Lephalale-plaasmoord: Bejaarde vrou op plaas vermoor

Argieffoto: Reint Dykema

Argieffoto: Reint Dykema

Die liggaam van Susan Kotze (75) is Dinsdag in haar plaashuis naby Lephalale (Ellisras) aangetref nadat sy glo verwurg is.

Kol. Ronel Otto, provinsiale polisiewoordvoerder van Limpopo, het Woensdag aan Maroela Media gesê inligting oor haar moord is nog skaars, en dit is nog nie duidelik wanneer presies sy vermoor is nie. “Die vrou het alleen op die plaas gewoon,” het Otto gesê. “Na wat verneem word, is daar geen selfoonopvangs in die gebied nie en die inwoners van die omgewing is met ʼn radionetwerk aan mekaar verbind.”

Familielede het begin bekommerd raak nadat hulle sedert Maandagaand en Dinsdagoggend nie met Kotze in verbinding kon tree nie. Hulle het die polisie ontbied en later die dag op haar liggaam afgekom. Sy het geen sigbare wonde opgedoen nie, maar ʼn stuk draad was om haar nek en die polisie vermoed dat sy moontlik verwurg is. “ʼn Nadoodse ondersoek sal bepaal hoe en wanneer sy vermoor is,” het Otto gesê.

Dit is in die stadium nie bekend hoeveel verdagtes by die aanval betrokke was nie. Daar is reeds bevestig dat twee selfone en Kotze se Ford Bantam-bakkie vermis word. Verdere ondersoek sal bepaal of nog items uit haar huis vermis word.

Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie. Die polisie ondersoek ʼn saak van moord en huisbraak.

Die polisie en boere van die omgewing was Woensdag weer op die toneel om dit te fynkam vir verdere leidrade. Spoorsnyers is ook na die gebied ontplooi om te help soek na die verdagtes.

Lees die opvolgberig hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

anet ·

Dit is so hartseer om te lees van nog ‘n plaasaanval
Sterkte aan Susan se familie, ons bid vir julle, en weet ook dat ons saam met julle hartseer is

Frikkie ·

Dit maak my boos as hulle net die sagte teikens uitkies. Hulle is besig om ons land se boere een vir een uit te wis. Waar is die buitleand nou.

Drieks ·

Dankie dat ons op mekaar se skouers kan huil. Immers verstaan ons mekaar se hartseer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.