Leeus, tiere gered, gevlieg na SA

Tiere word gered uit aanhouding by ‘n sirkus in Suid-Amerika. (Foto: Skermgreeep)

As deel van  ʼn historiese reddingspoging sal 12 tiere en vyf leeus Sondag per vliegtuig na Suid-Afrika gebring word om ʼn nuwe lewe hier te begin.

Die diere word vanaf die stad van Guatemala gebring, nadat Animal Defenders International (ADI) hulle uit sirkusse in die Republiek Guatemala in Suid-Amerika gered het.

Die diere, wat jare lank in klein ruimtes aangehou is, is nou op pad na die ADI-wildreservaat in die Vrystaat. Volgens ʼn persverklaring deur ADI beslaan dié reservaat sowat 445 ha.

Die vlug vanaf Guatemala sal na verwagting Dinsdag in die vroeë oggendure op die Internasionale Lughawe O.R. Tambo in Johannesburg land.

ADI werk die afgelope 18 maande reeds met regeringsbeamptes in Guatemala saam, om ʼn verbod op diere in sirkusse toe te pas. Die verbod is reeds sedert 2018 geldig. Tot dusver is 21 leeus en tiere gered en in tydelike reddingsentrums aangehou totdat hulle na wildreservate vervoer kan word. Die ADI het soortgelyke reddingsaksies in Peru, Colombië en Bolivië uitgevoer en in die proses reeds sowat 200 diere gered.

“Hierdie diere moes ʼn leeftyd van lyding en mishandeling verduur. In samewerking met die regering van Guatemala, kon ADI ʼn einde bring aan hul lyding,” sê ADI se president, Jan Creamer. “By die wildreservaat in die Vrystaat kan ons vir hulle ʼn soortgelyke lewe bied as die een wat van hulle af weggeneem is.”

Dié wildreservaat bied reeds ʼn tuiste vir 26 leeus. Almal behalwe een leeu is gered uit sirkusse in Peru en Colombië. “Weens die vlak van mishandeling wat hierdie diere ervaar het en hul aanhouding in klein ruimtes, kan hulle nie meer as wilde diere op hul eie oorleef nie,” sê Creamer.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Iens ·

Hoop nie hulle word hier gebruik vir geblikte jag nie. Die Vrystaat is vir my sinoniem met leeuplase en geblikte jag. As dit kon, moes hulle eerder onder Kevin Richardson se sorg geplaas word.

Marie ·

Moenie nonsens praat nie, hulle word hier opgevang deur mense wat kyk na hulle. Ek wil nie name noem nie omdat dit die diere in gevaar sal stel.

Betsie Nieuwoudt ·

Ek sal my linker arm gee om met sulke diere te werk
Dankie vir elkeen betrokke om hierdie pragtige diere te red

Antjie ·

Die foto sê Noord Amerika en die berig sê Suid Amerika. Waar nou eintlik

Helga naude ·

Ek sou dit nie rugbaar gemaak het nie. Nou nou kom hulle ook af op karkasse sonder naels en tande!!

Clyvia ·

Jean, miskien moet jy net weer die berig lees. Almal behalwe 1 leeu is gered uit sirkusse uit. Hulle praat van die Leeus wat reeds op die Wildreservaat is.

Ronel ·

Red sommer ook die leeus wat deur McLaren se sirkus gebruik word asseblief.

D ·

Dankie Jesus…ook die diere behoort aan U. Ek bid dat dit steeds verder sal uitbrei.

Heksie ·

Ai, die arme diere wat so uitgebuit word. Hopelik is hierdie nou hul laaste tuiste en gaan hulle rustig verder hier kan leef.

Narre ·

Dankie Jan Creamer en almal betrokke. Sal wonderlik wees indien McLaren ook gestop sal word om diere te gebruik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.