LekkeSlaap-verslag: Impak van Covid-19 op die toerismebedryf

Argieffoto (Foto: Javier del Campo/Pixabay)

Die Covid-19-pandemie en landswye afsonderingsperiode het ’n drastiese impak op die Suid-Afrikaanse toerisme-akkommodasiebedryf. As ’n direkte resultaat, is talle kleinsakeondernemings met finansiële struweling oorweldig en as gevolg daarvan met geen ander keuse gelaat nie as om een of ander vorm van finansiële steun te soek.

As ’n voorganger in die toerisme-akkommodasiebedryf, het LekkeSlaap.co.za ’n nasionale opname onderneem onder akkommodasie-ondernemings gedoen om vas te stel hoe hierdie pandemie hul finansiële posisie en werksmag beïnvloed. Die opname ondersoek verder hoeveel van hierdie ondernemings aansoek gedoen het om finansiële bystand van banke of hulpfondse, en hoe dié eienaars die toekoms van die toerismebedryf in hul streek beskou.

Tydens die opname het LekkeSlaap 4 488 bydraes van eienaars van akkommodasie-ondernemings ontvang, wat 7 262 plaaslike akkommodasie-ondernemings verteenwoordig, wat hierdie opname een van die grootste opnames van sy soort maak.

As daar so na Covid-19 se spoor in die akkommodasie-bedryf gekyk word, dui dié opname op aansienlike korttermyn finansiële gevolge wat in beide fiskale skade aan ondernemings se inkomstes én traumatiese sosio-ekonomiese implikasies vir Suid-Afrika se toerisme-werksmag te bespeur is.

Gerriline Fouché, LekkeSlaap.co.za se bemarkingsbestuurder, sê egter hierdie resultate dui nie op dieselfde dramatiese langtermynverliese ná die vierde finansiële kwartaal nie.

“Alhoewel onsekerheid die enigste sekerheid vir die nabye toekoms blyk te wees, het die meerderheid van ons instansie-eienaars gesê dat hulle glo toerisme sal teen hierdie jaar se Kersseisoen weer na normale vlakke in hul streke terugkeer,” het Fouché verduidelik. “Daar is dus ’n oorweldigende positiewe uitkyk op die toekoms van plaaslike toerisme, ten spyte van ons huidige probleme. Met dié opname se resultate lewer LekkeSlaap.co.za konkrete data en bewyse om alle partye te help wat tans hard aan die werk is om die Suid-Afrikaanse toerismebedryf te herbou.”

Impak van die pandemie

Argieffoto (Foto: ErikaWittlieb/Pixabay)

LekkeSlaap.co.za wou by eienaars weet hoe die pandemie hul finansiële posisie en werksmag beïnvloed. Die resultate toon dat ’n 56,5%-meerderheid van akkommodasie-ondernemings erg geaffekteer is en in die komende maande sal sukkel.

Altesaam 27,6% het aangedui dat die mislukking van hul onderneming ’n groot waarskynlikheid is, waarvan 3,9% gesê het hul ondernemings sal nie die pandemie oorleef nie.

Veral Limpopo (37,5%), Noordwes (37,8%), Mpumalanga (33,5%) en die Noord-Kaap (34,2%) het hoë kanse van sakemislukking aangedui. Aangesien Limpopo en Mpumalanga wyd erken is as die provinsies met die meeste plaaslike en internasionale wildkykgeleenthede, hou die potensiële ondergang van soveel akkommodasie-ondernemings ’n dramatiese langtermyneffek vir Suid-Afrika se toerismebedryf in ─ opmerklike korttermyn ekonomiese swaarkry is reeds in hierdie resultate sigbaar.

Ter vergelyking het 82,6% van eienaars aangedui dat hul ondernemings voor Covid-19 gesond was, waarvan 49,8% gesê het dat hul inkomstes stabiel was in vergelyking met die vorige jaar en 32,8% hul ondernemings as welvarend beskryf het.

