Lelies kan jou kat bokveld toe stuur

Max met stuifmeel op sy pels (Foto: Faculty of Veterinary Science, Onderstepoort, Facebook)

Hoewel lelies pragblomme is wat in meeste tuine pronk, kan dit dodelik wees vir katte. Só het ʼn katliefhebber van Johannesburg onlangs met ʼn skok uitgevind toe sy met haar geliefde kietsie veearts toe moes jaag nadat hy water gedrink het uit die blompot waarin daar lelies was. Sy het by Onderstepoort se Veterinêre Akademiese Hospitaal in Pretoria om hulp aangeklop, wat toe bevestig het dat lelies uiteraard baie giftig vir katte kan wees.

Die hospitaal het op sy Facebook-blad gedeel dat Elizabeth Pretorius se kat, Max, geneig was om water uit haar blomvase te drink en in die proses homself met die lelies se stuifmeel besmeer het. ʼn Vriendin het een dag by Pretorius gekuier en gesien dat Max water uit die vaas drink. Sy het haar ingelig oor die risiko’s wat lelies vir katte kan inhou.

“Een van haar kliënte se katjies het by die dood omgedraai nadat dié kat só met lelies in kontak gekom het,” het Pretorius vertel.

Pretorius het vir Max veearts toe gevat, waar hulle nierfunksietoetse gedoen en hom vir twee dae op ʼn drup gesit het. Die voorval het Elizabeth ook aangemoedig om raad van kundiges te kry en só kat-eienaars bewus te maak van die gevare wat lelies vir katte inhou.

Dr. Liesel van der Merwe, senior lektor en veearts by Onderstepoort se Veterinêre Akademiese Hospitaal, het bevestig dat meeste leliesoorte ʼn kat se dood kan beteken. Sy sê alle dele van die plant is giftig vir katte – waaronder die blomblare, die blare, die stuifmeel en die water waarin die lelies lê. Die blomblare word as die giftigste deel van die blom beskou.

Volgens Van der Merwe veroorsaak die gifstowwe in lelies nierversaking by katte. Wanneer dit eindelik ontdek word, is dit gewoonlik te laat. “Daarom is dit belangrik dat kat-eienaars eerder so gou as moontlik by ʼn veearts aanklop indien hy of sy vermoed dat die kat met ʼn lelie in aanraking gekom het,” sê Van der Merwe.

“Katte is baie nuuskierig en knibbel graag aan plante. Hulle is ook geneig om ʼn nuwe bos blomme te ondersoek en sodoende stuifmeel op hul pelse te kry. Wanneer hulle hulself was, neem hulle dan daardie stuifmeel in.

“Slegs ʼn klein hoeveelheid van dié gifstowwe is nodig om groot skade aan te rig.”

‘n Foto van ‘n lelie (Foto: Faculty of Veterinary Science, Onderstepoort, Facebook)

Volgens Van der Merwe kan die eerste teken van vergiftiging binne 12 tot 24 uur nadat die kat die gif ingekry het, waargeneem word.

“Kliniese tekens is meestal nie-spesifiek, byvoorbeeld ʼn tekort aan energie, naarheid en geen eetlus. As jy gelukkig is, kan jy dalk plantmateriaal in die braaksel sien, wat die diagnose kan help.”

Tekens van nierversaking sal binne 36 -72 uur ná inname ontwikkel. Dit sluit aanvanklik verhoogde waterinname en urinering in, wat later lei tot ʼn gebrek aan urinering as gevolg van akute nierversaking. Sulke katte sal ook ander simptome begin toon, soos kwyl, klageluide, bewerasies en stuipe.

Van der Merwe sê ʼn vroeë diagnose van nierskade is van kardinale belang om sodoende die nier te kan red.

“Die probleem met nierskade is dat daar baie ‘spaarniere’ is om die werk te kan doen totdat daar regtig min normale funksionerende weefsel oor is. Daarom kan ons ʼn nier skenk. ʼn Opbou van afvalstowwe in die bloed vind eers plaas nadat meer as 75% van die nier beskadig is. Vroeë diagnose is dus noodsaaklik om die skade te stuit. Aangesien die aanvanklike simptome vaag is, is ʼn volledige geskiedenis in hierdie geval noodsaaklik.”

Sy raai kat-eienaars wat vermoed dat hul kat met lelies in aanraking gekom het aan om die plant, of ʼn prentjie daarvan, saam na die dierekliniek of veearts te neem om te help met die diagnose.

In die geval van vroeë diagnose word die kat ʼn middel – wat geaktiveerde houtskool bevat – toegedien wat braking veroorsaak. Daar word ook binneaarse vloeistowwe toegedien om die nier te ondersteun.

“As behandeling binne 18 uur geskied is die kanse goed dat die kat sal oorleef, maar sodra daar nierversaking is, is daar die moontlikheid dat die kat uitgesit moet word.”

Van der Merwe sê indien ʼn kat enige deel van ʼn lelie inkry, moet dit as ʼn noodgeval hanteer en aggressief voorkomend bestuur word. “Sodra daar duidelike kliniese tekens voorkom, is dit te laat vir herstel.”

“Indien jou kat reeds tekens van vergiftiging toon, is hospitalisering nodig.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.