Leeus wat uit wildtuin ontsnap nie ongewoon

Argieffoto: Marianne Styan

Die bestuur van SANParke reken dat daar tot 20 voorvalle per jaar is waar leeus uit die Krugerwildtuin ontsnap.

Volgens Danie Pienaar, waarnemende uitvoerende bestuurder van die organisasie se bewaringsdienste, is mense dikwels nie bewus van hierdie voorvalle nie omdat die leeus oorloop na privaat natuurreservate wat aan die wildtuin grens, of self net so gou weer terug na die wildtuin loop.

Pienaar het gesê die een leeumannetjie wat nog soek is, het heel waarskynlik reeds weer by die ander vier aangesluit wat verlede week Dinsdag ná hulle avontuur vasgetrek is en weer binne die wildtuin vrygelaat is.

Hy meen die enigste rede waarom die ontsnapping van die vyf jong leeumannetjies soveel opslae gewek het, is omdat hulle langs die pad naby die aansluiting van die N4-snelweg en Manangaweg gelê het, waar verskeie mense hulle opgemerk het.

SANParke het Woensdag ʼn mediakonferensie by die organisasie se hoofkantoor in Groenkloof, Pretoria, gehou waar hulle meer lig op die gedrag van die Krugerwildtuin se leeus gewerp het.

“Ons is redelik seker dat dit Krugerwildtuin-leeus is omdat hulle so gemaklik met die motors was en nie skugter was soos leeus wat al baie deur mense verwilder is nie. Die leeus het moontlik uit die Krugerwildtuin gekom waar die Krokodil- en Komatirivier kruis,” het Pienaar gesê.

“Die wildtuin se heinings stop by die hoogwatermerk van ʼn rivier. Boonop is dit onmoontlik om die 1 000 km lange grensdraad van Suid-Afrika se grootste nasionale park deurentyd te patrolleer en ons wil in elk geval nie ʼn punt bereik waar die Krugerwildtuin ʼn ondeurdringbare hok vir wilde diere is nie.”

Pienaar het bevestig dat die leeumannetjies ʼn koei doodgemaak het en dat die Krugerwildtuin die eienaar van die koei sal vergoed. “Ons het ʼn beleid waarvolgens ons mense vergoed vir die verliese wat hulle gely het as van die Krugerwildtuin se diere skade aan hulle lewende hawe gerig het. Dit is ʼn streng proses en uitbetalings word net ná volledige ondersoek gedoen.”

Die wildtuin betaal tot R400 000 per jaar in soortgelyke skadevergoedingsake uit, maar Pienaar meen die positiewe impak wat die beleid het vir die verhouding tussen die wildtuin en sy bure is eintlik van onskatbare waarde. “Dit verhoed ook dat mense die diere konfronteer, want hulle weet indien die roofdiere van hulle diere aanval, sal hulle ten minste vergoed word. Die wildtuin se bure is van die armste van arm mense.”

Volgens Pienaar is dit moontlik dat leeus weer in die toekoms uit die Krugerwildtuin sal ontsnap. Hy het verduidelik dat elke voorval volgens meriete beoordeel sal word, maar dat gewoonte-oortreders gewoonlik ongelukkig van kant gemaak word.

“Ons bestuur ekologiese sisteme en bevolkings – daarom is die totale leeubevolking van die Krugerwildtuin vir ons belangriker as individue. Die leeubevolking van die park is belangrik, maar beteken ongelukkig niks vir die bewaring van wilde leeus in die res van Afrika wat erg onder druk is nie. Ons kan nie Kruger-leeus verskuif nie omdat hulle buffels vreet wat aan tuberkulose ly. Ons leeus kan eintlik net binne die Groter Limpopo-oorgrenspark beweeg.”

Pienaar het egter gesê die leeus hou eintlik min gevaar vir mense buite die wildtuin in. “Hierdie roofdiere sal mense eerder wil vermy. Ek kan eintlik nie een geval noem waar ʼn Kruger-leeu al ʼn mens buite die wildtuin aangeval het nie. Leeus se gedrag verander gewoonlik in die nag, maar dan is daar natuurlik nie baie mense wat in die nag in die bos rondloop nie.

“Die beste raad wat ek kan gee, is moenie begin hardloop wanneer jy enige groot roofdier gewaar nie. Hulle instink sal wees om jou te jag as jy weghardloop, kyk maar wat doen jou huiskat as jy ʼn speelding voor hom wegsleep.”

Pienaar het gevra dat enigiemand wat ʼn wilde dier buite die Krugerwildtuin opmerk en vermoed dit is een van die wildtuin se diere wat ontsnap het die relevante owerhede sal inlig.

“Intussen is dit belangrik dat mense besef ons wil nie sosio-ekologiese sisteme van mekaar afsluit nie. ʼn Landelike park moet eintlik net soos ʼn mariene park wees waar natuurlike hulpbronne en diere uit die park kan beweeg en weer gebruik kan word.”

Pienaar meen wilde diere buite nasionale parke in die res van Afrika is juis reeds aan’t verdwyn omdat mense net van bewaringsorganisasies verwag om hierdie diere te bewaar en nie self eienaarskap en verantwoordelikheid vir die diere en hulpbronne buite die bewaringsgebiede neem nie.

“Mense dink wilde diere het geen waarde nie en is selfs ʼn bedreiging buite bewaringsgebiede. SANParke en soortgelyke organisasie bestuur eintlik net 10% van alle bewaarde gebiede, die oorblywende 90% van land met diere is daar buite, kyk maar byvoorbeeld na die Karoo.

“Ons kan saam met hierdie wilde diere lewe en selfs die voordele uit hierdie natuurlike hulpbron put, maar dan moet daar stelsels geskep word wat dit toelaat.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Karin ·

Die 5de leeu is gisteraand gevang, en vrygelaat in die Punda omgewing. Volgens LS Kruger.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.