Leeus reggemaak om spesie in klein reservate te bestuur

Leeus rus onder ʼn boom by die Rietspruit-wildreservaat in Hoedspruit (2 Desember 2021) (Foto: Wikus de Wet/AFP)

Op die randjie van seksuele volwassenheid, word ʼn jong leeuwyfie gesteriliseer. Dit sal verhoed dat sy met haar pa en ooms teel – die enigste drie wilde mannetjies op ʼn klein reservaat in Hoedspruit in Limpopo.

Parke soos dié beskerm ongeveer 700 leeus slegs in Suid-Afrika, maar die troppe moet baie noukeurig bestuur word om oorbevolking en intelery te voorkom.

“Onder normale omstandighede sal dit nie gebeur nie, omdat die mannetjies deur ander mannetjies vervang sou word,” sê bestuurder Kevin Leo-Smith.

In groot reservate kan leeus op groot oop veld ronddwaal – tot 12 000 hektaar. Slegs die sterkstes oorleef, omdat troppe territoriaal is en teen ander roofdiere meeding vir kos. Kleiner karnivore val welpies aan en mannetjies kan mekaar verskeur. Die nege leeus van Rietspruit-wildreservaat word egter nie bedreig nie.

Bokke wei op die 5 500 hektaar grond naby die Krugerwildtuin en daar is te min hiënas, luiperds of jagluiperds om ʼn bedreiging vir hulle te wees. Die enigste drie mannetjies is hegte broers wat graag beurte maak met die wyfies.

“Die grootste probleem is genetiese diversiteit,” sê Leo-Smith. “Leeus teel baie vinnig aan.”

As hulle aan hul eie lot oorgelaat is in ʼn oorvloedige omgewing, sal hulle vinnig vermeerder, die reservaat se diere opvreet en dan na nabygeleë veeplase aanbeweeg.

Die nege leeus is al wat die reservaat tans kan akkommodeer.

ʼn Leeuwyfie by die Rietspruit-wildreservaat in Hoedspruit (1 Desember 2021) (Foto: Wikus de Wet/AFP)

Die ma is op geboortebeperking en haar vier tienerdogters moet gesteriliseer word. Een ouer wyfie is ook gesteriliseer.

Die operasie vir die betrokke jong wyfie duur ongeveer vier ure en is gekompliseer omdat die trop ʼn sebra verorber het. “Sy het ʼn vol maag gehad. Dit het die operasie baie moeiliker gemaak,” sê veearts Peter Rogers.

Natuurbewaarders en bestuurders van klein reservate het in 2010 ʼn forum gestig om hul wilde leeus as ʼn “meta-bevolking” te bestuur. Die Leeubestuursforum van Suid-Afrika (LiMF) monitor ongeveer 700 leeus op 59 reservate. Natuurlike prosesse word nagemaak deur aantelingskoerse te beheer en mannetjies uit te ruil. Noukeurige bestuur verseker dat die meta-bevolking teen ʼn bestendige 2% per jaar groei.

“As ons dit nie bestuur het nie, sou die bevolking met ongeveer 22% per jaar gegroei het,” verduidelik LiMF-voorsitter Sam Ferreira aan AFP. “Dit klink goed, maar die moeilikheid is dat ons nie baie ruimte daarvoor het in Suid-Afrika nie.”

Wilde leeus sterf wêreldwyd uit, maar Suid-Afrika het ʼn oorvloedige en groeiende bevolking van sowat 3 500 – ongeveer 17% van die wêreld se totaal.

“Kleiner reservate het die afgelope 30 jaar leeus met waarskynlik 50% laat toeneem,” sê Leo-Smith. Rietspruit se mannetjies sal met jonger leeus vervang word wanneer hulle ouer word, en van die wyfies se geboortebeperking sal dan opgeskort word.

Hulle bly egter tot dan die konings met hul goue maanhare. “Ander reservate sal hulle waarskynlik inneem wanneer hulle oud word,” voeg Leo-Smith by. “Hulle sal baie aanloklik wees vir fotografiese doeleindes.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Elinette ·

Ge-demaskuleer ……………. die arme manne!!! Nou is hul kanse om hul eie bloedlyn te bevorder daarmee heen.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.