‘Legendariese’ oud-kondisioneringsafrigter van Bokke oorlede

Neels Liebel was die Springbokke se kondisioneringsafrigter. Foto: Stephane de Sakutin/AFP.

Dit is nie aldag dat iemand as ’n legende beskryf word nie. Maar praat met enigeen wat vir Neels Liebel geken het en daardie woordjie duik gereeld in die gesprek op.

Die voormalige kondisioneringsafrigter van die Springbokke in die Peter de Villiers-era is Dinsdag in die ouderdom van 58 aan Covid-19 dood.

“Neels was iemand op wie jy altyd kon vertrou en hy het sy beste vir die spelers gegee. Hy was spesiaal vir enige span,” het die voormalige Springbok-breier gesê.

De Villiers het ’n lang pad – 11 jaar om presies te wees – saam met Liebel gestap en tussen die suksesverhale deur is daar ook ’n paar staaltjies waarna die voormalige Springbok-afrigter met heimwee kan terugkyk.

Foto: Stephane de Sakutin/AFP.

Soos in 2005 toe hulle saam met die junior Springbokke die o.21-wêreldkampioenskap in Argentinië gewen het. De Villiers het vir die span gesê dat hy sy kenmerkende snor sal afskeer indien hulle met Nieu-Seeland in die halfeindstryd van die toernooi afreken.

Die span het toe terstond die Kiwi’s met 16 – 12 getroef en Liebel se hare het sommer so saam met die hoofafrigter s’n gewaai.

De Villiers het sy medelye met Liebel se gesin betuig.

“’n Boom word aan sy vrugte geken en Neels is iemand wat baie mooi vrugte gedra het.”

Tog, ten spyte van sy sukses op die internasionale rugbyverhoog saam met die Springbokke, was Liebel se voete plat op die aarde en was hy altyd bereid om sy medemens te dien.

Foto: Verskaf.

As biokinetikus het hy onder meer die Harlequins-rugbyklub in Pretoria bygestaan waar hy met die kondisionering en die rehabilitasie van beseerde spelers uitgehelp het.

“Hy was eintlik ’n all-in-one en sy dood is ’n reuseskok vir ons,” het Gert Mulder, die klub se hoofafrigter, hartseer gesê.

“Ja, hy was ongetwyfeld ’n legende en iemand wat onsettend baie vir die gemeenskap omgegee het. Hy het nie net diep spore in sportsterre se lewens getrap nie, maar ook in dié van kinders en gewone mense.”

Die Laerskool Wierdapark in Centurion het Liebel genader om by hul sport betrokke te raak, maar hy het uiteindelik soveel meer vir die skool gedoen en beteken. Die skoolhoof, Louis Dekker, beskryf hom as “die gemeenskap se eie Springbokafrigter”.

“Hy was altyd beskikbaar, hy het altyd na jou geluister en vir die kinders was hy ‘oom Neels’. Baie van ons leerlinge en personeel sal vir jou vertel dat hy net ’n oproep weg was.”

Volgens Dekker het Liebel ongetwyfeld ’n verskil in ander se lewens gemaak; hy was ook iemand wat elke afrigter as die beste in sy/haar gebied laat voel het.

Foto: Verskaf.

“Hy het nooit ophou gee nie en terselfdertyd nooit iets terug verwag nie. Een van sy gunstelingdinge om te sê wanneer jy hom bel, is dat hy altyd tyd vir jou het. Neels het nie op iemand neergekyk of sleg van hulle gepraat nie. Hy het oor die ongekende vermoë beskik om net by my kantoor op te daag – altyd wanneer daar ’n beskikbare tydgleuf was – en ’n koppie koffie met ‘swart melk’ te drink.

“Dit is jammer dat iemand wat soveel vir die gemeenskap en sport doen moes gaan. Maar soms neem die Here sy sterkste krygers eerste terug huis toe,” het Mulder gesê.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Hennie ·

Moes ‘n goeie werker gewees het, want ek het nog nooit sy naam gehoor nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.