Lek van vraestelle beïnvloed nie uitslae – verslag

(Argieffoto)

Amper 300 leerders het vooraf toegang gehad tot die gelekte wiskunde- en wetenskapvraestelle tydens die matriekeksamen verlede jaar. Dit is minder as 1% van leerders wat dié vraestelle geskryf het. Die betrokke leerders se punte het egter nie merkwaardig afgewyk van ander kandidate s’n of dít wat hulle vir ander vraestelle bereik het nie. Daarom is die departement oortuig dat die integriteit van die matriekeksamen nie deur die lek van vraestelle benadeel is nie.

Só lui die verslag van ʼn ondersoek wat die departement van basiese onderwys gedoen het nadat twee vraestelle verlede jaar gelek is kort voor matrieks dit geskryf het. Die departement het aanvanklik gelas dat almal dié vraestelle moes oorskryf, maar ʼn hof het dié besluit tersyde gestel.

Luidens die verslag het 236 leerders toegang gehad tot die tweede wiskundevraestel, die meeste hiervan in Mpumalanga (46), gevolg deur die Oos-Kaap (33). Altesaam 62 leerders het toegang tot die tweede fisiese wetenskappe-vraestel gehad, die meeste hiervan weereens in die Oos-Kaap (24), gevolg deur KwaZulu-Natal (10). Dié leerders het foto’s van die vrae of vraestelle ontvang. Dit kom neer op 0,1% van leerders wat wiskunde geskryf het en 0,03% van leerders wat wetenskap geskryf en toegang tot die vraestel gehad het.

Die ondersoek het getoon ʼn werker by die staatsdrukkery het die vraestel laat uitlek. Dié drukkery het vraestelle vir twee van die provinsies gedruk. Die betrokke werker is intussen in hegtenis geneem en het reeds in die hof verskyn.

Die departement sê hoewel die ondersoek omvattend is, kan hy nie met sekerheid sê dat die vraestelle nie na meer leerders gelek is as wat in die verslag genoem word nie. “Dit lyk egter nie of die lek van die vraestelle wydverspreid was nie,” lui die verslag.

Luidens die verslag blyk dit nie dat kandidate wat die wiskundevraestel vooraf te siene gehad het, beduidend beter presteer het as wat andersins die geval sou gewees het, of baie beter as die res van die matriekgroep presteer het nie. Die lek van die vraestel het dus nie ʼn beduidende invloed op die uitslae gehad nie.

“Dit blyk dus dat die integriteit van die eksamen in geheel en die wiskunde- en wetenskapvraestelle in die besonder nie in gedrang gebring is nie,” lui die verslag. “Waar dit wel blyk dat kandidate besonder goed gevaar het in vergelyking met die eerste wiskunde- of wetenskapvraestel en daar is genoegsame bewys dat hulle vooraf die vraestel ontvang het, is Umalusi aanbeveel om die betrokke leerders se uitslae te weerhou. So ook indien dit blyk dat die leerder self die vraestel aangestuur het.”

Die departement beveel ook aan dat ʼn ondersoek gedoen word na die proses by die staatsdrukkery en dat dié proses verander word indien só ʼn ondersoek daarop dui dat dit nie voldoende is om die lek van vraestelle te voorkom nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Wilhelm ·

Snaaks dat die departement nou agter ‘n verslag staan wat sê die uitlek was eintlik nie ‘n probleem nie, maar in Desember was hulle vasberade om all matrieks te dwing om oor te skryf.

Die probleem met SA onderwys, is die SA departement van onderwys.

Liesel ·

Bly om te hoor maar hul kon maar Desember dit vir ons arme matrieks gesê het, daardie dreigende oorskryf was net die finale strooi, en hul kon nie eens die aaklige jaar op ‘n lekker noot afsluit nie

Mariana ·

Met ander woorde met of sonder die hulp van die gelekte vraestelle het hulle, die leerders, steeds nie hul doel bereik nie. Hoekom is hulle, die departement so laks in hul werk. Met sulke mense aan die stuur kan dit net rampspoedig wees vir ons kinders. Slaagsyfers klaar pateties soos dit is.

Nefie ·

Lyk my meeste van die wat vooraf die vraestel gesien het is dom genoeg om selfs toe nie beter te doen nie ;-)

Anel ·

Hulle weet mos wie die vraestelle gekry het. Hoekom word hul matrieksertifikate nie ongeldig verklaar nie? Want, dit is mos our people. As dit anders om was, was die kinders al lankal gevonnis en sou nie matrieksertifikate gekry het nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.