Leeuplaas reageer ná 12-jarige se dood

Argieffoto

Argieffoto

Louis Pulzone, uitvoerende hoof van die Otavi Game Lodge waar ʼn 12-jarige seun Donderdagoggend deur ʼn leeu aangeval is, het Vrydag in ʼn verklaring gesê hulle sal nog jare lank die afsterwe van die kind betreur.

Maroela Media het vroeër berig Nkalemelo Latha (12) was ʼn weeskind wat by sy suster en haar man by die Otavi Wildlife Sanctuary gewoon het toe hy deur die leeu aangeval is.

Pulzone het gesê Otavi het Vrydag eers die verklaring uitgereik omdat hulle seker wou wees van die feite en dat alle moontlike ondersoeke eers gedek is voor hulle enige verklarings wou uitreik wat slegs op menings gebaseer is.

Hy het verduidelik hul administratiewe assistent kon nie direk ná die aanval die telefoon antwoord nie, aangesien sy die aanval sien gebeur het.

“ʼn Algemene werker van Otavi het ongemagtigde toegang tot sleutels bekom wat in die lodge se kantoor was,” het Pulzone in die verklaring gesê. “Die sleutels is saam met die res van die kampe (nie hokke nie) se sleutels gebêre en dié kampe was behoorlik gesluit en veilig, soos die voorgeskrewe reëls en regulasies.”

Volgens Pulzone het die man, nadat hy die sleutels glo gesteel het, sy daaglikse pligte, wat deur die opsigter aan hom voorgehou is, versuim en hy het die hek na die spesifieke leeukamp oopgesluit en Nkalemelo saam met hom in die kamp ingeneem.

Hy het verduidelik die kamp is 2 hektaar groot.

“Hy het ongeveer 60 meter saam met die seun in die kamp ingestap waar die leeus die seun aangeval het. Dit is nog nie duidelik waarom hy dit gedoen het nie, want al die kampe het behoorlike voer-gebiede en die leeus het deurgaans toegang tot water. Niemand hoef dus vir dié doeleindes in die kamp in te gaan nie.”

Volgens ooggetuies was die leeus in die kamp en nie in die voer-gebied nie, wat dit dus nog meer gevaarlik gemaak het.

“Ná die aanval omstreeks 09:00, het die plaasopsigter, David, met ʼn bakkie in die kamp ingery om die seun te probeer red. Hy kon die leeus wegjaag en die seun het steeds geleef, maar het byna nie beweeg nie. David en ons administratiewe assistent Monique het dadelik ʼn ambulans ontbied.”

Volgens Pulzone was hulle was egter besorg dat die ambulans te lank neem, en hulle het besluit om self met die kind na die hospitaal te ry. Hulle het die ambulans op pad ontmoet. Nkalemelo het ongelukkig in die ambulans aan sy wonde beswyk.

“Dit is ʼn baie tragiese dag vir myself en ons span. ʼn Dag wat ons nooit sal vergeet nie. Dit is veral tragies dat ʼn belegging van R2,5 miljoen uit persoonlike fondse om behoorlike veiligheid te verseker, nie dié menslike fout kon verhoed nie.

“Ons het dadelik die familie probeer kontak om ondersteuning aan te bied, maar ons was onsuksesvol, aangesien David die seun se enigste familielid is. Ek het self twee seuns en veiligheid op ons plaas is dus ons grootste prioriteit.”

Pulzone het gesê hulle bid dat hulle kan verstaan waarom dit gebeur het en hulle vra leiding om dié tragiese voorval te verwerk.

Pulzone het verduidelik dat Otavi nie ʼn leeupark is nie en dat dit definitief ook nie ʼn plek is waar leeus geteel word nie. “Otavi het vier verskillende roofdiere en 11 verskillende wildedierspesies. In die twee jaar wat ek al die plaas besit was hier nog nooit enige teling vir persoonlike gewin nie. Die fokus is om ʼn behoorlike opvoedkundige ervaring te skerp vir persone wat andersins nie dié geleenthede sou hê nie. Ek nooi enigiemand om na ons diere en ons veiligheidsmaatreëls te kom kyk. Kom kyk gerus ook na die gesondheid van ons diere en dan glo ek julle sal self menings vorm gebaseer op feite.”

