Huldeblyke van regoor die wêreld stroom in vir ʼn legendariese Suid-Afrikaanse sjef wat Donderdag in die ouderdom van 67 gesterf het.
Dr. Billy Gallagher se familie het op sy Facebook-blad aangekondig hy is in die vroeë oggendure in sy slaap oorlede.
“Dit is met groot hartseer dat ons die afsterwe van ons oupa, mentor en vriend moet aankondig. Billy sal gemis word, maar sal voortleef in ons harte. Mag sy siel in vrede rus,” lui die aankondiging.
Gallagher is die erelewenspresident van die Wêreldvereniging van Sjefs (Wacs) met meer as ʼn miljoen lede in 90 lande. Hy het meer as 20 jaar as die president van die Suid-Afrikaanse sjefvereniging (Saca) gedien.
Hy is een van Suid-Afrika se ikoniese figure in die voedsel- en drankbedryf en sy ervaring strek oor vier dekades. Gallagher was aan die voorpunt van die ontwikkeling van jong sjefs en was instrumenteel in die eerste vakleerlingskapskemas. Hy word wêreldwyd beskou as ʼn ikoniese leier en mentor en was vir vyf jaar voorsitter van die raad van die Universiteit van Johannesburg se skool vir toerisme en gasvryheid.
Gallagher het in 2000 ʼn kapingspoging oorleef. Hy is tydens die voorval geskiet en verlam gelaat.
Sy begrafnisreëlings sal binnekort bekend gemaak word.
‘n Groot boom het geval. Dankie vir jou bydrae om ons land te bou, Dr Gallagher. Rus in vrede.