Legendariese oudjoernalis sterf

Cliff Saunders. (Foto: Facebook)

Cliff Saunders, ʼn voormalige joernalis en bekende politieke korrespondent, het Maandag in die ouderdom van 79 gesterf.

Saunders is in sy huis in Northcliff in Johannesburg oorlede. Volgens Karin van Wyk, Saunders se skoondogter, het hy aan hartversaking gesterf.

“Hy het baie verswak oor die laaste paar jare en veral oor die laaste paar weke en dit was maar hartversaking waaraan hy dood is,” het sy gesê.

“Hy is by sy huis dood in sy bed waar hy graag wou wees. Ria [sy vrou] het hom tot op die laaste minuut versorg. So dit was werklik ʼn baie intieme gebeurtenis en hy het groot vrede binne hom gehad,” het sy gesê.

Saunders het meer as drie dekades lank vir die SAUK gewerk en was in ʼn stadium die openbare uitsaaier se korrespondent in Londen. Hy het in sy loopbaan onderhoude met verskeie bekende politici gedoen, onder meer Pik Botha, Nelson Mandela en FW de Klerk.

Saunders se seun, Dudley Saunders, was as fotograaf en kameraman ook ʼn bekende in die mediawêreld. Hy is in 2014 oorlede nadat hy besig was om in Soweto verslag te doen en deur ʼn trein getref is.

Van Wyk het haar skoonpa as ʼn ongelooflike en intense mens beskryf, wat mal daaroor was om te praat en te redeneer.

“Hy was ʼn passievolle woordmens en het ʼn ongelooflike geheue gehad. Tot op sy laaste het hy nog steeds gepraat en gesing en rympies opgesê en ten nouste die politiek gevolg. Dit het nooit oor hom gegaan nie – hy het altyd net belanggestel in ander mense en om hulle stories te vertel.”

Talle mense het op sosiale media hulde aan Saunders gebring en hom geloof vir sy werk as joernalis en sy nalatenskap aan die mediabedryf.

Saunders se begrafnis sal Vrydag om 11:00 vanuit die Randburg Presbiteriaanse Kerk op die hoek van Elisestraat en Malibongwerylaan gehou word.

Hy word oorleef deur sy vrou, Ria, sy vier kinders en ses kleinkinders.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Darius Els ·

Sterkte aan familie.Hy was n yster in nasionale kringe.

Johann Marx ·

Nog ‘n legende is weg….en my hart pyn. Die tye saam met jou was ongelooflik……die plekke waar ons gewerk het, asemrowend. Die mense wat ons ontmoet en onderhoude mee gevoer het, was teveel om te noem. Baie dankie vir al die kuiers en “lewens-lesse”….Niemand sal verstaan nie, maar…..”I want my money!!” Rus in vrede, Clifford G Saunders….ek sal jou mis. Dit is en was ‘n voorreg om jou my vriend te noem.

OWO ·

Baie sterkte aan jou.Ek onthou Cliff Saunders as hierdie ongelooflike professionele joernalis,toe die SAUK nog ‘n eersteklas organisasie was.Tye wat mens onthou soos gister.Rus in vrede.

Johann Marx ·

Nou ja, daar is die dag verby….en ek het bietjie meer tyd. Dit was ‘n eer en ‘n voorreg om saam met Cliff TV insetsels te maak….Hy het in Bagdad die kelners leer tel in Afrikaans….Ek was sy kameraman op baie stories. Dan vra hy dat jy sekere visuele materiaal moet afneem…..en jy doen, sonder om te vra….Dan eindig ons terug op kantoor en hy verdwyn in ‘n redigerings-fasiliteit…en maak SES insetsels van EEN besoek aan bv Namibië. Hy was geniaal. Hy het skrywers en digters aangehaal voor ontbyt…..en jou altyd erkenning gegee vir jou bydrae tot sy TV insetsels. Hy was net hierdie teenwoordigheid…..en het ewe gemaklik met arbeiders en regeringsleiers gepraat. Ek kan ‘n boek skryf….en miskien moet ek….Dankie Cliff, die reis saam met jou was awesome…

Johann Marx ·

Oppad na ‘n storie toe het Cliff sonder uitsondering, as die vliegtuig se wiele oplig van die teerblad af, dobbelstene uitgehaal, of speelkaarte, of vuurhoutjies….en dan het ons gespeel…R5 ‘n game. En ons het aangehou TOT hy wen!!! En as ons anderkant land, dan soek hy ‘n pool tafel, of ‘n dartboard, of tafeltennis….en dan wedywer ons…R5 ‘n game. En ons hou aan speel TOT hy wen….en dan, vir die res van die trip, as hy jou sien eerste ding in die oggend, het hy nie gegroet nie….jou net so gekyk en gesê “I want my money!!” Die laaste keer wat ek en hy ontbyt saam geëet het, het my so gekyk en gesê…”I want my money!!” Hy was voorwaar ‘n legende….wat net altyd respek gegee en afgedwing het waar hy ookal gekom het. Dit was ‘n awesome reis Cliff…ek sal jou nooit vergeet nie.

Wim Kotze ·

Ja, goeie herinneringe van ‘n groot man. Ek het nog Cliff se internasionale rybewys wat hy in ons kamer vergeet het.

Helena. ·

Rus in vrede..hy was altyd so netjies en profesioneel. Sterkte aan sy vrou en familie en vriende.

Johan ·

@Johan Marx, dankie vir jou staaltjies,dis awesome.Troos jou daaraan dat hy presies geweet het hoe jy oor hom voel,die vriendskap,die erkenning…
respek….Dankie vir julle absolute profesionele produksies …..Rus sag Cliff.

Bittergal ·

Dit was ‘n voorreg om jou die laaste paar jaar beter te leer ken. Rus in vrede ou grote..
My innige simpatie aan die familie en al sy menige vriende.

Krewel ·

Jammer om te sien hy is oorlede. Ek was nog tiener toe hy op sy hoogtepunt met verslaggewing was. Aantreklik gewees. En ek was verlief op hom. Sterkte aan sy familie. Hy het altyd sy bes gedoen. Hoogs professioneel. Iemand om te onthou. RIV.

HP ·

Ongelooflike en talentvolle joernalis; gentleman uit die boonste rak. Rus in vrede.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.