Kansellasiekoers

Argieffoto (Foto: ming dai fr/Pixabay)

Om lig te werp op die verreikende impak van Covid-19 op die toekoms van die akkommodasie-bedryf, is eienaars gevra om hulle kansellasiekoers vir die opkomende Junie/Julie-vakansie, September en die Kersseisoen weer te gee. Landswyd staan die Junie/Julie-seisoen se kansellasies op 82%, September op 61% die Kersseisoen op 30%. Hierdie syfers dui op ’n drastiese onmiddellike impak op ondernemings se inkomste, met ’n verdere dramatiese impak wat vir die derde kwartaal van die finansiële jaar voorsien word.

Een eienaar van Robertson in die Wes-Kaap se hoofbekommernis strek egter verder as die dramatiese kansellasiekoers. “Die huidige kwessie is nie die aantal kansellasies vir die komende maande nie. Dit is die totale gebrek aan nuwe besprekings wat inkom ─ van oorsese gaste staan dit op nul aangesien daar nog geen aanduiding is oor wanneer die beperkings op reis gelig sal word nie.”

’n Ander eienaar, dié keer van Clarens in die Vrystaat, het ook aangedui dat die ware ekonomiese impak van die pandemie en die grendeltyd nie slegs in die kansellasiekoers te bespeur is nie. “Ek het nog geen kansellasie van Junie tot September ontvang nie aangesien daar basies nog geen navrae was vir verblyf sedert die afsonderingsperiode aangekondig is nie.”

Salarisvermindering

Gegewe die effek van Covid-19 op inkomste, is eienaars ook gevra of hulle enige salarisverminderings of personeelverminderings moes maak as ’n direkte gevolg van die pandemie. Sowat 78,1% van die akkommodasie-bedryf het een of ander vorm van tydelike salarisverminderings aangedui en 24,7% toon dat hul hele werksmag tydelik geen salaris ontvang nie. Slegs 21,9% van eienaars het aangedui dat hulle werksmag onaangeraak is deur die pandemie.

Verder toon die resultate dat hotelle teen 77,6% die hoogste aantal beduidende salarisverminderings moes maak en teen 70% is lodges kort op die hotelbedryf se hakke. B&B’s het die laagste persentasie salarisinkortings in die bedryf (54,6%) aangedui. Die data wys dus dat die akkommodasie-bedryf landswyd hul salarisuitgawes drasties moes verminder.

Personeelvermindering

Argieffoto (Foto: Free-Photos/Pixabay)

Teenoor die 56,5% van eienaars wat beduidende tydelike salarisverminderings aangedui het, sê 62% dat hulle nog nie permanente personeelverminderings moes maak as ’n direkte gevolg van Covid-19 nie.

Alhoewel personeelverminderings in die minderheid is, het 20,7% van akkommodasie-ondernemings wel ’n gedeelte van hul werksmag moes snoei. Ongeveer 9,3% moes noemenswaardige personeelverminderings toepas en 8% moes hul hele werksmag afdank.

KwaZulu-Natal se respondente het die grootste aantal noemenswaardige personeelverminderings aangedui op 24,3%, wat dit op provinsiale vlak ’n uitskieter maak en, met sy baie laer bevolkingsyfer, het die Noord-Kaap 17,9% personeelverminderings gerapporteer.

Aansoek om finansiële bystand

Altesaam 57% van plaaslike akkommodasie-eienaars is met geen ander keuse gelaat nie as om finansiële bystand weens die Covid-19-afsonderingsmaatreëls te soek.

Akkommodasie-eienaars sê baie van die stappe wat gedoen is, om die verspreiding van Covid-19 te bekamp, het ’n drastiese impak op die plaaslike toerisme-akkommodasiebedryf en die meerderheid van dié bedryf se bedrywighede is tot stilstand gebring.

Toe eienaars gevra is oor aansoeke om finansiële bystand van banke het ’n landswye totaal van 34,8% aangedui dat hulle wel aansoeke ingedien het. Die meeste aansoeke is in Noordwes en KwaZulu-Natal aangeteken, met 44% van die eienaars in albei provinsies wat aangedui het dat hulle aansoek gedoen het. Die laagste aantal aansoeke is in die Wes-Kaap aangedui, met 26,6% van die eienaars wat aansoeke in dié provinsie aangemeld het.

