Lekker reën vir dele van Noord-Kaap

Upington het onder meer goeie reën ontvang (Foto: Kobus Barnard via Reënval in SA, Facebook)

Dele in die Noord-Kaap het Sondag goeie reën ontvang en nog reën word boonop vir die res van die week voorspel. Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) het selfs ’n vlak geel-waarskuwing vir hewige donderstorms vir Maandag in die suidoostelike dele van die Noord-Kaap uitgereik.

Boere in Upington het gister tot sowat 40 mm reën aangeteken. In die Fraserburg- en Pofadder-omgewing het sekere gedeeltes tot 21 mm reën ontvang. In die Sutherland-gebied is 16 mm reën aangeteken, gevolg deur die Kathu-gebied met 12 mm. By die Augrabies-waterval is sowat 11 mm reënval aangeteken. Dié gebied het vroeër vanjaar reeds goeie reën gekry.

In die Williston- en Calvinia-omgewing is onderskeidelik 28 mm en 18 mm reënval in sekere gedeeltes aangemeld.

Noord-Kapenaars kan boonop nog vol reënmeters vir die res van die week verwag.

Michael Nethavhani, ʼn weervoorspeller verbonde aan die weerdiens, sê reën word tot Woensdag vir die sentrale en westelike gebiede van die Noord-Kaap verwag. Reën sal dan waarskynlik effens begin opklaar en na die oostelike dele van die provinsie versprei.

“Teen Vrydag sal die reënwolke weer in die sentrale en westelike gebiede van die provinsie begin saampak en reën word tot volgende week Woensdag verwag,” sê Nethavhani.

Nethavhani sê reën word ook vir Maandag in die westelike en suidelike gebiede van die Vrystaat verwag, wat waarskynlik teen Dinsdag na die oostelike gebied van die provinsie sal versprei. Reën word ook die naweek vir groot gedeeltes van die Vrystaat en Noordwes voorspel.

Maroela Media het in Februarie berig dat groot dele van die Noord-Kaap, onder andere Boesmanland, Namakwaland en die suidoostelike gedeeltes van die Karoo min of geen reën ontvang nie. Dit sluit onder meer gebiede in soos Williston, Springbok, Aggeneys, Kamieskroon, Kleinbegin, Kenhardt, , Noenieput, Loeriesfontein, Calvinia, Fraserburg, Sutherland,  Loxton, Carnarvon, Van Wyksvlei, Marydale, Britstown, Vosburg en Richmond.

Janine Byleveld, bedryfsbeampte van Agri Noord-Kaap, sê alhoewel hulle dankbaar is vir die reën wat nou in van dié gebiede, soos onder meer Williston, Carnarvon, Sutherland en Fraserburg, geval het, is dit nie naastenby genoeg om ʼn verskil aan die droogtetoestand te maak nie.

“Die reën is so ver uitmekaar uit dat dit geensins ʼn verskil aan die droogtetoestand gaan maak nie. As van dié gebiede nie oor ʼn maand sowat 100 mm reën kry nie, gaan dit glad nie die droogte kan breek nie,” sê Byleveld.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

pieterweskaap ·

Alle danke en eer aan ons Hemelvader vir die reën wat verligting gebring het!

Laat ons volhard in gebed vir nog reën en uitkoms vir die dele wat nog steeds swaarkry.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.