Pulzone het bygevoeg as ʼn pa is hy gewalg deur die sensasie wat gewek is oor die situasie sonder dat mense vir ʼn oomblik aan die 12-jarige seun gedink het. “ʼn 12-jarige seun het sy lewe verloor deur ʼn volwassene se dwaasheid. Dit is ʼn tragedie wat ons nooit sal vergeet nie.

“Otavi tref die uiterste voorsorgmaatreëls om seker te maak dat enige tragedie verhoed word. Gister was werklik ʼn tragiese dag vir ons en ons sal jare lank nog die afsterwe van die kind betreur. Ons moet met die gevolge saamleef dat ons nie hierdie werknemer kon verhoed om die sleutels uit die kantoor te steel en só toegang tot die kamp kon bekom nie. Ons innige meegevoel aan elke werknemer en familielid en ons bid vir hulle.”

Lees alle vorige berigte oor die Otavi-leeuplaas op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

26 Kommentare

Ig ·

Daar is die feite nou .Wonder wat die galbrakers nou weer gaan kwyt raak?

Rapes ·

Ig jy’s reg ,maar nou sal jy seker niks hoor nie. Seker skaamkwaad.

Winston ·

Ja daar sien ons nou die waarheid. Onbesonne daad deur n traak my nie agtige persoon wat hom nie aan reëls gesteur het nie. Sy dwaasheid het n seun sy lewe gekos. Leeus is nie groot katte nie en hy het dit mos geweet.

Cherokee ·

Nou wat op aarde dink jy is leeus? Hulle is juis dit… groot katte.

vermeende ·

lg, mense maak afleidings volgens dit wat voor hulle is.
Galbraak?
Nee, n kind is dood en dit laat my warm onder die kraag.
Kom laat ek se wat staan vir my uit.
Vir die heel dag kon die dame wat dit gesien het nie vervang word nie en dit terwyl dit klaar in die media, moontlik waar maar dis n groot besigheid.
Wie is die verantwoordelike persoon van die kampe se sleutels, was daai sleutels toe gesluit, glo nie ons sal ooit weet hoe die sleutels hanteer was nie.

Nee dis nie galbraak nie, dit kon my kind gewees het.

Kaufman ·

Stem saam, daar is baie mense wat werklik besorgd is oor ander. Kon vroeer ten minste iets gese het maar so leer mens. Dit klink asof dit n eerste krisis was want wie weet, dis dalk eerste reeds omdat als glad verloop en goeie veiligheidsmaatreels in plek is.

Leon Pit ·

Jip stem saam gooi die feite oppi tafel, gister se berig se kommentaar was so lank tot inni Kaap. En nou is daar n paar regte feite so waar is die kommentaar galblaasers.

humor ·

Ag man vervlaks tog man N ee die man moes seker dit voosien het en die sleutels in n ondergrondse konkreetkamer met elektroniese slotte en 12 veiligheidswagte versteek het, en as dit sou gebeur dan sou daar nog altyd kritiek wees.

Wouter ·

Ja so lees ek ook die galbrakers van gister se kommentaar. Leeus teel en skiet en jag vir eie gewin. Voordat julle die feite gehad het. Sies. Wat soek daai man met n kind tussen Leeus. Met gesteelde sleutels. RIV seun.

Sputnik ·

Wat is nou juis die groot pyn wat Vermeende het oor die dame wat nie vervang kon word nie? As ek daar in beheer was sou ek verseker nie die media tewoord gestaan het voor ek nie al die feite gehad het en my prokureur geraadpleeg het nie. Dit is ‘n wyse persoon wat só handel.

Wat-ek-lees ·

Weereens ‘n bewys dat wat ek lees, wat ek hoor, selfs wat ek sien moontlik vêr verwyder is van wat my verstand vir my sê. Die mens is oor die algemeen só ingestel om die groot nuus, d.w.s. die sensasie te soek in ‘n gebeurtenis.

vermeende ·

Sputnik dit moet darem n vreeslike ervaring wees om te sien hoe n leeu n mens jag en vang en jy kan niks doen nie. Glo maar as ek dit moes sien dan sou dit my laaste dag daar gewees het.
Lees die vorige 2 berigte en veral die eerste berig gister. Maroela bel en elke keer word die foon DOOD gedrik so hy was beman en geantwoord maar as dit die media is dan word hy sonder verskoning net dood gedruk, dit maak nie sin nie ne want vandag se hulle, hulle het nie geantwoord nie oor die gebeure…….tensy Maroela in hulle berig lieg of so bietjie by gevoeg het?
Wie weet, ek weet nie, weet jy?