Wat die sukses van hierdie aansoeke betref, is die hoogste in die Vrystaat aangeteken, met 30% van die eienaars wat sukses met hul aansoeke aangedui het. Die laagste was 14% in Limpopo. ’n Algehele landswye sukseskoers van 24% is aangeteken.

Eienaars is ook gevra of hulle aansoek gedoen het om finansiële bystand van enige Covid-19-hulpfondse. Altesaam 50,1% van die eienaars het landswyd aangedui dat hulle om hulp by ondersteuningsfondse aansoek gedoen het, terwyl die eienaars van KwaZulu-Natal die meeste aansoeke om finansiële bystand met 64,4% aangeteken het. Resultate toon verder dat die eienaars van Limpopo die meeste suksesvolle aansoeke met 34,1% aangeteken het, ten spyte daarvan dat dié provinsie die minste suksesvolle aansoeke by banke aangeteken het.

Sewe provinsies het ’n sukseskoers van onder 10% aangeteken, en die Oos-Kaap het die laagste sukseskoers van 6,9% aangeteken. Met slegs 14,1% van eienaars wat suksesvolle aansoeke landswyd aangeteken het, is daar ’n opmerklike groot gaping tussen provinsies met ’n hoë en lae sukseskoers.

Goedkeuring van regeringsmaatreëls

(Foto: Alex Motoc/Unsplash)

Toe eienaars gevra is of hulle met die regering se benadering tot die afsonderingsperiode saamstem, het ’n totaal van 40,9% van die eienaars aangedui dat hulle met die maatreëls saamstem; 28,3% stem nie met hierdie maatreëls saam nie en 12,6% wat ten volle van die regering verskil. Met sowat 21,7% wat neutraal oor die onderwerp gebly het, dui dit op ’n relatief positiewe en negatiewe opinie oor die aangeleentheid.

Dit is opmerklik dat die hoogste goedkeuringskoers van die maatreëls in die Wes-Kaap aangeteken is, wat tans ook die hoogste aantal bevestigde Covid-19-gevalle het. Die provinsies wat die grootste afkeuring van die regeringsmaatreëls aangeteken het, is die Noord-Kaap met 52,7%, Limpopo met 48,8%, Mpumalanga met 46,6% en Noordwes met 45,6%. Hierdie drie provinsies teken ook van die laagste aantal Covid-19-gevalle in die land aan.

Regering se bystand aan kleinsakeondernemings

Eienaars is daarna gevra hoe hulle voel oor die regering se pogings om kleinsakeondernemings tydens die Covid-19-krisis te help, waarop 79,2% van die eienaars aangedui het dat die regering nie genoeg gedoen het om kleinsakeondernemings te help nie, met 29,9% wat daarop dui dat hulle ontevrede is en 49,3% wat aandui dat hulle baie ontevrede is met die regering se pogings. Die hoogste afkeuringskoers onder die eienaars is in Limpopo met 88,7% aangeteken. KwaZulu-Natal het die laagste aantal baie ontevrede eienaars met 39,7% aangeteken.

Gedurende hierdie opname het die eienaars die geleentheid gekry om algemene kommentaar op hul antwoorde te lewer. ’n Opmerklike aantal eienaars het genoem dat die suksesvolle aansoek om finansiële bystand ’n groot struikelblok was.

Een besigheidseienaar van Tzaneen in Limpopo het ’n aantal klagtes in hierdie verband genoem: “Ons het vir ons werknemers om WVF aansoek gedoen. Dit het ons van die ander fondse gediskwalifiseer. Ons wil nie geld leen by ’n fonds wat daarna terugbetaal moet word nie, want ons begin weer sonder ’n sent van voor af ná die krisis. Ons voel dat ons nasionale departement van toerisme 100% misluk het met die klousule rakende SEB-status in die Toerismefonds. Ons sou ook meer leiding gedurende hierdie tyd waardeer het oor hoe ons sake behoort te hanteer.”

