe nou die arme leeu gaan skuif, die mensedom het mos nie oe om te lees nie of wil altyd slim wees, los die leeu in haar gemak sone.

Debbie ·

hoe nou die arme leeu gaan skuif, die mensedom het mos nie oe om te lees nie of wil altyd slim wees, los die leeu in haar gemak sone.

KarooKlong ·

Kom ons wag en kyk wie is die “onafhanklike toeroperateur” dan sal almal die erns van die saak verstaan. Daar is geen regulering of beheer oor die “onafhanklike toeroperateurs” wat by die lughawens staan en hulself aanbied aan die ligsinnige buitelandse dametjies nie.

Lisa ·

Ons was ook by die leeupark. Die leeus tree anders op as leeus in die Kruger Wildtuin. Die leeus wou ons voertuig se bande stukkend byt. Die leeus het ook ons voertuig bestorm en ons moes uit die hok jaag. Ek sal nooit weer die plek besoek nie. Na die voorval het die wag by die hek gese dat dit die hele tyd gebeur. ‘n Leeu wou op ons voertuig spring. As jy stil staan kom byt hulle jou bande, en as jy beweeg storm hulle die voertuig. Die leeus het hierdie gedrag aangeleer.

chantell ·

Waar in jou ganse lewe gaan jy jou venster wawyd oop he wanneer n leeu n meter van jou af is en dan fotos neem, o nee wat as jy nie vir jouself kan dink nie dan eindig jy in moeilikheid op. Baie mense het hulle gewaarsku maar nou neem ek aan as hulle kruger park toe gaan en borde sien wat se, moenie uit kar klim sal hulle uitklim en picnic hou

ladybug ·

Ek weet dat sy dood is, is hartseer, maar as jy nie ore het nie, moet jy voel!

Skuif net vir “Nala”, MOET haar nie straf vir die onnoselheid van die mensdom nie!

Leeupark te klein ·

Die “hokke” waarin die leeus gehou word is te klein. Hulle word in die hokke gevoer met vleis wat vanaf voertuie gegooi word. Die leeus verbind voertuie met kos.

Die vrou was 100% verkeerd om nie haar venter toe te hou nie, maar die opset by die leeupark is ook nie heeltemal reg nie. Gaan kyk ook hoe hulle Safari voertuie lyk. Die leeus het alle vrees vir mense en voertuie verloor, en wie het dit veroorsaak?

Indien die leeupark weet dat die leeus mense uit karre haal, waarom bly hulle toelaat dat voetuie in “leeuhokke” inry?

Daar moet eintlik ‘n behoorlike onafhanklike evaluasie gemaak word van “leeuparke”, want dit gee die Auid-Afrikaanse Safari bedryf ‘n slegte naam as toeriste deur leeus dood gemaak word. Dit is nie die leeus se skuld nie, maar die operatuers.

Wat is die nut daarvan om met ‘n voertuig in ‘n leeuhok in te ry as jy nie fotos kan maak nie? Jy kan nie behoorlike fotos deur ‘n toe venster maak nie. Jy kan eerder by die draad van die leehok staan en deur die draad fotos maak, maar dan storm die leeus die draad.

Ek was teleurgesteld met ‘n besoek aan die leeupark.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.