Leeus vrek terwyl likwidasie-hofgeding sloer

Een van die leeus wat gevrek het. Foto: Facebook

Een van die leeus wat gevrek het. Foto: Facebook

Die wildbewaringseenheid van die Nasionale Dierebeskermingsvereniging  (NDBV) en Vrystaat-natuurbewaring het ingegryp nadat ʼn voortslepende likwidasiehofgeding glo daartoe gelei het dat twee leeus by ʼn voormalige spoggerige lodge en wildplaas naby Kroonstad glo weens verhongering gevrek het.

Beeldmateriaal van ʼn leeu en ander diere wat voorheen glo op die wildplaas waarop die spoggerige Lechwe Lodge bedryf was, gevrek het sedert dit verlede jaar onder likwidasie geplaas is, is Vrydag op sosiale media geplaas. Dit het sedertdien soos ʼn veldbrand versprei en het baie mense warm onder die kraag.

Dit volg nadat die regspan van die voormalige eienaar van die lodge, Sarel Wessels, vroeër die dag die perseel besoek het om dokumentasie te bekom vir die hofsaak wat in die Bloemfonteinse hooggeregshof op verhoor wag. ‘n Prokureur het glo die leeu se karkas gesien toe hy die perseel verlaat en het alarm gemaak oor die beweerde haglike omstandighede.

Wessels het Dinsdag aan Maroela Media verduidelik dat die handelsnaam, Lechwe Lodge, tans uit likwidasie is, maar dat Sebal Beleggings, die maatskappy wat die grond besit waarop die lodge bedryf is, steeds onder likwidasie is. Wessels en sy suster, Liezel Venter, poog met die hofsaak om Sebal Beleggings uit likwidasie te kry en die likwidateurs staan dit teen.

ʼn Interdik is vroeër teen Wessels bekom om hom toegang tot die perseel en die maatskappy se diere te belet. Hy het ook in die hof onder eed gesê die wild op die plaas behoort aan sy broer, Tiaan Wessels.  Volgens Wessels het daar egter gedurende die likwidasie-hofsaak ʼn geskil tussen hom en sy broer ontstaan wat die familie in twee geskeur het, en sedertdien praat hulle nie met mekaar nie.

Volgens Kobus Senekal van Matsepes Prokureurs, wat namens die likwidateurs in Bloemfontein optree, was die likwidateurs van mening dat Tiaan na die diere sal omsien aangesien daar in die hof aangedui is dat dit aan hom behoort.

Senekal het ná Vrydag se plasings op sosiale media in ʼn skrywe, wat deur sy kantoor aan Maroela Media verskaf is, onder meer aan Wessels se prokureur gesê “dit is duidelik dat daar geen verpligtinge van die likwidateurs was om op enige manier op te tree nie, aangesien die diere nie hul verantwoordelikheid is nie”.

“Nadat ons deur Vrystaat-natuurbewaring van die diere se lot ingelig is, het ons dadelik onderneem om in te gryp en het ons, op Matsepes se onkoste, kos vir die diere gereël. Ons wou nie hê die diere moes ly nie en het ʼn verteenwoordiger Kroonstad toe gestuur om seker te maak hulle word behoorlik gevoed,” het Senekal geskryf.

Tiaan is glo in finansiële knyp en het Senekal meegedeel dat hy nie na die diere kan omsien nie. “Ek het hom meegedeel ons onderneem om seker te maak die diere word gevoer en sal dit doen totdat die situasie opgelos is.”

Isabel Wentzel, woordvoerder van die NDBV, wat die saak saam met Vrystaat-natuurbewaring verder ondersoek, het Dinsdag aan Maroela Media gesê dit is jammer dinge moes só ver vorder voordat daar opgetree is.

“Daar was ʼn geskil oor wie vir die diere verantwoordelik was, maar ons het die likwidateurs ferm gemaan om te sorg dat die diere kos kry,” het Wentzel gesê.

Sy het gesê hierdie geval is die soveelste waar lewende diere benadeel word deur langdurige likwidasieprosesse. “Ons moedig individue of likwidateurs aan om ons by voorbaat te skakel wanneer lewende diere in gevaar is weens likwidasieprosesse sodat daar voorsiening vir die diere getref kan word.”

Wentzel het gesê die “eienaar” is volgens die Dierebeskermingswet “enige persoon wat in besit, beheer of bewaring van ʼn dier” is.

“Likwidateurs wat in beheer is van die bates waarop beslag gelê is, kan aanspreeklik gehou word sou die diere deel van die bates wees en nie voldoende versorg is nie,” het sy verduidelik.

Sy het bevestig dat twee dooie leeus op die perseel gevind is. “Ons weet nog nie in hierdie stadium of hulle weens wanvoeding gevrek het nie; dit kan dalk weens ouderdom wees. ʼn Veearts gaan vandag of môre uit om ʼn nadoodse ondersoek doen en om die res van die diere behoorlik te ondersoek.”

Volgens Wentzel daar tans 17 leeus op die perseel. Twee van hulle is erg ondergewig, terwyl die oorblywende 15 nie in ʼn goeie toestand is nie. “Almal behoort te oorleef.”

Sy het gesê die min wild wat op die wildsplaas oor is, se toestand lyk op die oog af aanvaarbaar.

Wentzel het gesê die NDBV beskou die saak as ernstig en sal gereeld inspeksies in samewerking met Vrystaat-natuurbewaring doen om seker te maak die diere word kos gegee en versorg totdat ʼn oplossing gevind word. Sy het gesê Vrystaat-natuurbewaring sal heel waarskynlik die leeus konfiskeer as hul gereed is om na geskikte reservate verskuif te word.

“Hulle is gevoer en nou in goeie hande en sal gereeld gemonitor word totdat hulle veilig verskuif is en behoorlik versorg word.”

Sy het bygevoeg dat strafregtelike klagte heel waarskynlik aanhangig gemaak sal word.

.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Michiel ·

Uggg, familie baklei onder mekaar en dit en dat en die arme diere ly daar onder. SIEK!

nicolette ·

Arme diere alweer die slagoffers.dis pateties om die minste te se

Paul ·

Hierdie ding gebeur omdat die likwidateurs wat die staat aanstel so ge-BEE is dat hulle net so min vir diere voel soos die dame Thandi Modise (van die Huis van Provinsies of iets in dier voege) wat haar varke laat vrek het en net bekommerd was omdat dit haar geld gekos het. Sy was as sg. boer nie in die minste bekommerd oor die diere nie en om dan te verwag dat ‘n BEE likwidateur iets vir ‘n dier sal voel, is iets wat nie bestaan nie.

jean ·

Twee leeus vrek van kamtigge ouderdom……my my hoe toevalig…kyk hoe maer lyk daai diere op die fotos.Wat n aaklige dood..kla die hele lot aan van diere mishandeling…varke!!!

Tammy ·

Kla die hele lot aan asseblief. Diere vrek van honger omdat die familie baklei. Sies man, sies vir julle almal dis n skande en julle betrokkenes behoort julle gesigte weg te steek in skaamte. Kyk ten minste na die diere want hulle kan nie praat of moles maak onder julle nie. Kan iemand wat regtig vir diere omgee groot asseblief hier ingryp!

Christie Joubert ·

En terwyl die familie nie met mekaar praat nie en dik doenig is in die hof heeldag, moet die arme diere nou maar ly! Wanneer gaan mense besef dat diere weerloos is teen die mens en beskerm moet word?

johanette ·

Sit hulle in n hok of iets sonder kos. Diere kan nie praat nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.