’n Ander eienaar van Pinelands in Kaapstad benadruk die probleme verder: “Dit is vir ons kommerwekkend dat ons nie van die Toerisme-hulpfonds kan eis nie weens die BBEEE-kriteria. Ons ly almal. [Sic]”. ’n Eienaar van Knysna in die Wes-Kaap het ook haar onvermoë genoem om aansoek te doen om hulpfondse as gevolg van SEB-kriteria: “Ek kan weens die SEB-kriteria nie om hulp aansoek doen nie. My gastehuis is 100% my pensioen. Ek het nou geen inkomste vir die afsienbare toekoms nie.”

“Baie reisverblyfondernemings is aan hul eie genade oorgelaat omdat hulle nie finansiële hulp suksesvol kan bekom om hulle deur te dra nie. Alhoewel baie van hierdie instansies moontlik die storm sal kan trotseer, sal baie kleinsakeondernemings moontlik nie sonder verdere finansiële steun oorleef nie,” het Fouché bygevoeg. Sy beskryf die impak van die pandemie as moontlik die uitdagendste tyd wat die bedryf in die onlangse geskiedenis beleef het.

’n Blik op die toekoms

Argieffoto (Foto: PublicDomainPictures/Pixabay)

Die meerderheid van plaaslike instansie-eienaars glo dat toerisme vóór 2020 se Kersseisoen na normaal sal terugkeer.

Terwyl verblyfbesprekings steeds laag is gedurende die nasionale inperking, is eienaars gevra wanneer hulle dink toerisme in hulle streek weer na normaal sal terugkeer. ’n Meerderheid van 55,2% van eienaars verwag dat besigheid vóór 2020 se Kersseisoen sal hervat, terwyl die res van die eienaars aangedui het dat hulle steeds pessimisties is hieroor. Indien normale vlakke, soos deur die meerderheid voorspel, in dié tydsraamwerk bereik kan word, kan die oorblywende deel van die finansiële jaar moontlik nog gered word.

Limpopo het die hoogste aantal eienaars (68,9%) wat normale vlakke vóór 2020 se Kersseisoen verwag, terwyl minstens 60% van eienaars in die Vrystaat, Oos-Kaap, Gauteng, Mpumalanga en Noordwes almal verwag dat normale vlakke in dié tydsraamwerk bereik sal word. Dié data dui aan dat daar ’n positiewe vooruitsig oor die 2020-kalenderjaar is ten spyte van verskriklike teenspoed.

Toe eienaars uitgevra is oor hulle vooruitsig oor die toekoms van toerisme in hulle streek sodra die pandemie verby is, het die meeste van hulle met ’n positiewe of onseker vooruitsig oor die toekoms van die bedryf gereageer. Slegs 8,6% het aangedui dat hulle pessimisties is en 3,7% dat hulle verskriklik pessimisties is.

Sowat 43,3% het onsekerheid oor die toekoms aangedui; 30,7% het gesê hulle is redelik optimisties en 12,8% is verskriklik optimisties.

Met die uitslae wat hoofsaaklik optimisme aandui teen 44% en die meerderheid besigheid-eienaars wat normale vlakke van bespreking teen of voor Kersfees voorspel, kan daar afgelei word dat ’n groot aantal eienaars glo dat die Covid-19-pandemie sal afneem en dat die akkommodasiebedryf gered sal word.

Ten spyte van talle eienaars wat ’n positiewe voorspelling oor die toekoms het, is daar steeds ’n groot aantal eienaars wat onseker oor die toekoms van reis in hulle streek is. Een eienaar van Jeffreysbaai in die Oos-Kaap sê: “Op die oomblik voel dit of ek in niemandsland is en die toekoms is onseker.”

