Lephalale-plaasmoord: Oud-polisievrou glo met bloudraad verwurg

Susan Kotze. Foto: Verskaf

Susan Kotze. Foto: Verskaf

Susan Kotze, die 75-jarige vrou wat vermoedelik Maandag in haar plaashuis in Lephalale (Ellisras) vermoor is, was ʼn geliefde vrou van die gemeenskap wat nooit stilgesit het nie.

“Haar hande het vir niks krom gestaan nie. Sy was onder meer ʼn kranige kok en as sy klaar kosgemaak het, sou sy sommer die erf invaar en die gras sny,” het Douw Pelser, Kotze se ouderling in die Gereformeerde kerk en ʼn familievriend, Woensdag aan Maroela Media gesê.

Kotze se liggaam is Dinsdagaand in haar plaashuis, waar sy alleen gebly het, aangetref. Sy het geen sigbare wonde opgedoen nie. Daar was ʼn stuk bloudraad om haar nek en die vermoede bestaan dat sy verwurg is.

Kotze se ouers was van die eerste boere wat sedert Ellisras se beginjare in die gebied geboer het, en sy het amper haar hele lewe daar deurgebring.

“Sy het ʼn ruk lank die gebied verlaat toe sy getrou het, waartydens sy in die polisiediens gewerk het. Ná haar man se dood het sy teruggekeer. Sy het tot verlede jaar nog self met beeste boer geboer. Daar was niks wat sy nie kon doen nie. As sy nie by ʼn Dopperfees uitgehelp of kos gemaak het nie, het sy by die kleuterskool uitgehelp. Sy was ʼn baie bedrywige en sagmoedige mens.”

Pelser, ook die voorsitter van die GPF se Elliston-streek, se pa Becker, en Kotze was goeie vriende. Kotze het sleutels van haar huis gehad, en was ook saam met die polisie toe hulle op haar liggaam afgekom het.

“Daar is geen selfoonopvangs op haar plaas nie. Sy was op die radiostelsel en het daagliks deelgeneem as daar ingeroep word. Sy het Maandagaand 18:30 nie ingeroep nie, en ons het vermoed haar radio se battery is pap. Sy het geen krag op haar plaas nie, en gebruik slegs sonpanele. Toe sy Dinsdagoggend weer nie inroep nie het ons onraad vermoed en gaan ondersoek instel.”

Kol. Ronel Otto, provinsiale polisiewoordvoerder van Limpopo, het vroeër aan Maroela Media gesê dit is in die stadium nie bekend hoeveel verdagtes by die aanval betrokke was nie. Daar is reeds bevestig dat twee selfone en Kotze se Ford Bantam-bakkie vermis word. Verdere ondersoek sal bepaal of nog items uit haar huis vermis word.

Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie. Die polisie ondersoek ʼn saak van moord en huisbraak.

Volgens Pelser is die GPF en die polisie warm op die spoor van ʼn verdagte.

Kotze laat twee dogters en ʼn seun agter. Hulle het oor die feesgety nog tot Vrydag toe by haar op die plaas gekuier.

Haar begrafnisreëlings is nog nie getref nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Marietjie van der Spuy ·

Voorwaar was tannie Susan ‘n tannie wat nooit stil gesit net nie…Sy was altyd bedrywig! Sterk soos haar beeste en altyd op ‘n drafstappie. As jy sien dan is sy doennig…van beeste tot koekies bak. Tannie ons sal jou voorwaar mis. Sterkte vir Kobus, Riana en Marinda (my vriendin) en al die skoonkinders en kleinkinders en agterklein kind. Julle kan sterk wees in die feit dat julle ma ‘n sterk vrou was! Ons harte gaan uit na julle in die moeilike, hartseer, vol vrae en onsekerheid tyd!

Gelowige ·

Ja dis hartseer, ons het die tannie geken en lekker op plaas gekuier. Ons moet aanhou bid vir ‘n ingrype van God om die barbaarse regering te verwyder. Wanneer gaan ons as Afrikaners en Christene begin saambid en saamstaan teen hierdie bose aanslag teen ons volk?

boer ·

Hierdie is taktiek van teroriste, sagte en maklikke teikens.
Die barbare word aangese om te doen wat hulle doen,deur iemand, dis wat ek dink.

Maak die boere bang sodat hulle padgee van hul plase af,dan kan hulle dit mos vat,
soos Malema vir hulle voorse?

genoegisnoublerriegenoeg ·

RIV Tannie Susan. Wens hierdie useless regering kan ‘n plan begin maak….. maar ja wat praat ek??? Hopeloos te veel gevra van ‘n useless, korrup, onbevoegde, skelm spul.

Sannie ·

Hoekom word so ‘n woord soos “pra” gebruik as dit nie bestaan nie. Ek is seker baie mense is glad nie beindruk daarmee nie.

victor adendorff ·

Vermoedelik vermoor??? So, die joernalis glo dat die Tannie het die draad self om haar nek gedraai tot sy dood is? Wat rook jy?

Linda Du Plessis ·

Innige simpatie met die familie, mag geregtigheid seevier, en mag God ons beskerm teen die ondier rondom ons

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.