Leeubol laat kese snol

Kees se kind maak amok (Foto: Verskaf)

Wat gemaak as ʼn Kees-familie gereeld jou kos van die tafel af steel? Dis die vraag waarmee menige inwoner van Bettiesbaai lankal worstel, want die dorp se inwonende bobbejaantrop het nie brieke as hulle ʼn oop venster of deur sien nie. En boonop lyk dit asof ʼn orkaan deur die huis is wanneer hulle uiteindelik weer spore maak.

Die antwoord is om die indruk te wek dat die koning van die oerwoud naby is. Gooi ʼn paar leeubolle rondom jou huis en siedaar! Kees se kind gaan soek summier ander weivelde.

“Dis ʼn ekovriendelike manier om bobbejane op ʼn afstand te hou,” sê Elsa Wessels wat onlangs na Bettiesbaai getrek het en binne dae onder ʼn bobbejaan-strooptog deurgeloop het. “Ek ken dit van kleins af, maar die probleem is dat die leeus min is en die bobbejane baie, en waar kry ʼn mens nou leeubollie in die Wes-Kaap?”

Sakke leeumis (Foto: Verskaf)

Panthera Africa Big Cat Sanctuary in naby geleë Stanford was die antwoord. Panthera is soos ʼn aftreeoord vir lede van die grootkatfamilie wat uit haglike omstandighede of gevangenskap gered is en 21 witleeus word onder meer daar versorg. Die verkoop van leeumis aan die omgewing se boere is ʼn klein bydrae wat help om die spreekwoordelike pot aan die kook te hou, veral omdat besoekersgetalle afgeneem het tydens die staat van inperking.

Panthera vra R100 vir ʼn kruideniersak en R500 vir ʼn swart vullissak vol, maar hoe vervoer ʼn mens regte, egte leeumis in ʼn klein passasierskarretjie?

“Die stank is erg veral as dit begin sweet in die kattebak en dan is daar boonop padwerk op die roete tussen Stanford en Bettiesbaai, so in plaas van ʼn uur voel die rit soos tien uur,” vertel Wessels wat twee aanlyn koerante en ʼn aktiewe Facebookblad bedryf.

(Foto: Verskaf)

Sy sê die Kees-familie gooi glo ʼn “skewe leeu-loop-draai” op hul agterpote wanneer hulle Simba se onmisbare reuk bespeur en sedert die bolle in haar tuin lê, lyk dit asof die bobbejane nou elders amok maak. “Ek mis hulle amper, maar die bure is baie bly.”

In Bettiesbaai hang die bobbejaantroppe veral uit by plekke waar mense vullis opgaar voor dit weekliks verwyder word. Wessels sê die plaaslike munisipaliteit het onlangs R6 miljoen begroot vir sogenaamde bobbejaan-oplossings, maar sy glo die antwoord is leeumis. Mense ry reeds van ander dorpe af om by haar te kom koop en ander leeuparke in die Wes-Kaap het laat weet dat hulle ook sakke vol kan voorsien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

10 Kommentare

jongste oudste gewildste
Elsabe

Oulike storie.

JohanF

Hahaha, pragtig ….

Termiet

Het gehoor dit hou tot jou buurman se hond van jou grasperk af. Hy bollie liewers op sy eie gras.

Piet

Ongelukkig kos dit net een brawe en slim bobbejaan om hierdie foefie uit te figure dan is dit weer nag.

Elsa

Ons het dit gedoen om rondloper honde (en katte) the weg te hou. Kan waarborg dit werk.