Een van Suid-Afrika se voorste sosioloë, prof. Belinda Bozzoli, is Saterdag ná ʼn maandelange stryd teen kanker dood.
Sy was een van Suid-Afrika se mees gerekende akademici en was vroeër viserektor van die Universiteit van die Witwatersrand; die instelling waarvan haar pa ʼn paar dekades gelede rektor was.
Sy het in die voetspore van haar pa se stryd teen die afdwing van rassediskriminasie by universiteite in die tyd van premiers H.F. Verwoerd en John Vorster gevolg deur altyd te stry vir akademiese uitmuntendheid, vryheid en nie-rassigheid, asook teen ANC-staatsinmenging by die akademie.
Na haar aftrede as akademikus het Bozzoli vanaf 2014 tot en met haar dood as DA-parlementslid gedien. Sy was die afgelope ses jaar die DA se hoofwoordvoerder oor hoër onderwys en opleiding.
Haar massiewe intellek, beginselvastheid, goedgemanierdheid, vriendelikheid, haas onvergelykbare kennis van die bestuur van universiteite, asook dat sy vir soveel leidende lede van die ANC en EFF klas gegee het en volgens almal ʼn wonderlike dosent was, het verseker dat sy een van die min parlementslede was na wie alle partye aandagtig geluister het.
Hoe alombemind sy was, was Saterdagmiddag duidelik uit die buitengewone wyse waarop Maroela Media oorval is met oproepe van parlementslede van die ANC en EFF wat die doodstyding wou nagaan en die omgee wat gestraal het uit navrae oor haar laaste maande.
Bozzoli was getroud met die tophistorikus prof. Charles van Onselen. Sy het drie kinders, onder wie die politieke ontleder, skrywer, joernalis en meningspeiler Gareth van Onselen.
Reëlings vir haar verassing sal later bekend gemaak word.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
21 Kommentare
Ystervrou. Pragmens. Ek eer jou nagedagtenis. Innige simpatie aan familie en vriende.
Stry teen apartheid en rassediskriminasie, welwetend dat die ANC ‘n veelrassige verkiesing sal wen. En daarna toe stry sy teen ANC inmenging by die universiteit. So toe die een oorheersing en onderdrukking verby is, toe begin ‘n ander onderdrukking maar net weer. Dít moes sy mos vooraf geweet het, dat hulle ware streke gaan uitkom as hulle eers regeer. Het dié wonderlike hoogheilige linkse liberale mense dan voor 1994 niks van die magsvergrype in die res van Afrika geweet nie, of het hulle regtig gedink die ANC gaan “anders” wees?
Dis tradisie dat geen slegte mense begrawe word nie, net goeies, soos gewoonlik blyk uit al die huldeblyke wat bey begrafnisse en begrafnisdienste so mildelik rondgestrooi word. Wat my egter dwars in die krop steek is dat daar omtrent geen bekende persoon te sterwe kom sonder dat die volgende rympie nie aan die persoon toegedig word nie: Hy/sy is daarvoor bekend dat hy/sy sy/haar lewe lank gestry het teen rasse diskriminasie en apartheid en alom bemind was. Die vraag wat altyd by my opkom is waarvoor het die persoon gestaan? Reg en geregtigheid, eerbaarheid, integriteit, hardwerkendheid, hoë etiese norme, patriotisme,… Lees meer »