Kaufman ·

In my opinie gebasseer op bittermin feite is hierdie n tragiese ongeluk wat onverwags en ongewoon is. Wie sou ooit kon verwag dat n werker so iets doen? Dit is maar soos n werker wat n geweer skielik uitpluk, of enigiets mal doen, mens kan nie help nie. Selfs al was daar hoe streng sleutelbeheer, wie sou dink dat n werker n kind in die kamp invat en na die middel van die kamp stap wat nie gewoon is nie. Dit klink vir my meer na die werker wat die kind wou doodmaak (of diefstal dalk en die kind moes help?) en dat die werker se motief ondersoek moet word. Verder, dis moeilik om werkers te bestuur in hierdie land met sy absurde arbeidswette. Entrepreneurs het soveel wette en regulasies om in ag te neem, so mens moet aanvaar dat fratsongelukke kan gebeur, en dat werknemers mal kan optree. Dankie vir die die duidelikheid, en dat julle bereid is om die veiligheidsmaatreels te wys.

Andrea ·

Nie heeltemal nie. Die leeus kan die werker, die werker het seker kennis of iets om die leeus op hulle plek te sit, en baie belangrik, leeus kies eerder kinders want hulle is meer weerloos en die werker weet dit moontlik.

Pierre Celliers ·

Wat was die bedoeling om sleutels te steel om by ‘n leeu-kamp in te gaan, waar die werker weet dit lewens gevaarlik is? Maak geen sin nie, nie eers om ‘n moord te pleeg nie, hy kon netsowel die slagoffer wees.. Baie onnosele manier van moord pleeg. Jammer maar ek sluk nie hierdie storie maklik nie.

Gert ·

Gaan loer bietjie op julle Facebook blad Otavi Lion Park, die ouens doen nie heeltemal so eerlik besigheid nie. So kan die CEO geglo word wat hy hier se?

Dottie ·

R.I.V klein mannetjie???? So jammer dat jou lewe op so ‘n tragiese manier kort geknip is

SNEL ·

Ek dink Louis Pulzone, het reg opgetree deur nou eers nadat hulle al die feite het dit eers te deel met die publiek. Dis beter as wat hulle net in n rigting in gehardloop het. Met so insident by n ou se plek, glo ek dis n geskarrel met polisie en almal daar, so ek neem hulle nie eers kwalik nie. Ek voel ook in so geval waar mens met gevaarlike diere werk en almal wat daar werk die reëls ken, kan hulle ook nie verantwoordelik gehou word vir n agteraf persoon wat sleutels wat hy weet hy nie toegang toe het nie, steel en dan sonder enige een se medewete n onskuldige kind saam met hom in die hokke invat nie. Duidelik het die skuldige ook nie die gevaar besef nie, want hy was saam met die kind in die hok. Baie sterkte vir almal betrokke, julle is in n vreeslike posisie hier geplaas.

Laura Muller ·

Ek voel nou so jammer vir die eienaar Louis, en almal wat deur hierdie tragedie geraak word! Sterk staan, this too shall pass.

MissDemeanor ·

Wel duidelik was my vorige komentare in die ander berig onregverdig. Sjoe dit is verskriklik. Dit is ‘n verskriklike manier om te sterf, om vir so ‘n lang tyd in die veld te le en bloei terwyl leeus aan jou kou. Waarom, waarom, waarom sou die werker dit doen? Die leeus kon hom ook byt? Was hy nie bang nie, of het hy nie gedink dit gaan gebeur nie?

Pro-Leeu ·

Die werker moet ondersoek word. Was hy verstandelik stabiel of het hy gedink hy ken die leeu so goed dat die nou soos n skoothond sal reaggeer? Mens ken nie eers jou eie hond so goed nie. Case in point, Labrador wat kind verskeur. Daar is natuurlik net hierdie jaar baie minder mense deur diere gedood as deur ander mense. Wat se dit vir ons?

Pierre ·

Stem. En as daai werker nou n bakkie gesteel het en die kind gedood het sou daar seker nou nie so groot ophef en kommentaar wees nie. Dit gaan nou net oor die leeus. Die feit bly staan die kind is dood en dit deur n groot mens se doen en late.

waarheid ·

Weereens sal dit interessant wees of dié werker onder enige invloed was, of ‘n gebruike van dwelms dalk? tydens dié spesifike voorval.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.