Leeu geskiet ná hy personeel se lewe bedreig

Argieffoto ter illustrasie (Foto: designerpoint, Pixabay)

ʼn Leeu is Donderdagoggend by die Krugerwildtuin van kant gemaak nadat hy ʼn groep personeellede se lewe by die ruskamp bedreig het.

Histerie het vroegoggend in die Berg-en-Dal-ruskamp uitgebreek toe ʼn leeumannetjie by die woonkwartiere van ʼn groep van omtrent 50 personeellede en hul kinders ingestap het.

Isaac Phaahla, woordvoerder van die wildtuin, sê die leeumannetjie is doodgeskiet in die onmiddellike omgewing van die woonkwartiere. Dít nadat die wildbewaarder die leeu sonder welslae uit die ruskamp probeer verwyder het.

“Om die leeu te skiet, was ons laaste uitweg, maar ons moes dit doen, want hy het begin aggressief raak,” het Phaahla gesê. Geen personeellede is tydens die voorval beseer nie.

Die leeu het uit die groter kamp ontsnap, nadat ʼn hek klaarblyklik oopgelos is. “Dit was baie nalatig, want mense se lewe is toe in gevaar gestel,” het Phaahla gesê.

Volgens Phaahla gaan hulle ’n nadoodse ondersoek op die leeu doen. Die leeu was glo al baie oud en in ʼn slegte toestand.

“Ons probeer altyd reëls in die park handhaaf en lei ons personeel op vir wanneer hulle deur wilde diere gekonfronteer word. Hierdie voorvalle gebeur gereeld, maar gewoonlik nie met dodelike gevolge nie,” het Phaahla gesê.

Phaahla sê die veldwagters en wildbewaarders is goed opgelei om die situasie te hanteer ten einde te verseker dat niemand in die proses seerkry nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Sandra ·

Die leeu het uit die groter kamp ontsnap, nadat ʼn hek klaarblyklik oopgelos is. “Dit was baie nalatig, want mense se lewe is toe in gevaar gestel,” het Phaahla gesê. Dit is wat ek raakgelees het. Anders sou dit nie nodig gewees het om die leeu van kant te maak nie. Hy het seker net so groot geskrik, en die enigste manier om homself te beskerm, want mense het seker geskreeu en geraas, was om aggressief te raak. Hy was immers ‘n wilde dier.

Johan Venter ·

Ek sit en wonder die heel tyd waar is die ‘groter’ kamp, is dit Berg-en-Dal toeristekamp, of Die Wiltuin? Ek het elders ook gesoek, maar kan niks wyser word nie.

Ranie ·

Presies, hoekom het hulle hom nie gepyl nie, en terug kamp toe gevat nie, hoekom moet ‘n dier boet vir menslike nalatigheid!!!

Mia ·

Jy gaan wildtuin toe om wilde diere te sien. Die leeu is in sy natuurlike omgewing en ons as mens moet dit respekteer. Hulle kon eerder die leeu verdoof het en terug gevat het na sy kamp toe. Want, hy het niemand aangeval of gebyt nie, nou moes hy se lewe veloor het oor ‘n menslike fout.

Melanie ·

Ek verstaan dat hul geen ander uitweg gehad het as om die leeu te skiet nie… maar tog moes hul bylas dat die leeu al baie oud was en in n slegte toestand…. asof dit die rede staaf.. hy was n gevaar.. punt

Kwikkie ·

Dis n leeu……………..natuurlik gaan hy aggressief wees?!?!?!? Dis vir my sooooo hartseer dat hierdie diere altyd die slagoffers is van mense se nalatigheid :(

Leonie ·

En presies hoe het hy daar ingekom. Vir wat moet hy geskiet geword het??? Hulle kon hom eerder dart en weer uitvat. Agterlosigheid van die ruskamp se kant af. Niks werk ook meer soos vroeër jare in die wildtuin nie. Als gaan agteruit en als word geskiet. Swak!

Riana ·

Dis bitter hartseer! Hulle kon die leeu verdoof het en net verskuif het… hy was in sy omgewing!!!

Leon ·

Ons moet onthou, hy het nou mense se terrein bereik. Hy het gesien daar is “geblikte” kos. Hy sou weer probeer terugkeer. Dit is ook ‘n ander faktor wat ons moet in die oog hou. Dit is soos met bobbejane en ape. As hulle eers gevind het daar is maklike kos, dan kom hulle terug en jy kan onder geen omstandighede van hulle ontslae raak, buiten om hulle te dood nie. Dit is hartseer, maar deel van die natuur. Daarom sê hulle, moenie uitklim uit jou voertuig want jy maak die deur oop vir sulke dinge om te gebeur.

Toy ·

Vind uit wie die hek oopgelos het, hy/sy moet verantwoordelik gehou word.

Plaaskind ·

Nalagigheid van ombekwame personeel, dan moet dier met natuurlike instinkte daarvoor betaal met sy lewe. Gaan my verstand te bowe hoe mense nog in poste aangestel word, waarvoor hul geen passie of kennis van het nie. Jammer vir die leeu :(

Annatjie ·

Werk in die wildtuin maar geen liefde of geduld nie.
Dit is wreed om hierdie leeu dood te skiet nerens word daar eers melding gemaak van ‘n verdowing en hervestiging nie.
Sies vir julle

mOOiOOm ·

Vergelyk hierdie optrede met die van ‘n REGTE wildbewaarder, Rudi Lorist, wat nie bereid was om ‘n leeuwyfie met kleintjies te skiet wat hom en sy groep stappers aangeval het nie. Sy siening was dat daar op haar gebied oortree was, en hy is ernstig beseer in die proses. Op ‘n staptoer saam met hom het ons ‘n noue ontkoming met ‘n swartrenoster koei gehad. Op my vraag hoe na aan my sy dan moet kom voor hy skiet, was sy antwoord “Ek gaan nie skiet nie oom Brand, daar is net 360 (?) van hulle oor in die wildtuin.” My stelling dat daar net een van ek oor is, het op dowe ore geval!

Smurf ·

Dit is nou n jammerte dat so n dier agv nalatigheid van kand gemaak moes word , regtig hartseer . Kan my maar net voorstel as ek vroegoggend, nog deur die dinges geslaap , by die kamerdeur uitstap en jy kyk in daardie paar goudgeel oe vas ……daar gaan vir weke skoongemaak word…

netekalleen ·

En die spook wat die hek oopgelos het gaan ook nooit uitkom nie so hy kan dit weer en weer doen. Mense voeter in wilde diere se lee plekke in en dan kla hulle as daar drama is, Die wilde diere is baas daar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.