Lente voorafgegaan deur diep sneeu

Jaco van den Berg het dié foto’s op sy plaas in die Murraysburg-omgewing in die Wes-Kaap geneem.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) het sneeu van tot soveel as 20 cm diep in dele van die Noord-Kaap en die Wes-Kaap vir die komende naweek voorspel.

Die weerdiens het reeds voorspel dat ʼn kouefront die Wes-Kaap Donderdag sal tref en bittere koue, sneeu en beduidende reënval tot gevolg sal hê. Dié weerstelsel sal teen Vrydagmiddag na die Oos-Kaap en die sentrale binneland beweeg en KwaZulu-Natal teen Saterdag tref.

Volgens Hannelee Doubell, woordvoerder van die weerdiens, kan sneeu van 5 cm tot 10 cm van Vrydag af oor die hoogliggende gebiede van die Wes-Kaap sowel as die hoogliggende gebiede in die westelike en suidelike dele van die Noord-Kaap verwag word. Sneeuval van 10 cm tot 20 cm word ook in die suidwestelike dele van die Noord-Kaap (insluitend die Nuweveld- en Roggeveldberge) sowel as die Cederberg- en Hexrivierberge van die Wes-Kaap voorspel.

Sneeu sal na verwagting Vrydagaand ook in die hoogliggende gebiede in die westelike en sentrale dele van die Oos-Kaap (Sneeuberge en Winterberge) val. Die sneeu sal teen Saterdag na die hoogliggende gebiede in die suidwestelike en westelike dele van KwaZulu-Natal en die Drakensberg-streek uitbrei.

Die weerdiens waarsku ook dat sommige bergpasse in genoemde gebiede moontlik weens sneeu onbegaanbaar kan wees en dat dit tot verkeersontwrigtings kan lei.

Maroela Media het vroeër berig wydverspreide reën word van Donderdagmiddag in die westelike gedeeltes van die Wes-Kaap verwag en dit sal oornag na die westelike en suidelike gedeeltes van die Noord-Kaap uitbrei.

Reën van 20 mm tot 30 mm word verwag met selfs swaarder reën – 40 mm tot 50 mm – wat oor die Suidwes-Kaap voorspel word.

Die kouefront word voorafgegaan deur sterk wind van 40 km/h tot 60 km/h in die binneland, met rukwinde wat op hoofroetes, veral oor die binneland van die Wes-Kaap, die Oos-Kaapse binneland, die Noord-Kaap, westelike Vrystaat en westelike gedeeltes van Noordwes kan voorkom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Casper ·

Ja en weereens kry ons hier in Mpumalanga net die koue.Ek word al 63 en ek het nog net 3 keer sneeu gesien.Die Kaap kan vir ons gerus sneeu stuur.Die beste ding in die Kaap is die pad terug TRANSVAAL toe

Swerwer ·

Mag hierdie koue die laaste stuip trekkings voor die lente wees.

Elinette ·

Man, ja – ons hier in die Noord Boland wag nou nog vir daardie VREESLIKE storms waarteen ons gewaarsku was. Dit het lekker gesneeu, bietjie gereën en is nogal lekker koud vir laat-Augustus, maar daai VREESLIKE storms het toe die hasepad gekies toe hulle oor Du Toitskloof kom en sien, hier – sowaar! – lê Die Ou Vetkol (Worcester) voor …

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.