Leeus toe nie van Vrystaat-plaas verwyder

Leeus op die plaas Driehoek in die Wesselsbron-distrik. Foto: Verskaf

Vroeëre bewerings deur die Vrystaatse owerhede dat daar op 31 leeus beslag gelê is op dieselfde plaas waar Hendrik Reyneke verlede week op aanklagte van kinderarbeid en mensehandel in hegtenis geneem is, is nie waar nie.

Maroela Media het vroeër berig Reyneke, ʼn arbeidsmakelaar van die Wesselsbron-distrik, is Donderdag op aanklagte van kinderarbeid, mensehandel en die oortreding van die basiese voorwaardes vir indiensneming in hegtenis geneem. Dit kom nadat bewerings aan die lig gekom het dat Reyneke seisoenale werkers van Setlagole, Madibogo en Delareyville af laat kom het om op plase in die Vrystaat te werk en dat sommige van die werkers glo minderjarig was.

Daar is ook bewerings gemaak dat sommige werkers minder as die minimum loon of glad nie betaal is nie, dat die werkers glo vrot vleis gegee is om te eet en dat die werkers na bewering in haglike omstandighede moes bly.

Kapt. S’fiso Nyakane, woordvoerder van die Valke, het verlede week in ʼn verklaring gesê daar is ook op 31 van Reyneke se leeus op die plaas Driehoek beslag gelê weens “nienakoming van permitvoorwaardes”.

Tobie Bird, Reyneke se swaer, het dit egter ten sterkste ontken en gesê daar is op geen leeus beslag gelê nie. “Die leeus behoort in elk geval nie aan Hendrik nie, maar aan my en my vrou. Dit was my skoonpa se leeus wat hy aan ons gegee het nadat my skoonma oorlede is,” het Bird verduidelik.

“Omdat die hokke reeds op sy plaas opgerig is en die permitte vir die leeus reeds aan hom uitgereik is, word hulle steeds op sy plaas [Driehoek] aangehou. Dit is dieselfde plaas waar Hendrik ook woon, maar die leeus het niks met Hendrik te doen nie. Dit is nie sy leeus nie en ook nie sy plaas nie.”

Hy het verduidelik dat die plaas se naam eintlik Zoetlaagte is, maar dat dit onder almal in die familie as Driehoek bekendstaan, omdat die plaas in die vorm van ʼn driehoek is.

Bird meen die owerhede se onverwagse ondersoek na die aanhouding van die leeus is deel van ʼn heksejag, aangesien die owerhede daarvan bewus is dat die leeus nie aan Reyneke behoort nie. Bird hou egter vol dat die nodige permitte uitgereik is om 31 leeus aan te hou en dat daar aan al die voorwaardes voldoen is vir die aanhouding van die leeus.

Maroela Media is in besit van ʼn afskrif van ʼn permit wat op 19 Mei 2017 deur die departement van ekonomiese ontwikkeling, toerisme en omgewingsake (DETEA) uitgereik is. Op die permit word aangedui dat 31 leeus op Zoetlaagte aangehou mag word en dat die permit op 19 Mei 2018 verval. By die permit is ʼn lys aangeheg van 31 leeus se mikroskyfie-nommers.

Leeus op die plaas Driehoek in die Wesselsbron-distrik. Foto: Verskaf

“Ek weet nie hoekom hierdie kamtige ondersoek nou gedoen word nie. Daar was ʼn beampte van natuurbewaring op die plaas om oor die permit vir die leeus navraag te doen en ons het vir hom die permit gewys waarop aangedui word dat 31 leeus aangehou moet word. Nog steeds hou hulle vol dat daar net ʼn permit vir 17 leeus uitgereik is,” sê hy.

“Hierdie ‘ondersoek’ deur natuurbewaring gaan maande neem om af te handel en terwyl die ondersoek aan die gang is, mag ons geen leeus van die plaas af skuif nie. Dit beteken ons kan nie met ons sakebedrywighede voortgaan nie en natuurbewaring se gesloer kos ons nou honderde duisende rande net omdat hierdie mense nie in staat is om hul werk te doen nie.”

Bird het gesê hy oorweeg om regstappe teen die DETEA te neem en wil ook seker maak dat die ondersoekbeampte in die saak, aan wie die permit vir die leeus glo getoon is, persoonlik aanspreeklik gehou word.

Festy Nyamate, woordvoerder van die Vrystaatse DETEA, het op navraag aan Maroela Media bevestig dat daar op geen leeus beslag gelê is nie, maar kon nie bevestig aan wie die leeus op die plaas behoort nie. Sy het ook geen verduideliking gegee hoekom daar aanvanklik beweer is dat daar op die leeus beslag gelê is wanneer dit nie die geval is nie.

“In die stadium kan die departement slegs bevestig die enigste permit wat gevind of beskikbaar is, is vir die boer om 17 leeus aan te hou en nie 31 nie. Die leeus is nie van die plaas af geskuif nie, aangesien die saak steeds deur die verskeie betrokke departemente ondersoek word,” het sy gesê.

“Aangesien die ondersoek steeds aan die gang is, sal daar na verwagting teen die einde van die week meer inligting beskikbaar wees.”

Intussen sal Reyneke Woensdag weer in die plaaslike landdroshof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

willie ·

Alles dui op ñ heksejag pleks dat hulle hul mense oplei waar nodig om so doende hul werk te doen!

Ww ·

Stap op alle terreine weg van die gedagte of doel om te probeer goed doen aan die mense, dit byt jou op die ou end

Pop ·

Het die Hawks nie moordenaars inbrekers en verkragters om te soek nie. Vir wat gaan hulle nou so te kere oor leeus. Dalk bang die leeus vreet een van n bedreigde spesie op, lol. Wens ek kan my oe toeknyp en in ander land wakker word. Waar n regering met verstand aan die stuur staan.

Pop ·

Ww jy praat die waarheid. Boere, gaan kry studente in vakansie tyd om julle te help.

Catherine ·

Arme bloedjies..my kinders het al van n baie jong ouderdom begin werk vir sakgeld….kinderarbeid se voet. As jy iets wil hê, werk daarvoor. Wat is nou so verkeerd daaraan?ly dan maar honger of doen sonder iets wat jy graag wil hê!!!!

Niccy ·

Dit is nonsens die kinder arbeid storie. Vrot vleis?? hul hang dan hul vleis aan drade langs hul huise… Almal sal wil werk en het jare terug begin om seisoenaal op plase gaan werk. Daar is ooreengekom op ‘n loon en hulle het maar te maklik ingestem. Vir die wat weet,hoeveel keer word daar daagliks geld geleen, op die boek voorrade soos twak ensv aangekoop en op betaaldag is daar nie meer veel oor van hul lone nie. Oral kry werkers lone en leen hul gedurende die maand. Die boer moet hul sy skuld boekie wys!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.