Leeus, tiere uit en tuis ná ‘groot trek’

AfriForum se veiligheidsmaatskappy, Forum Sekuriteit, het gehelp het om die groot katte te vervoer (Foto: Forum Sekuriteit)

Verskeie organisasies het ingespring en gehelp om 12 leeus en twee tiere van die Ubuntu Wildlife Sanctuary in Groot-Marico, Noordwes, oor meer as 1 200 km na hul nuwe tuiste in Oudtshoorn, Wes-Kaap, te verskuif. Een van dié weldoeners was AfriForum se veiligheidsmaatskappy, Forum Sekuriteit, wat gehelp het om die groot katte te vervoer.

Die Ubuntu Wildlife Sanctuary, ʼn niewinsgewende organisasie, het vroeg in 2020 ʼn kennisgewing ontvang om die grond wat hulle in Groot-Marico gehuur het, te ontruim. Dié wildreservaat kon egter, met die hulp van ʼn finansiële belegger, 1 650 ha grond tussen die Oudtshoorn- en Mosselbaai-distrik koop en het besluit om soontoe te verhuis.

Die groot katte is verdoof voordat die groot trek begin het (Foto: Ubuntu Wildlife Sanctuary, Facebook)

Jurg Olsen en spanleier Robert de Bruyn het begin Mei aangekondig dat die kampe vir die leeus en tiere by die nuwe tuiste klaar ingerig is en die groot trek van die diere, van die noorde tot die suide van die land, het op 21 Mei afgeskop. Die katte het hulle reeds tuisgemaak by hul nuwe tuiste.

Llewellynn Hemmens, verteenwoordiger vir Forum Sekuriteit, vertel om die groot katte oor duisende kilometers te vervoer, was nie ʼn maklike taak nie.

“Dié verskuiwingsoperasie het ʼn konvooi van 23 voertuie met altesaam 70 mense wat die lang pad aangedurf het, ingesluit. Dit het 23 uur geduur om van Groot-Marico tot in Oudtshoorn te reis,” vertel Hemmens.

Die hervestiging van die leeus en tiere het ʼn konvooi van 23 voertuie met altesaam 70 mense wat die lang pad aangedurf het, ingesluit (Foto: Ubuntu Wildlife Sanctuary, Facebook)

Forum Sekuriteit het lug- én grondvlakbeskerming gebied deur saam in die konvooi te ry, asook sy lugvleuel in te span met drie vliegtuie en twee hommeltuie wat om die beurt diens afgewissel het.

Die volle duur van die operasie was 55 uur en het laat Sondagmiddag (23 Mei) tot ʼn einde gekom.

Hemmens vertel dié hervestigingsprojek vorm deel van Forum Sekuriteit se rol om gemeenskappe by te staan en die beskerming van wild speel ook ʼn rol in die weerbaarmaking van gemeenskappe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Piet ·

Dankie aan almal. Dit is ‘n belgging van onskatbare waarde.

Patch ·

Het die video op Jacaranda FM se blad gaan kyk en saam gehuil. Fantastiese werk aan al die betrokke partye! Ek salueer julle.

Ansie ·

Hoop hierdie pragtige diere sal ‘n wonderlike lewe in hulle nuwe tuiste hê. Baie dankie aan almal wat gehelp het met hierdie groot (en grootse) taak. Seën vir julle.

Karina ·

Fantasties – baie dankie vir almal se bydra om die katte in ‘n nuwe tuiste te vestig. Van groot tot klein, wild en die huis, ek is baie liefde vir die kat familie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.