’n Ander eienaar in Modimolle in Limpopo het gesê dat die onsekerheid in die toerisme-industrie ’n direkte uitwerking op die afwesigheid van besprekings het. “As gevolg van die onsekerheid in die toerisme-industrie het ek nog nie enige nuwe besprekings vir Junie/Julie of September tot Desember gehad nie. Ek is gewoonlik teen die tyd al volbespreek.”

Die opname wys dat die enorme impak van die Covid-19-pandemie veroorsaak het dat akkommodasie-eienaars en reisigers onseker oor die toekoms van reis is. Fouché voeg by dat, ten spyte van hoopvolle vooruitsigte oor die toekoms, heers daar steeds onsekerheid by eienaars en potensiële gaste. “Die tekort aan besprekings wat inkom dui op ’n tekort aan selfvertroue by reisigers en dit lei tot groot finansiële onsekerheid vir dié besighede. Ons by LekkeSlaap bly egter positief oor die toekoms van die Suid-Afrikaanse toerismebedryf, maar dit is duidelik dat net sekerheid oor wanneer reis weer toegelaat gaan word tot ’n meer sekere vooruitsig oor die bedryf sal lei.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Oom Hennie Pennie ·

Dit is erg! Ek moes ook my jaarlikse winter vakansie in Limpopo kanseleer omrede daar nie oor grense gereis mag word nie.

Francois ·

Ek is steeds gestrand in die buiteland en moes Junie maand in SA gewees het. Ek het plek bespreek deur lekkerslaap in die Wes Kaap. Dit was voluit betaal. Ek het egter nie my geld teruggevra. Ek het net gevra dat my tyd aanskuif vir wanneer ek wel kan terugkeer as SA eendag hulle grense weer oopmaak

BoerSonderRoer ·

Dit klink regverdig.

Sterkte daar brah. Vet weet hoe jy oorleef en wat dit jou kos. Daai mooi paragrafie op blady 1 van jou paspoort betekn niks nie.

Anel ·

En waar gaan mense geld kry om in elke geval op vakansie te kan gaan? Voel jammer vir al die mense wat nie kan werk nie. Hierdie hele pandemiestorie is heeltemal verkeerd hanteer. Dit het die regering net die hupztoot gegee wat hulle benodig het om die land in ‘n komunistiese staat te verander sonderdat enigiemand beswaar kan maak. Die regering beheer alles. Wie mag sien, waar heen jy mag gaan, wat jy mag doen, ens, ens, ens!

Johan ·

Anel die wat nie saam stem nie is of was nie finansieel benadeel nie d.w.s het hulle volle vergoeding ontvang meestal staatsamptenare.

Nico ·

Ek werk al jare in hierdie bedryf. Op die oomblik is dit geen werk, geen betaling. Dit is heel aanvaarbaar, want hierdie is ‘n klein, maar besonderse besigheid – wonderlike eienaars wat omgee. Sedert die begin van die grendeltydperk tot hede (en beslis tot ver in die toekoms), sal dit so bly – geen inkomste. Baie besighede is gebaseer op buitelandse besoekers – soos in ons geval. Daar is tans geen besprekings of navrae nie. Is daar hulp vir die besigheid of personeel? Nee, ons almal weet hoekom.

BoerSonderRoer ·

Ek weet nie hoekom nie.

Is dat dalk omdat #WhiteBusinessDontMatter ?

Barbara ·

My hart gaan vir al die toerisme besighede uit sowel as die haarkapsters. Dalk as Desember oop is kyk na jul pryse. Gewoontlik is Desember onbekostigbaar vir ons gewone Suid Afrikaners, al is dit al tyd wat ons kan weggaan, ons kan nie ń twee weke vakansie Desember bekostig so ons gaan dan deur die jaar ń naweek hier en daar binne seisoen in ons provinsie weg. Ons wil graag die kinders en kleinkinders Wes Kaap toe neem maar dis te duur Desember maande.

BoerSonderRoer ·

Met hoe die SA regering oornag beleid verander sonder enige wetenskaplike feite sal geen reg denke buitelander SA laat oorweeg vir toerisme nie.

Sterkte aan almal in die toerisme beryf. Hulle gaan dit baie nodig he.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.