Leeus verras besoekers by Sun City

Om op ʼn wildrit te gaan en te sien hoe ʼn leeu ʼn prooi vang, is ʼn seldsame gebeurtenis. Om minder as ʼn uur later ʼn tweede leeu dit te sien doen, is werklik skouspelagtig (Foto: Verskaf)

Om op ʼn wildrit te gaan en te sien hoe ʼn leeu ʼn prooi vang, is ʼn seldsame gebeurtenis. Om minder as ʼn uur later ʼn tweede leeu dit te sien doen, is werklik skouspelagtig. Dit is presies wat gebeur het toe besoekers by Sun City die afgelope naweek ʼn wildrit in die Pilanesberg Natuurreservaat onderneem het.

Mankwe Gametrackers se veldgids, Tarryn Rae, wat saam op die rit was, sê in ʼn verklaring uitgereik deur Sun City die besoekers het die oggend omstreeks 11:00 op ʼn trop leeus afgekom wat ‘n jong sebra platgetrek het. Daar was twee mannetjies, drie wyfies en drie jong leeus.

“Ons was gelukkig toe ons die besigtiging met ʼn paar van ons besoekers kon deel. Dit was ʼn bewolkte dag, so die leeus was aktief gedurende die dag weens die koeler weer,” sê Rae.

Volgens haar het die volwasse mannetjies egter die jong sebra vir hulself gevang en was nie gretig om die prooi met die res van die trop te deel nie. Die ander leeus het dus maar aanstaltes gemaak.

Omtrent 100 meter verder in die pad af het een van die volwasse wyfies toe sommer ʼn tweede sebra platgetrek, wat sy met die jong klomp en die ander leeuwyfies gedeel het.

“Ons was so gelukkig om nie net een nie, maar twee keer te sien hoe leeus hul prooi vang. Dit is regtig nie iets wat ’n mens elke dag sien nie en was ’n ongelooflike ervaring vir ons besoekers.”

Rae sê die besoekers wat later die middag ’n wildrit onderneem het, kon ook nog van die aksie beleef aangesien die trop leeus steeds aan een van die sebra-karkasse gevreet het.

“Sommige sal dit dalk as taamlik bloederig beskou, maar dit is die natuur op sy rouste en beste. Ek sê altyd elke wildrit verskil van ander en ’n mens weet nooit wat jy gaan sien nie. In hierdie geval was dit iets werklik besonders en uniek.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

piet ·

Ek kry die sebras jammer. Hierdie leeus behoort uitgesit te word deur die DBV. Toon aggressiewe gedrag, die reservaat het hulle duidelik nie korrek opgelei nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.