Leeu geskiet in Dundee

Die leeu wat in Dundee geskiet is. (Foto: Verskaf)

ʼn Leeu is Sondagoggend deur ʼn boer van Dundee in KwaZulu-Natal geskiet. Die leeu terroriseer blykbaar die gemeenskap sedert Februarie en lede van die gemeenskap soek maande lank al na die dier.

Só het Nomusa Dube-Ncube, LUR vir ekonomiese ontwikkeling, toerisme en omgewingssake, Sondag gesê. Sy sê die dier het ʼn gevaar vir plaasdiere en die gemeenskap ingehou en die betrokke boer het reeds ʼn permit gehad om die dier van kant te maak. Volgens die LUR is ʼn volledige ondersoek eers gedoen voor die permit uitgereik is.

“Die landelike gemeenskap, wat reeds onder armoede gebuk gaan, moes die bykomende las verduur van dié leeu wat hul veereserwes uitgedun het,” sê Dube-Ncube.

Die LUR sê sy besef dat natuurbewaring belangrik is vir werkskepping, maar dat die veiligheid van die gemeenskap, boere en hul vee vir die departement ʼn prioriteit is.

Sy sê as deel van haar departement se langdurige strewe na volhoubare natuurbewaring, is infrarooikameras in wildreservate in dié provinsie geïnstalleer om die stroping van diere te voorkom.

“Dié kameras maak gebruik van kunsmatige intelligensie wat beelde wat deur die kamera vasgevang word, te identifiseer en dadelik ʼn boodskap na ʼn beheerkamer te stuur, wat dan die nodige reaksiespanne in kennis kan stel,” sê Dube-Ncube.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Scalla ·

Hoekom die leeu nie verdoof en verskuif nie, ek dink daar was geen misdaad of inbrake in daai gebied nie.

Sê Ook Maar Net ·

Scalla, om ‘n verdowingspyl te skiet moet jy relatief naby die dier wees, wat gevaar inhou. Dis maklik as die leeu in ‘n hok is OF as jy ‘n ervare skut in ‘n helikopter het,wat BAIE geld kos. Glo dit was die mees praktiese oplossing om te skiet. Om ‘n vangkok op te stel is moeilik omdat die leeu rondbeweeg . Ek kry die arme leeu ook jammer maar ek is seker as die leeu elke aand ‘n hap uit jou bankrekening kom vat sal jy na maand drie sonder inkomste en kos dalk self die geweer vat. Ek lag lekker vir jou misdaad en inbrake…ek stem saam dit was seker lekker rustig vir die inwoners.

Amatambo ·

Hard soos dit mag klink was dit beter om die dier maar van kant te maak. Ek vermoed hy kon dalk van een van die reservate gedros het, en soos die berig lui, het hy reeds onder vee amok gemaak, maar die gevaar was daar dat hy dalk ‘n mens ook sleg kon gewond of doodgemaak het… as ek so na die foto kyk (indien dit dieselfde leeu is), lyk dit of hy reeds redelik honger gely het – sy ribbe is taamlik sigbaar… ai – dis jammer, maar soms moet daar terwille van veiligheid sekere moeilike keuses gemaak word…

Kokerboom ·

Dit is my gedagte ook!!!Was dit rerig nodig om dier te skiet!!!!!

Leon ·

So n rondloperleeu kan nogal groot skade berokken. Dalk beter om hom eers probeer pyl het.

Sonneblomkind ·

kon hul die leeu nie maar gedart en geskuif het nie

Sê Ook Maar Net ·

Gaan almal nou presies dieselfde vraag wat Scalla gevra het vra? Of lees julle nie die ander mense se kommentare nie? Leon en Sonneblomkind?

Patches ·

Arme leeu. Ons was nog altyd die indringers. Stem saam met Scalla.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.