Leeudoringstad-plaasmoord: Verdagte in hof

Argieffoto

Argieffoto

Joseph Hala (24), die enigste oorlewende verdagte van drie aanvallers wat Saterdag glo Johan Janse van Rensburg op sy plaas naby Leeudoringstad vermoor het, het Dinsdag vir die eerste keer in die dorp se rondgaande hof verskyn.

Kol. Sabata Mokgwabone, polisiewoordvoerder van Noordwes, het gesê Hala staan tereg op aanklagte van moord, huisbraak en ontvoering.

Voorlopige ondersoek dui daarop dat hy in 2012 ʼn verdagte was in ʼn huisbraak. Sy twee medepligtiges tydens die voorval is toe 15 jaar tronkstraf opgelê, terwyl hy vrygespreek is.

Sy saak is tot 4 November uitgestel vir verdere ondersoek. Hy sal dan ook na verwagting aansoek doen om borgtog.

Maroela Media het vroeër berig Janse van Rensburg, ʼn beesboer van die plaas Droëkraal, en twee vermeende aanvallers, is tydens Saterdag se voorval dood.

Drie mans het die middag omstreeks 14:00 twee werknemers, ʼn man en ʼn vrou, op Janse van Rensburg se plaas oorval en vasgebind. Hy het later by die werkers se huis opgedaag, waarna hy noodlottig gewond is. Die aanvallers het Janse van Rensburg se liggaam in sy bakkie gelaai en daarmee gevlug. Die werkers kon hulself loswikkel en het hulp ontbied. Boere van die plaaswagstelsel het die verdagtes agternagesit en voorgekeer, waarna ʼn oor-en-weer-skietery plaasgevind het. Twee van die rowers is op die toneel dood en Hala is in hegtenis geneem.

Die polisie het tydens die voorval op vier vuurwapens beslag gelê en is steeds besig om te ondersoek aan wie dit behoort.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.