Lentedag bring koue, wind en reënweer

Dik reënwolke hang oor Mouillepunt in Kaapstad. (Foto: Ros Silke/Twitter)

Die lente is hier, maar moet maar nog nie dadelik die wintersklere wegpak nie.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens sê ʼn laedrukstelsel veroorsaak winderige en koue toestande oor groot dele van die land en kan reën – en plek-plek selfs donderstorms – veroorsaak.

Die weerdiens sê ʼn laedrukstelsel wat suidwes van die land ontstaan het, het verspreide buie en donderbuie in die sentrale en suidelike gedeeltes van die land veroorsaak. Dié gebiede sluit in die Wes-Kaap, Noord-Kaap, westelike gedeeltes van Noordwes, die Vrystaat en die Oos-Kaap.

Kwaai storms word Dinsdagaand plek-plek verwag en daar is ʼn moontlikheid van wind en selfs hael.

Sterk wind word oor die meeste gebiede van die sentrale binneland verwag en veral in Noordwes, die Vrystaat en die Kaapprovinsies. Die weerdiens waarsku teen ʼn moontlike brandgevaar oor die westelike gedeeltes van Noordwes, die oostelike binneland van die Noord-Kaap, asook die westelike en sentrale gedeeltes van die Vrystaat.

(Grafiek: SA Weerdiens)

Sterk suidoostelike tot oostelike wind sal stormsterkte (65-70km/h) vanaf Tafelbaai en al langs die suidelike kusgebiede tot by Port Alfred bereik.

Rowwe seetoestande kan verwag word.

Woensdag kan die suidwestelike gedeeltes van die land swaar reën verwag en die weerdiens waarsku teen moontlike oorstromings in die Kaapstadse metropool, die Overberg en gebiede in die Kaapse Wynland.

Winderige toestande gaan oor die grootste gedeeltes van die Kaapprovinsies, die Vrystaat en Noordwes voortduur. Stormsterkwind kan ook steeds langs die kus verwag word en later deur die dag bedaar.

Die weerdiens sê die stelsel sal na verwagting teen Donderdag wyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.