Leier van vlugtelingegroep in Kaapstad aangekeer

Argieffoto (Foto: Aloysius/Pixabay)

ʼn 38-jarige man is in hegtenis geneem ná klagtes van aanranding deur sommige vlugtelinge wat in Kaapstad se middestad by die Metodistekerk gehuisves word.

Brig. Novela Potelwa, woordvoerder van die polisie, het gesê die verdagte, oorspronklik van die Demokratiese Republiek van die Kongo, is in hegtenis geneem op agt aanklagte van aanranding, waaronder vyf aanklagte van aanranding met die doel om ernstig te beseer.

Die man sal na verwagting op 3 Januarie in die Kaapstadse landdroshof verskyn.

Ongeveer 50 persone, wat ook vermoedelik deel is van die vlugtelingegroep, het Woensdagoggend op Kaapstad Sentraal-polisiestasie toegesak ná die inhegtenisneming. Hulle eis die vrylating van die verdagte.

Nadat hulle aangesê is om die perseel te verlaat, het die groep ingestem en verdaag. Die polisie se eenheid wat openbare orde handhaaf, monitor die situasie.

Kaapstad Sentraal is operasioneel sonder enige verdere voorvalle wat aangemeld is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.