Leon Schuster se ma sterf op 100

Leon Schuster (70) by sy ma, Jessica (100). (Foto: Facebook / Leon Schuster / Ruhan Stokkies Swanepoel)

Die komediant en rolprentmaker Leon Schuster was Sondag aan sy ma, Jessica, se sy toe sy haar laaste asem in die ouderdom van 100 uitgeblaas het.

Schuster het Dinsdag aan Maroela Media gesê sy ma se gesondheid het in die week voor haar dood skielik agteruitgegaan en haar organe het een vir een ingegee.

Jessica is by haar woonstel in die Westerbloem-aftreeoord in Bloemfontein in die Vrystaat oorlede.

Schuster se broer, Johann, en enkele ander geliefdes was ook ten tyde van haar afsterwe teenwoordig.

“Toe ons haar 100ste verjaardag op 28 Februarie gevier het, was sy nog springlewendig. En sy het so mooi gelyk daai dag.

“Sy was regtig ʼn baie mooi vrou. Ek het altyd vir haar gesê dis net die ouderdom wat teen haar tel om dalk nou weer ʼn man te kry, want sy is nog steeds só mooi,” skerts hy.

Schuster sê hy het die afgelope paar dae “emmers vol trane” langs sy ma se bed gehuil.

“Sy het swaargekry in die week voor haar dood. Die grootste hartseer in die lewe is om te sien dat jou ouer vir wie jy ontsettend lief is deur ʼn moeilike tyd gaan.

“Maar sy wou ook nie meer lewe nie. Sy het dikwels vir my gesê ‘Boetie, ek wil nou na die Here toe gaan’.”

Schuster sê hy is werklik dankbaar dat die Here sy ma so lank gespaar het. Haar rype ouderdom maak dit egter nie makliker om haar dood te verwerk nie.

“Inteendeel, dit maak dit erger. Ek word 71, wat beteken dat sy vir 71 jaar ʼn integrale deel van my lewe was.

“Ons was baie na aan mekaar. En hoe ouer sy geword het, hoe meer beskermend het ek teenoor haar geword en hoe meer het ek haar opgepas. Ek het my bes gedoen om aan haar die vreugde van die lewe te gee – ek het haar saam met my met vakansie geneem en ons het gereeld gekuier. Ek is dankbaar dat ek nie vandag met spyt sit dat ek haar nie gekoester het nie.

“Ek het baie vir haar gesê ‘Jissie, Ma, ek gaan bitter baie oor jou huil wanneer jy doodgaan’.”

Schuster onthou sy ma, ʼn voormalige verpleegster, vir die goeie mens wat sy was, asook haar uitnemende skryftalent.

“Sy was ʼn ongelooflike skrywer – van stories en liedjies,” sê Schuster, wat hoop om van sy ma se skryfwerk nog in ʼn bundel saam te bind.

ʼn Private gedenkdiens sal Dinsdag vir Jessica se naaste geliefdes by die aftreeoord gehou word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Witwax ·

Sy was geseend om 100 jaar oud te word, baie sterkte daar vir jou Leon en jou familie.

Trotse Boervrou ·

Jammer oor jou groot verlies Leon. Baie sterkte met die pad vorentoe. Soveel respek vir jou omdat jy jou ma met soveel liefde en eer hanteer het. Jy het voorwaar niks om oor spyt te wees nie. Mag sy in vrede rus.

Vanessa ·

Ek weet presies hoe jy voel. My mammie was ook 10 dae voor haar dood nog 100%, sy sou nou 90 jaar oud geword het, sy was opgeneem omrede sy opgegooi het en daarna het die een ding na die ander gely en toe het sy gesterf, dit voel nou nog onwerklik. Dis baie seer!!!!!

Marcello ·

Leon, onthou jy is baie geseënd om haar tot op jou ouderdom te gehad het, ek weet dit maak dit nie makliker nie. Maar elke dag wens ek, ek kon my ou Moeder net so ‘n bietjie langer gehad het, ek was 11 jr oud, toe ek my Vader verloor het, en 32jr toe ek my Moeder aan die dood moes afstaan. Sterkte vir jou en jou familie, die seer bly maar daar, sommige dae is dit net makliker en sommige dae is dit moeiliker.

Madeleine ·

Huil ek nou.
So geseend.
Seker ook al haar seun se grappie geniet.

Misky ·

Sjoe Leon, deur jou omskrywings kan ek hoor hoe lief jy jou ma gehad het. My hart gaan uit na jou en in die moeilike tyd. Dit was ‘n ryp ouderdom en julle het goeie jare saam gehad. Simpatie aan die hele familie en naasbestaandes.

Faraway ·

Eer jou Vader en jou Moeder sodat dit met jou goed mag gaan in die land wat die HERE jou GOD aan jou gee . . . Deut 5:16

koos ·

Dis deedae selde dat kinders hulle ouers nog eer, ek haal my hoed af vir jou Leon. Jammer oor julle verlies, veral omdat sy ‘n nurse was. Ek is met ‘n nurse getroud – sulke mense gaan reguit Hemel toe want hulle het klaar hel op aarde gehad gedurende hulle beroep.

Papsak ·

Sterkte Leon jy was bevooreg om jou moeder solank by jou te kon he sy pragtige ouderdom behaal mens vergeet hulle nooit nie stort jou hart uit en jy sal beter voel sterkte vir jou broer ook Die Here n mooi engel gevat maar hy het haar terug geroep huis toe ons almal net geleen sterkte

Casper ·

Moedertjie my pappa hart is saam met Leon seer oor mamma se vertrek na ons hemelse vader se woning waar daar geen pyn of dors of honger is nie.Ek het ook ouers verloor en dit is nie lekker nie.

JohanR ·

Sterkte aan jou en familie Leon. My Ma is 92 en ek vrees die dag dat daai oproep kom.

Darts girl ·

Leon baie sterkste aan jou en jou familie in hierdie moeilike tyd

koei ·

Sterkte aan die familie en vriende……………..maar sy het n baie vol lewe gehad. Min mense word 100.

Karina ·

My innige simpatie aan jou en jou familie en vriende met die afsterwe van jou Moeder Leon. Om ‘n ouer te verloor is baie seer. Jy was so bevoorreg om haar so lank by jou te hê. Sterkte verder.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.